Covid-19: Vragskeephouers omskep in lykshuise

(Argieffoto)

Avbob-begrafnisdiens glo dat die begrafnisbedryf oor voldoende kapasiteit beskik om ’n skerp toename in Covid-19-verwante sterftes te kan hanteer. Dié betrokke begrafnisdiens het wel nou vragskeephouers in lykshuise omskep, sou bykomende kapasiteit later nodig wees.

Pieter van der Westhuizen, hoofbestuurder vir begrafnisdienste by Avbob, sê in ʼn verklaring byna 25% van die sterftes wat Avbob teen einde Junie hanteer het, was weens die nuwe koronavirus.

Hy verduidelik egter dat Suid-Afrika nou jaarliks baie minder sterftes beleef as in die middel 2000’s toe die MIV-epidemie destyds sy piek bereik het.

Luidens die verklaring dui die jongste beskikbare sensusdata daarop dat ongeveer 443 000 sterftes in 2016 in Suid-Afrika aangeteken is, wat ongeveer 9 200 per week beloop. Dít vergeleke met ongeveer 620 000 sterftes (ongeveer 12 500 per week) in 2006 toe die vorige sensus gedoen is.

“Op grond van die jongste beskikbare sensussyfers het Suid-Afrika verlede jaar ongeveer 3 300 minder sterftes elke week aangeteken as 15 jaar gelede. Sterftes weens Covid-19 is ook nog ver van die sterftesyfer 15 jaar gelede. Die land het trouens nou eers ’n totale getal van 4 000 sterftes bereik sedert die Covid-19-pandemie die land getref het,” verduidelik Van der Westhuizen.

Die regering voorspel egter dat Covid-19-sterftes teen die einde van die jaar tussen 40 000 en 48 000 kan wees.

Van der Westhuizen gee toe dat die begrafnisbedryf uitdagings gaan beleef wanneer talle sterftes in ʼn kort tydperk aangemeld word. Hy verseker egter dat meer rolspelers in die begrafnisbedryf sedert 2006 die mark betree het en die bedryf dus in staat sal wees om ʼn toeloop in sterftes te hanteer.

Vragskeephouers as lykshuise 

Van der Westhuizen verduidelik dat Avbob wel vragskeephouers in lykshuise by sy fabriek in Bloemfontein in die Vrystaat begin omskep het, sou dit later nodig wees vir bykomende kapasiteit.

Die begrafnisdiens het reeds sewe skeepshouers omskep wat strategies in die Wes-Kaap en die Oos-Kaap geplaas is. Nog vier houers word nou omskep, waarvan drie in Gauteng geplaas sal word om bykomende kapasiteit te bied.

Só ʼn houer neem 10 dae om in ʼn lykshuis omskep te word en kan 30 liggame stoor, verduidelik Van der Westhuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Venter ·

Ja so spreek mense die dood oor Suid Afrika elke dag wanneer begin ons Lewe Spreek elke dag.

Anoniem ·

@Venter, ek stem heelhartig saam met jou kommentaar, die mense spreek inderdaad dood oor Suid-Afrikaners en nie Lewe nie.

Mieke ·

Lyk my ipv om die hospitaal situasie te verbeter en voor te berei (wat lankal moes gebeur het) word daar eerder vir die dooies beplan.

Miskruier ·

So die kans om te sterf aan ander oorsake oortref nog steeds Covid 19. Wat n land! Seker die enigste ter wereld !

Piet ·

Sjoe? Ek dog die ding is nes griep? Waar is die mense wat so grootmond was oor hoe skadeloos die siekte is nou?

Deon ·

Die somme maak nie logies sin nie, 25% covid sterftes? Ek se maar net.

4ntj13 ·

10 C19-sterftes in die VS gister. Mens wonder steeds wat was dit laasjaar en 15 jaar gelede. Steeds staatsgeheime, nes ons kapasiteit. Ten minste weet ons nou dat as als vol word, ons een so houer in 3 dae sal vul in die VS, uit net C19-sterftes.

Mariana ·

Voorspellings vir “moontlike” sterftes. Niemand kan bepaal hoeveel sterftes daar gaan wees weens Covid nie. Plaas daar gekonsentreer word om mense gesond te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.