Covid-19: Vrywilligers spring in om by ouetehuis te help

Die Kosmos-aftreeoord in Standerton in Mpumalanga.

Vrywilligers het onverwyld by ʼn aftreeoord in Standerton in Mpumalanga ingespring om te help nadat werkers weens ʼn arbeidsgeskil midde-in die Covid-19-pandemie hul arbeid onttrek het.

Ds. Riaan Botha, direksievoorsitter van die Kosmos-aftreeoord, het gesê nadat ʼn geval van die nuwe koronavirus die afgelope ruk ook in Standerton aangemeld is, is besluit om die aftreeoord, benewens die staat van afsondering wat landwyd geld, heeltemal te isoleer.

Die oord se bestuur het dus besluit dat alle werkers wat in dié tyd vir diens aanmeld vir die duur van die 21 dae lange staat van afsondering op die perseel moet woon. Die res is op verpligte verlof geplaas.

Botha sê werkers verbonde aan die National Education, Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) was nie hiervoor te vinde nie en wou steeds daagliks tussen die oord en hul blyplekke pendel.

“Ons het protokol ingestel om die bejaardes, wat van die kwesbaarstes is, te beskerm. Ons kon nie die risiko neem dat mense in- en uitloop nie. As net een mens siek is, kan dit noodlottig vir die bejaardes wees.”

Hy sê hulle het ook regsadvies oor die kwessie ingewin.

Botha sê hulle het die kwessie met werkers bespreek en diegene wat wel kon inwoon vir die duur van die isolasietydperk, is geïdentifiseer. Sondag het die werkers egter besluit om hul arbeid te onttrek.

Die verpleegpersoneel en sommige van die kokke meld intussen steeds aan vir diens. Die grootste behoefte is egter onder gesondheidsorgwerkers.

“Ons moes dringend vrywilligers kry, maar hulle moes bereid wees om hier te woon. Dit is boonop ʼn dag se harde werk, ” het Botha vandeesweek gesê.

Nagenoeg 40 van die oord se sowat 140 inwoners is verswakte bejaardes en het hulp met basiese goed nodig. Sommige moet gevoer word, gehelp word om aan te trek, sommige se doeke moet geruil word, of hulle het hulp nodig net om op te staan. “Dit is ʼn voltydse werk,” het Botha gesê.

Talle vrywilligers het reeds aangebied om by die Kosmos-aftreeoord te help.

Nadat Botha se pleidooi in ʼn stemboodskap aangestuur is, is hy oorval met navrae van mense wat aangebied het om te help. Daar is nou reeds genoeg vrywilligers om die oorblywende permanente personeel by te staan en van die meer onafhanklike inwoners het ook aangemeld om met take te help.

“Mense het wonderlik gereageer. Sommiges werk in die wassery, ʼn veiligheidsmaatskappy het aangebied om gratis veiligheidswagte te verskaf, terwyl sommige boere ontsmettingsmiddels geskenk het. Die gemeenskap dra geweldig by; dís hoekom ek op hulle knoppie gedruk het,” het Botha gesê.

Volgens hom met baie mense aangebied om te help, maar kon hulle nie vir die volle duur van die isolasietydperk op die perseel woon nie. Hy sê hulle waardeer al die aanbiedinge, maar dat dit in die inwoners se belang is dat toegang streng beperk word.

“Ons eerste prioriteit is om die inwoners te beskerm.”

Welcome Mnisi, Nehawu se provinsiale sekretaris, sê talle regulasies is afgekondig, maar dat niks daarvan behels dat werkers gedwing word om by ʼn ouetehuis in te woon om hul werk te doen nie. “Dit is ook mense met gesinne. Wat moet van hulle families word?

“Die president [Cyril Ramaphosa] het riglyne afgekondig en ons besef terdeë hierdie is noodsaaklike werkers, maar hulle moet ook met respek en waardigheid behandel word,” het hy gesê.

Mnisi sê pleks daarvan om in ʼn geskil betrokke te raak, moes die werkgewer eerder stappe gedoen het om die verspreiding van die virus te beperk. Dit sluit in die verskaffing van beskermende kleredrag, maskers, handskoene en handontsmettingsmiddels.

“Die inwoners is deel van die gemeenskap en ons ook. Hulle is ons ouers ook,” het Mnisi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ᛄᚪᚾ ·

Well done Standerton inwoners. En weereens `n bewys dat NEHAWU (eintlik alle vakbonde) se sekretarisse nie

Grassie ·

Die foto van die vrywillige helpers laat my goed voel. Ek is van mening dat ons volk die versorging van ons eie bejaardes verwaarloos en dit grootliks aan die genade van “our people” oorlaat. In ons dorpie is twee ouetehuise waar onder andere verswakte bejaardes en Alzheimerpasiënte versorg word. Daar is bitter min van ons eie mense wat daar werk terwyl die meeste van die oues van dae ons mense is.

Anel ·

Meeste van die wat daar werk doen dit net vir die geld. Die wat wel bereid is om die opoffering te maak is die wst dit vir die liefde van die saak doen. Vir hulle haal ek my hoed af en sê uit die diepte van my hart dankie.
Ek het ook bejaarde ouers, naby aan 90, wat in hulle eie huis woon. Hulle het ook die dierbaarste vrou wat by hulle werk. Haar kinders is ook al uit die huis en sy is ‘n weduwee. My ouers het ook eers seker gemaak dat haar famile versorg is nadat sy gesê het sy wil by my ouers bly. Hulle is gelukkig nog baie sterk en selfversorgend. Ons woon darm ook loop afstand van hulle en ek kan vir hulle bystaan as nodig. So, ons het nog mense met gevoel in hierdie land. Dankie aan al die ander mense wat bereid is om ander te versorg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.