Covid-19: Vlak 3 teen einde Mei ingestel

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand tydens ʼn toespraak gesê die grootste deel van die land sal teen einde Mei na koronavirus-vlak 3 beweeg.

Ramaphosa het byna drie weke gelede die land, wat weens die Covid-19-pandemie en die ekonomiese uitwerking daarvan bykans op sy knieë gedwing is, toegespreek. Die president se toespraak volg op ʼn rits vergaderings met die kabinet en die nasionale koronavirus-bevelraad.

Hy het verwys na die verskillende vlakke waarvolgens beweging en ekonomiese aktiwiteit bestuur word om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. Die president het tydens ʼn vorige toespraak verduidelik dat vyf koronavirus-vlakke ingestel sal word as deel van die gewysigde risikostrategie.

Tydens vlak 5 is drastiese maatreëls ingestel om die verspreiding van die virus te bekamp. Tydens vlak 4, wat op 1 Mei 2020 in werking getree het, is sommige aktiwiteit toegelaat onderworpe aan uiterste voorsorgmaatreëls om gemeenskapsoordrag en uitbrekings te beperk. Vlak 3 bepaal dat verdere maatreëls opgehef kan word.

Die president het ook in daardie stadium verduidelik dat daar ʼn nasionale vlak sal wees met afsonderlike vlakke vir elke provinsie, distrik en metro in die land, om die pandemie so presies en doelgemaak as moontlik te bestuur.

Verskillende vlakke vir verskillende dele van die land

Pres. Ramaphosa het gesê vlak 3 sal vanaf einde Mei in die grootste deel van die land ingestel word, maar ander vlakke kan in gebiede ingestel word waar die risiko vir verspreiding hoër is. “Dit sal bepaal word volgens die koers van besmetting in ʼn gebied en die stand van gereedheid en kapasiteit van die gesondheidsfasiliteite om besmette persone te behandel.

“In hierdie stadium is die besmettings nog hoofsaaklik beperk tot ʼn paar munisipaliteite en distrikte in die land. Dit is baie belangrik dat ons streng beperkings in dié gebied handhaaf en reis uit dié dele beperk.”

Veranderinge aan vlak 4

Ramaphosa het gesê ʼn konsultasiegesprek met die betrokke belanghebbendes sal dadelik begin en verdere aankondigings oor sekere veranderinge aan die vlak 4-riglyne sal ook aangekondig word om besigheidsaktiwiteit uit te brei in die kleinhandel, e-handel en om beperkings op oefeninge te verminder.

Statistieke bekend gemaak

Die president het gesê 12 074 gevalle is tot dusver bevestig met 219 sterfgevalle. Minstens 4 745 persone het reeds herstel.

“Indien ons nie so vinnig die algehele landswye afsondering ingestel het nie, wys vooruitskattings dat ons in hierdie stadium reeds minstens 80 000 besmette persone in die land sou hê, en die sterfgevalle sou minstens agt keer hoër gewees het,” het hy verduidelik.

Hy het verwys na die vordering van die siekte in die VSA waar 22 000 sterftes reeds aangemeld is en 19 000 sterftes in die Verenigde Koninkryk.

“Ons moet in gedagte hou dat die doel van die afsonderingsperiode was om die verspreiding van die virus te vertraag en ʼn skielike toename in besmettings te voorkom. Ons was tot dusver suksesvol in die manier hoe Suid-Afrikaners reageer het. Die persentasie gevalle uit alle toetse wat gedoen word, bly laag en stabiel.”

Die president het gesê die vlak van bevestigde besmettings in Suid-Afrika is ongeveer 181 persone per miljoen mense van die bevolking. “In teenstelling het lande soos die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk, Spanje, Italië en Singapoer tussen 2 400 en 4 600 gevalle per miljoen mense.”

Die president het gesê deur die koers van verspreiding van die virus te beperk, kon die gesondheidstelsel versterk word. “Ons het nou nagenoeg 25 000 bykomende beddens beskikbaar vir kwarantyndoeleindes. Ons kon groot hoeveelhede persoonlike beskermingstoerusting bekom vir gesondheidswerkers, en noodsaaklike mediese toerusting en ander voorraad aanskaf. Ons kon ook ons sifting- en toetsingsprogram beduidend uitbrei.”

Tot dusver is meer as 9 miljoen mense reeds deur ʼn siftingsproses en nagenoeg 370 000 toetse is reeds gedoen.

Ekonomiese verligting

Ramaphosa het ook verwys na die ekonomiese verligtingspakket van meer as R500 miljard wat beskikbaar gemaak is om maatskappye te help wat in nood verkeer, om poste te beskerm en om inkomste te bied aan informele werkers en behoeftige huishoudings.

“Sedert dit ingestel is, het die spesiale Covid-19-verligtingskema van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) reeds meer as R11 miljard uitbetaal aan 2 miljoen werknemers van 160 000 maatskappye. Dit sal maatskappye help om aan die gang te bly en miljoene poste beskerm.

“Die verskeie fondse wat ons ingestel het om klein ondernemings te ondersteun, insluitend inisiatiewe van die departement vir kleinsakeontwikkeling, die departement van toerisme, die nywerheidsontwikkelingskorporasie en die South African Future Trust, het reeds direkte bystand gelewer aan meer as 27 000 ondernemings.

“Die Covid-19-leningwaarborgskema van R200 miljard, wat deur die regering gewaarborg word, het reeds begin om aansoeke van klein- en mediumgrootte ondernemings te verwerk.

“Aan die begin van hierdie maand het die regering ʼn bykomende R5 miljard uitbetaal aan welsynstoelaagbegunstigdes om behoeftige gesinne te help in ʼn tyd waar ander bronne van inkomste ontwrig word. Ons het aansoeke oopgemaak vir die spesiale Covid-19-toelaag van R350 per maand vir werklose Suid-Afrikaners wat geen ander inkomste of bystand van die regering ontvang nie. Ongeveer 3 miljoen Suid-Afrikaners het reeds hiervoor aansoek gedoen.

“Hierdie tydelike maatreëls sal vir ses maande lank in plek bly,” het die president bygevoeg.

Die regering se Solidarity Fund het reeds beloftes van R2,7 miljard ontvang van 175 000 individue en meer as 1 500 maatskappye en stigtings.

Huishoudelike geweld

Ramaphosa het gesê ontstellende berigte van verhoogde vlakke van geslagsgebaseerde geweld is aangemeld sedert die afsonderingsperiode begin het.

“Ons het ʼn nooddiens ingestel waar slagoffers bygestaan kan word. Ons het seker gemaak dat die afsonderingsriglyne op só manier ingestel word dat ʼn vrou haar huis sal kan verlaat om mishandeling aan te meld sonder dat sy beboet of geïntimideer sal word of blootgestel sal word aan verdere geweld.”

Regering se benadering bevraagteken

Die president het gesê sommige persone bevraagteken die regering se benadering in die hantering van die pandemie en of dit gedoen word ten koste van die lewensbestaan van mense.

“Ons strategiese benadering is gebaseer daarop om lewens te red en mense se lewensbestaan te beskerm. Ons doelwit was nog altyd om die besmettingskoers te verlangsaam deur ʼn paar ingrypings. Elkeen van dié maatreëls is noodsaaklik en ononderhandelbaar. Dit is:

  • Algehele afsondering (om uiterste sosiale distansiëring te behaal)
  • Sosiale distansiëring
  • Goeie handhigiëne (was hande gereeld met seep en water of gebruik ʼn ontsmettingsmiddel)
  • Hoes-etiket (hoes in jou elmboog of gebruik ʼn sneesdoekie)
  • Dra ʼn lapmasker wanneer jy in die publiek is
  • Die gebruik van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) deur alle gesondheidswerkers
  • Gereeld skoonmaak van die werksomgewing en ander openbare ruimtes
  • Monitor simptome
  • Toetsing, isolasie, kwarantyn en kontak-opsporing

“As ons hierdie voorkomingsmaatreëls toepas, kan ons die siekte oorkom,” het hy bygevoeg. “Die sukses van ons pogings om die oordrag van die virus te beperk, hang daarvan af dat ons persone so vinnig as moontlik opspoor wat besmet is, dat ons so vinnig as moontlik bepaal met wie hulle in kontak was, en dat hulle geïsoleer word sodat hulle nie ander kan besmet nie.”

Uit die deur-tot-deur siftingsveldtog in weerlose gemeenskappe landswyd is meer as 100 000 persone reeds vir toetsing verwys.

“Ons moet in gedagte hou dat, alhoewel die afsonderingsperiode die koers van besmetting vertraag het, is die koronavirus baie beslis nog steeds met ons, en dit sal nog vir ʼn lang tyd teenwoordig wees. Ons is gewaarsku dat besmettings onafwendbaar sal toeneem sodra afsonderingsmaatreëls verlig word, net soos wat dit in talle ander lande gebeur het. Ons weet ook dat die koronavirus nog vir ʼn lang tyd ʼn wêreldwye bedreiging gaan bly en dat die stryd teen Covid-19 deel gaan wees van ons daaglikse lewens. Ons sukses om die koronavirus te oorkom, gaan uiteindelik bepaal word deur die veranderinge wat ons in ons gedrag aanbring.”

Oor foute, teenstrydighede

“In ruil vir alles wat ons van julle vra, is daar ʼn paar fundamentele dinge wat julle van ons, julle leiers, vra. En dit is dat ons moet erken dat daar ʼn paar keer was wat ons nie aan verwagtinge voldoen het nie. Sommige aksies was onduidelik, daar was teenstrydighede, en sommiges was nie goed verduidelik nie.

“Implementering was met tye stadig en wetstoepassing was soms teenstrydig en te streng.

“Ek wil vanaand weer my toewyding opnuut bevestig en die toewyding van die regering wat ek lei dat ons alles sal doen wat nodig is om die lewens, menswaardigheid en belange van Suid-Afrikaners te beskerm.

“Toe ek laas met julle gepraat het, het ek gesê dat ons binnekort die derde fase sal betree van ons ekonomiese reaksie op die koronavirus-krisis deur ʼn duidelike strategie voor te lê vir ekonomiese herstel. Die kabinet is besig met dié kwessie en dit sal aangekondig word sodra die werk afgehandel is.

“Ons is toegewyd en doelgerig:

  • om seker te maak dat alle regeringsbesluite ter goeder trou geneem sal word, dat dit redelik sal wees en gebaseer sal wees op empiriese bewyse en dat dit nie meer skade sal veroorsaak as goed nie;
  • om deursigtig te wees, om die land in ons vertroue te neem en dit gereeld te doen;
  • om deurlopend openlik te wees oor die stand van die pandemie. Julle wil weet wanneer dit sleg gaan en julle wil hoor wanneer dit erger kan word;
  • om deurlopend met julle in gesprek te tree en julle te konsulteer;
  • om seker te maak dat elke hulpbron tot ons beskikking gemobiliseer word om die mees kwesbare persone by te staan en diegene wat dit die nodigste het, te ondersteun; en
  • om seker te maak dat die finansies wat vir ons koronavirus-reaksie geoormerk is, nie gemors word nie en nie gesteel word nie.

“Bo alles onderneem ek opnuut om seker te maak dat julle regte gerespekteer word, veral deur diegene wat met hierdie verantwoordelikheid toevertroud is. As julle president, as hierdie regering, is ons toegewyd om te voldoen aan die verwagting wat julle van ons het.

“Waar ons teleurgestel het, wil ons steeds daarvoor bly vergoed. Waar ons foute gemaak het, wil ons dit steeds bly regstel.

“Ons kollektiewe probleme die afgelope paar maande het ons meer geleer oor onsself en oor mekaar. Ons het ook baie geleer oor hierdie virus. Alhoewel daar verskille en meningsverskille was, was daar ook goedhartigheid, empatie en deernis. Daar was moed en solidariteit.

“ʼn Ander Suid-Afrika en die wêreld wag vir ons. Die grootste toets sal ons bereidwilligheid vir verandering wees. Laat ons hierdie uitdaging tegemoetgaan. Kom ons staan as een familie en een land en laat ons ʼn nuwe en sterker samelewing bou. Moeilike dae lê voor, maar ons sal ons krag put uit dit wat ons reeds bereik het.

“Ons dink aan die woorde van pres. Nelson Mandela, 20 jaar gelede: In the face of the grave threat posed by HIV/AIDS, we have to rise above our differences and combine our efforts to save our people. History will judge us harshly if we fail to do so now.

“En ek bied graag aan julle die woorde van Franklin Delano Roosevelt, tydens ʼn baie moeilike tyd in die lewe van sy eie land:

The state of this nation is good
The heart of this nation is sound
The spirit of this nation is strong
The faith of this nation is eternal.

“Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.”

 

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

43 Kommentare

henndrik ·

Ek is jammer maar daar is geen deusigtigheid nie en sommige regulasies maak geen sin nie en daar word geen verduidelikings gegee nie

Niklaas ·

Dit klink goed. Een positiewe wending. Mag die virus onder beheer raak in SA. Daar is steeds die dapperes (of dommes) wat hul nie steur aan voorkomende maatreels nie. Daagliks word dit gesien.

Mariys ·

Daar het tans minder mense die Covid-19 GRIEP virus opgedoen as wat vorige jare weens normale griep gesterf het.
Wat is buite beheer?

Bushy ·

En Al die downvotes wat jy kry wys maar net die waarheid maak seer.

Dirk Mostert ·

Het na ‘n tyd afgeskakel om ‘n interessante geskiedenisboek te lees.

Marius ·

O ja voor ek vergeet kan iemand asb vir hom n horlosie gee wat werk sodat hy op tyd kan wees

Mariys ·

Afrika tyd: wanneer die president opdaag is dit 2oh30 sharp!
(Vir die wat nog nie afrika tyd verstaan nie.)

Rosie ·

Nou word daar niks gepraat van al die reels wat sy kabinets lede uitdrink en sommer toepas nie soos byvoorbeeld die kospakkies wat nie versprei mag word onder arm blankes nie. Die stupid reels oor watter klere jy mag aantrek. Waar kom jou regte dan hierin? Jy kan tog self besluit vir wie wil jy kos gee en wat wil jy aantrek.

Snowball ·

WAT SÊ DIE MENS NOU EINTLIK?
Baie gebrabbel, weinig inligting of details van die verslapping van die maatreëls wat ons lewens tans versuur.
Ag nee wat, hierdie was so niksseggend dis lagwekkend; sy blinkgepoetste beeld van Maart is nou nog net ‘n dowwe kol.

Tienie ·

Gebrabbel het hy gebrabbel.

Vreeslik baie gepraat en net mooi niks gesê nie…

DieKriek ·

Die hemel weet, hy haal Pres Rooseveld aan en dis nie eens van toepassing nie. Sy land is ten gronde! Ék het geen woorde nie, ek is in rou.

Kanjynoumeer ·

Solank ons rëels nakom sal ons vinniger deur die vlakke gaan. Wat belangrik is, is dat na verslapping van elke vlak om nog steeds rëels na te kom. Die voorstel van die klere deur minister Patel is uiters belaglik.

Alleen Wolf ·

BLAH. BLAH. BOLLIE, In watter droom wêreld leef hierdie mense, C.R. is nog steeds besig om vir homself en ons te lieg en die ergste is hy glo homself, Hy en sy kaders het nie ‘n benul van wat nodig is om hierdie land se ekonomie enigsins van hulp te wees nie, ja hy het klaar sy myne gered en nou gaan hy as troosprys vir sy “People” help, wat ook nie regte hulp is nie, dis lenings wat terug betaal moet word, en te hel met die blankes wat hierdie land tot nou toe gedra ondanks die geplunder van die ANC en sy pêlle.
“Slowly slowly catch a monkey” lockdown vir 21 dae, toe verleng met 14dae en nou soos ek dit lees minstens einde September en hy wil ons paai met die belofte van vlak 3 aan die einde van Mei wat weinig gaan verskil van vlak 5 soos ek hulle ken en ook net vir sekere streke.
TYD DAT ONS BLANKES BEGIN SAAMSTAAN EN HULLE WARM PLEK TOE STUUR.

Kalla ·

Hierdie toespraak het ons absoluut niks meer wys gemaak nie. Ons het iets nodig om ons gemoed te lig!

Andre ·

Geelukkig mors ek nie meer my tyd om te wil sien wat hulle sê wanneer hulle eindelik dit sê nie.

Maritha ·

Hy het mos gese daar gaan nou binnekort aangekondig word wat aangekondig moet word van die aankondiging. En dat daar voorheen nie duidelike aankondigings gemaak is nie, so nou kondig hy aan dat sommige streke aankondigings sal kry en dat binnekort aangekondig sal word wat di aankondiging sal wees. Ek glo daar is nou meer duidelikheid oor niks

Fedup ·

No cyril. As i read this article, i see your handlers, is just as clueless as you. And you will never use God for your games. We are fedup with all of you and your childish rules. 80 000 lives saved? Really i dont think so. And please, do not get me started on the money issue you all are so fond off.

Alleen Wolf ·

80 000, the man can’t count, zero lives have been saved but lot’s have been ruined

Barbara ·

Bla Bla bla Wat het hy eintlik wys gesê wat ons land ekonomies gaan help.NIKS

Anel ·

Klink maar of hy nog steeds niks gesê het nie. Niemand is meer wys as gister hierdie tyd nie. Dink hy ons in is onnosel? Hy het nie ‘n probleem net die duisende wat Vigs het nie, maar teen wie jy nie mag beskerm nie want jy mag nie weet van sy status nie. Net soos die honderde duisende wat met hoogs aansteklike TB besmet is. Verder sou hy die werklike statistiek gee. Niks. Alle sterftes word nou ook aan die virus toe geskryf. Dis lyk my net makliker en hou dink deur die mense paniekerig te hou, kan hy ons beheer. Wel ek het nuus vir hom. Die virus het my nog nooit paniekerig gehad nie. Die ekonomie wel. Mense gaan begin doodgaan van honger. Mense wat nie werk het nie gaan begin selfmoord pleeg enander misdade. Hier kom groot probleme. En moenie dink die dra van maskers doen iets goed nie. Dis nog meer skadelik. Jy asem vuil asem oor en oor in en jy word nie aan sogenaamde gesonde kieme blootgestel nie. Dink aan die gevolge. En so kan ek aangaan. LIG DIE BEPERKINGS DAT DIE LAND KAN LEWE

Kobus ·

Ja Anel, ek onthou goed hoe jy n maand gelede kommentaar gelewer het oor hoe “lekker vinnig” die virus in die Noordelike halfrond versprei omdat so koud is en hoe SA nooit dieselfde sal ervaar nie – hoe as jy dit wel opdoen, dit soos n verkoue is en jy dit net kan “uitsweet deur 2/3 dae in die bed te bly”. Dankie tog jy is nie die minister van gesond heid of the president van n land nie. Jou our refrein van “alle sterftes word nou ook aan die virus toegeskryf” is nie alleen vals nie, maar raak ook nou afgesaag.

koos10 ·

Ek het meer iets verwag soos:
I had reprimanded NDZ for overuling my orders.
I had reprimanded Patel for being stupid.
I had reprimanded Cele for over stepping his powers.
I had reprimanded Lufisi for endangering peoples lives in Gauteng.

MAAR nee, ek het ‘n uur na hom geluister en al wat ek kon wys word is dat ons einde Mei na ‘n laer of hoër vlak kan beweeg, en weereens het hy geen jaar genoem nie. En dat hy geleer het om nie ‘n masker op TV aan te sit nie!

KB ·

CR praat baie, maar sê niks nie. Dis tyd dat hy begin besef hy het nie met kinders te doen nie.
Ons verwag LEIDING, nie LYDING nie!

Kobus ·

Wonder nog steeds of die president toe ‘n 1/3 van sy pay afgestaan het of nie, dis dalk hoekom hy so suur lyk!

Hans ·

Ek het lanklaas so lang storie gehoor wat eintlik niks se nie….. Verstommend

Willem ·

Die mense in ons omgewing is lankal op vlak 3. Cyril kan maar vir ndz luister dit maak nie meer saak nie. Die buitelanders se winkels verkoop alles al mag hul nie oop wees nie. Hier ry mense heeldag fiets en die helfde dra nie maskers nie.

Ben ·

Die 5 biljoen vir behoeftige gesinne???????????
Ek is oortuig daarvan dat ten minste 4 biljoen weggeraak het. En skielik is daar ñ duisend nuwe miljoeners. Die 1 biljoen wat oorgebly het is defnitief vir hulle “pelle” uitgedeel.

Jack ·

Ek het met die wegspring in Maart gedink ons het hier n leier wat ons almal ook wit se belange op die hart het. Die loop van sake en die feit dat hy deur sy tulband tannie oorheers is oor sekere besluite het my nou anders laat kyk. Hy praat mooi en dit klink goed maar die twyfel en geloof in sy leierskap bly maar kwel.

Ansie ·

Hoe meer mense ingeperk word, hoe minder gaan dit werk. Dit gaan uiteindelik net lei tot volslae armoede en dalk ook anargie. Klem moet eerder gelê word op selfbeveiliging en mense moet toegerus word om dit te kan doen. Ons ekonomie en mense kan eenvoudig nie hierdie uitgerekte inperking bekostig nie. En as die regering dink hulle kan hulle mag op hierdie manier op die mense afdwing, wat daar ‘n lelike ontnugtering op hulle. Mnr Ramaphosa moet na mense met verstand, soos Tito Mboweni, luister en nie na mense mense soos me. DZ wat hulle eie agendas het nie.

Dirk Mostert ·

Nie Mboweni nie. Hy wil mos private pensioenfondse ook vir Escom tap, alhoewel private fondse nie deur die Staat (belasting) aangevul gaan word nie. Liewer Trevor Manuel.

Bushy ·

MENSE is so bly om van level 3 te hoor dat hulle breins eenvoudig die 2 weke van vlak 4 wat hulle nog moet trotseer verwelkom. Mental trick, always work without fail.

marius ·

Die ergste is dat mense goedgelowig is en dink dat andere regtig weet wat hulle doen . Dan kom hulle met ‘n skok agter dat die hoogste bome se wortels vlakker sit as die gras polle in die veld . Dis die waarheid .

Emily ·

Jammer ou CR, jy het baie mense se respek verloor. Dan het hy nog die vermetelheid om ons dokters te verneder deur besmettes in te bring. Get a grip, You are ruining our country, The bit that is still left.
Lift your stupid ban.
Ons soek ons Vryheid, jy is nie my ma of pa om my te wil leer, Hoe om hande te was ens. nie.

Alleen Wolf ·

Hierdie voortgesette grendelstaat is niks anders as ” Radikale ekonomiese transformasie” nie

Kobus ·

Ek stem saam Niklaas, ook opgemerk dat baie van die mense of baie dapper is of baie unkundig is – die dapperes moet miskien hul dienste vrywillig aanbied om met Kovid pasiente te gaan werk. Die virus is maar in die begin fase in SA. Die onkundiges, gaan lees gerus die buitelandse media berigte en gaan kyk wat in Europe en N-Amerika gebeur het en steeds gebeur – luister na die dokters en personeel in Kovid hospitale en wat werklik aangaan. Mariys, meer as 300,000 mense is reeds dood aan die verwante virus in net meer as 5 maande en derduisende is in hospitale en meer gaan nog hul lewens verloor – jy dink dit is steeds net n verkoue – soos een “slim leser” dit gestel het – klim in die bed en sweet dit uit vir 2/3 dae. Mense besef eenvoudig nie wat kan gebeur as jy die virus nie ten minste respekteer nie. Ons praat weer oor 4/5 maande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.