Covid-19: Vrou sterf weens tekort aan ventilator

Doret Steyn (Foto: Verskaf)

ʼn Man van die Oos-Kaap is verslae nadat sy jonger suster Maandag weens Covid-19 in die Mediclinic in Worcester in die Wes-Kaap oorlede is nadat daar nie vir haar ʼn ventilator beskikbaar was nie. Doret Steyn (in haar 50’s) se familie het dokters ook glo gesmeek om ivermektien, wat glo suksesvol vir die behandeling van Covid-19 aangewend kan word, vir haar toe te dien. Die hospitaal het egter geweier aangesien dié middel nog nie goedgekeur is vir die behandeling van Covid-19 nie en dokters dus in groot moeilikheid kan kom indien hulle dit wel toedien of voorskryf.

Gerhard Janse van Rensburg (59) vertel sy suster, Doret Steyn van Bredasdorp, het presies ʼn week gelede positief vir Covid-19 getoets. Sy het ʼn besoek aan die dokter afgelê nadat sy griepsimptome begin toon het. Die dokter het aanvanklik gesê dat dit slegs griep was, maar die Covid-19-toetsuitslag het ʼn ander verhaal vertel.

“Nadat sy die nuus aan ons gebreek het dat sy positief vir Covid-19 getoets het, het ons dadelik vir haar ivermektien in die hande probeer kry. Sy wou dit nie dadelik begin gebruik nie omdat sy bang was dat sy ʼn allergiese reaksie sou toon,” vertel Janse van Rensburg.

Steyn se man het die aand nadat sy positief getoets het, vir Janse van Rensburg gebel en gesê dat hy ʼn ambulans ontbied het om haar na die Mediclinic in Worcester te neem.

Volgens Janse van Rensburg het die dokters haar op suurstof gesit, maar haar toestand het versleg.

“Sy moes toe op ʼn ventilator geplaas word, maar die hospitaal het nie vir haar een gehad nie. Soos ek van die hospitaal verneem het, het hulle nie genoeg ventilators gehad nie.

“Ek verstaan nie waarom die hospitaal haar nie net na ʼn ander hospitaal sou oorplaas as hulle geweet het daar is ʼn tekort aan ventilators nie. Ek sou self die onkoste van die oorplasing gedek het.”

Janse van Rensburg sê die dokter het boonop volstrek geweier om sy suster ivermektien toe te dien nadat hulle dit aangevra het. Verskeie rolspelers in die mediese bedryf het die regering reeds gevra om dié middel vir die behandeling van Covid-19 goed te keur, maar die regering beweer daar bestaan nie genoeg wetenskaplike bewyse dat dié middel effektief vir die behandeling van die virus aangemeld kan word nie.

Dr. Gerrit de Villiers, algemene groepbestuurder van kliniese prestasie van Mediclinic International, het aan Maroela Media bevestig dat daar in ʼn stadium nie ʼn ventilator vir Steyn beskikbaar was nie.

“Ons kan egter verseker dat Steyn steeds die volledige beskikbare mediese behandeling sowel as ondersteunende sorg ontvang het deur ʼn CPAP-masjien wat suurstof aan die pasiënt verskaf,” sê De Villiers.

De Villiers het ook erken dat familielede versoek het dat Steyn met ivermektien behandel word toe haar toestand verswak het.

Doret saam met haar stiefpa (Foto: Verskaf)

“Die gebruik van hierdie middel is nog nie in Suid-Afrika vir die behandeling van mense goedgekeur nie. Aangesien die verskaffing van hierdie middel onwettig sou wees, is die versoek afgekeur.”

De Villiers het sy medelye aan Steyn se familie en vriende betuig.

Janse van Rensburg vertel hul familie glo dat ivermektien vir die behandeling van Covid-19 help.

“My 84-jarige ma en 93-jarige stiefpa is so twee weke gelede ook met Covid-19 gediagnoseer. Drie dae nadat hulle dié middel aan hul lywe begin smeer het, het hul toestand radikaal verbeter. Waar my stiefpa in die bed gelê en niks vir homself kon doen nie, het hy die vierde dag sedert hy die middel gebruik het, self uit die bed opgestaan, gestort, klere aangetrek en die tuin natgelei.”

Ondanks die feit dat Janse van Rensburg se suster op só ʼn wyse van hulle weggeneem is, glo hy in sy hart dat sy vreedsaam heengegaan het.

“Ek vermoed my suster het geweet dat sy gaan doodgaan. Sy het Desember reeds by al die mense wat in haar lewe saak maak, uitgekom en gekuier. Sy het ook dinge gesê wat daarop dui dat sy nie meer baie tyd op aarde oor het nie.”

Janse van Rensburg sê hy sal sy kleinsus as ʼn sprankelende mens onthou vir wie almal lief was.

“Sy het ʼn borrelende persoonlikheid gehad.”

Steyn was ʼn rekenmeester. Sy en haar man, Mickey Steyn, sou Juniemaand twee jaar getroud gewees het.

Sy word ook oorleef deur haar dogter, Melandri Swart, haar ander broers, Hannes en Gerhard Janse van Rensburg, en suster, Lily Hayes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

35 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Ek verstaan dit nie? Teken dan n “indemnity” vrywarings document? Dis jou keuse, nie die Dr wat jou lewe so kon red se keuse nie.. Polities korrek, komaan mense dis n epidemie.. sterf eerder sonder n ventilator en suurstof, as om iets te probeer, maak mos nie sin nie? Sies Midi-Clinic..

Nici

Verstaan nie hoekom Invermektien nog nie gebruik mag word nie, die regering het almal mos verseker hoe baie hulle omgee vir ons gesondheid en om lewens te red.????

Reze

Die dokters het 100% reg opgetree. Die toedien van Ivermectin IS onwettig. Sou hul dit gee en iets gaan four, dan lees ons weer môre hoe die dokters die dood veroorsaak het. Arme medici kan ook nie wen in vandag se tyd teen die mensdom nie

Lian

Gaan papierwerk ‘n middel effektief maak ?

Gerhard

Die berig hamer meestal net op die ivermektien en die tekort aan ventilator maar daar is heelwat vrae wat ek het: Hoe lank vandat diagnose verkeerd gemaak is todat sy utigevind het dis covid? As diagnose van begin reg was wat sou haar kanse dan gewees het? Is die dokter genader vir hul kant van storie?

Niks gaan ongelukkig haar afsterwe omkeer nie. Baie sterkte aan haar familie.