Covid-19: Waarskuwing teen ‘aasvoëls’ wat R500 miljard-noodfonds kan stroop

Miljoene Suid-Afrikaners steier onder streng regulasies wat ingestel is. (Argieffoto: Leon Lestrade/ANA)

ʼn Groep burgerregte-organisasies waarsku in ʼn ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa teen die plundery van die R500 miljard-hulppakket wat die regering beskikbaar gestel het om die gevolge van die Covid-19-pandemie te verminder.

Ramaphosa het onlangs gesê die regering is verbind daartoe dat die geld nie gemors of gesteel word nie.

“Hoewel ons kennis neem dat ʼn gedeelte van die geld direk na behoeftiges gaan, is ons uiters bekommerd dat wanneer die geld toegewys word aan onderskeidelik verskillende regeringsvlakke, departemente en munisipaliteite, dit al hoe moeiliker gaan word om daarvan boek te hou.

“Ons kan kwalik die omleiding, plundery en kaping van geld wat die land van ekonomiese ineenstorting moet red, bekostig,” skryf die organisasies aan Ramaphosa.

“Ons kan nie toelaat dat die enigste kans vir miljoene Suid-Afrikaners om die ekonomiese storm te oorleef, vermors word aan die hand van diewe, winsgedrewe gedrag en politieke boewe nie.”

Die brief is onderteken deur die Active Citizens Movement, die Ahmed Kathrada-stigting, Corruption Watch, Johannesburg Against Injustice, My Vote Counts, Open Secrets, die Organisation Undoing Tax Abuse (Outa), die Patriotic Alliance, die instituut vir navorsing oor openbare aangeleenthede en #UniteBehind.

Die organisasies sê hoewel die aankondiging oor die reusehulppakket welkom was, was daar sedertdien kritiek oor die doeltreffendheid daarvan om die nuwe koronavirus te help bekamp.

Daar was ook reeds talle berigte oor die verspreiding van eenvoudige kospakkies wat bewimpel word: Nie deur honger mense wat desperaat is vir kos nie, maar deur politieke rolspelers wat humanitêre hulp as ʼn onderhandelingswapen gebruik.

(Foto: pixabay)

Daar is ook kommer oor die prys wat vir persoonlike beskermende toerusting opgedok word en of dié toerusting wel diegene op die voorste linies bereik. “Ons het gehoor van die omstrede aankoop van komberse ter waarde van R22 miljoen in KwaZulu-Natal en R160 miljoen wat betaal is vir ʼn e-leer-kontrak in die Oos-Kaap wat nou bevraagteken word. Onlangse berigte oor die afdank en heraanstel van amptenare wat gepaardgaan met bewerings van korrupsie en politieke faksiegevegte maak ons senuweeagtig oor wat die volgende paar maande kan inhou,” skryf hulle.

Die organisasies sê dit laat vrae ontstaan oor of die geld wat vir byvoorbeeld watertenks bestem is nie in ʼn staatsamptenaar se sak gaan beland, of dat die prys van ontsmettingsmiddels vir skole nie hopeloos opgejaag gaan word nie.

Hulle sê krisistye verhoog die kans op korrupsie en ʼn ineenstorting van die verkrygingsketting.

“Die gebrek aan deursigtigheid van die regering se huidige noodaankoopproses verhoog dié gevaar.”

Hulle waarsku ʼn versuim om korrupsie in dié tyd te bekamp gaan die laaste spyker in die doodskis wees vir mense wie se vertroue in die regering reeds deur bewerings van polisie- en weermagwreedheid weggekalwe word.

Die organisasie vra dat verskeie maatreëls nou dringend oorweeg word. Dit sluit die volgende in:

  • Laat burgerregtegroepe toe om ʼn oorsigrol te speel.
  • Groter duidelikheid is nodig oor die maatreëls wat ingestel is om oorsig en deursigtigheid te verseker.
  • Die tesourie moet inligting bekend maak oor hoe die geld toegewys word.
  • Omvattende openbare terugvoer word vereis oor hoe die R500 miljard gebruik en aan munisipaliteite toegeken word.
  • Duidelikheid moet verkry word oor hoe die geld uit die staat se Solidarity Fund aangewend word.
  • Die ouditeur-generaal moet kenners stuur om die besteding dop te hou.
  • Inligting moet bekend gemaak word oor diegene wat tenders indien.
  • Die parlement moet sy oorsigrol meer doeltreffend uitoefen.
  • Voordele vir staatsamptenare moet gesny word.
  • Spesiale korrupsietribunale moet op die been gebring word.

Die organisasies sê aan Ramaphosa dat dié tydperk ongekende uitdagings gaan veroorsaak.

“Ons weet dat staatskaping op verskeie nuwe maniere kan kop uitsteek. Ons is agterdogtig oor die aasvoëls wat op die kantlyn wag en die lyding van mense gebruik om te steel, te plunder en beleid en demokratiese prosesse tot hul eie voordeel aan te wend.

“Dié aasvoëls gee nie om as die ekonomie ineenstort, as ons op ʼn kleptokrasie afstuur, as onderdrukking en chaos alledaags word of as miljoene kinders honger gaan slaap nie. Hul enigste belang is om ʼn magsbasis te verseker van waar hulle hul gulsige sakke kan volstop,” skryf hulle.

Die organisasies sê as mense nie teen dié korruptes beskerm word nie, gaan hul laaste bietjie hoop verlore wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SomeOne ·

rama gerine possak en sy krounies het al lankal planne om die geld in hul sakke te druk as wat honger kinders kos gaan kry

Jacobus ·

Dis al meer as twee dekades hand in die geldlaai – pleks dat Cele ophou rondhardloop soos ‘n besetene om rokers op te spoor kan hy en sy cops help om plunderaars op te spoor al kom jy in me. Zol se slegte boekies.

Ben ·

Hierdie arme organisasies poep teen donderweer. Daar is alreeds ñ duisend of wat nuwe miloeners. Dit is basies onmoontlik om al daai geld en mense ( skelms) dop te hou.

Baardman ·

Die onwettige sigaret en drankverkopers “cash” lekker in op die 500 biljoen, daarom wil hulle dit uitrek vir so lank moontlik

Fedup ·

I am so tired of this lot. Money and power. Two things i truly hate. I wish for either another government or to leave this country.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.