Covid-19: Wat van my reisplanne?

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Suid-Afrikaners word in dié stadium aangeraai om ’n stokkie voor hul reisplanne te steek te midde van die nuwe koronavirus, Covid-19, wat reeds na 146 lande, insluitend Suid-Afrika, versprei het.

Pres. Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners Sondag met onmiddellike effek versoek om nie na lande binne die Europese Unie, Brittanje, die VSA en ander hoërisiko lande soos China, Iran en Suid-Korea te reis nie. Maar hoe nou gemaak as jy reeds ’n vlug vir daardie droomvakansie bespreek en betaal het?

Internasionale vlugte

Russell Jarvis, ʼn reiskonsultant, verduidelik aan Maroela Media dat ʼn reisiger wat onder normale omstandighede sy of haar vlugkaartjie sou kanselleer, ’n finansiële boete opgelê sal word. Dié boetes word deur die betrokke lugrederye bepaal.

Volgens Jarvis kom sekere groot lugrederye egter hul passasiers in dié stadium tegemoet met die uitstel of kansellasie van vlugte, te midde van die Covid-19-krisis. Dit beteken dat jy dalk nie enige ekstra betaling hoef te doen nie sou jy die datum van jou vlug na ’n hoërisikoland skuif na ’n datum verder in die toekoms, soos bepaal deur die onderskeie lugrederye. Lugrederye soos British Airways, Qatar Airways, KLM en Emirates bied aan kliënte hierdie opsie.

Dit tel egter slegs vir vlugte na hoërisikolande. Kliënte moet self by onderskeie lugrederye seker maak vir watter lande dié reëling geld.

Qatar Airways kom in dié stadium reisigers op vlugte na China, Hongkong, Iran, Suid-Korea, Egipte, Italië en Koeweit tegemoet. Dít geld vir vlugte wat voor of op 12 Maart bespreek is en voor 31 Mei vertrek. Herbesprekings word tot 30 Junie aanvaar.

reis-lughawe-wag

Foto: StockSnap/Pixabay.com

Emirates kom ook passasiers tegemoet wat nie meer na lande kan reis wat ’n reisverbod ingestel het nie. Dit geld vlugte wat voor 31 Maart bespreek is en voor 31 Mei vertrek. Passasiers kan hul vlugte tot en met 30 Junie verander.

Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) laat in dié stadium passasiers toe om een verandering gratis aan hul vlug te maak. Dit geld egter net vir vlugte na bepaalde bestemmings waaronder die VSA, Duitsland, Frankryk en Engeland. SAL-vlugte moet voor 30 April verander word en kan net tot 30 September uitgestel word.

Hierdie veranderings is almal gebonde aan bepaalde voorwaardes. Jarvis moedig reisigers aan om lugrederye se webtuistes te besoek aangesien elke lugredery sy eie maatreëls het te midde van die krisis.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrika het nou ook ʼn reisverbod ingestel op reisigers van Italië, Iran, Suid-Korea, Spanje, Duitsland, die VSA, Brittanje en China. Dié reisverbod tree Woensdag in werking. Enige uitlander wat die afgelope 21 dae enige van die hoërisikolande besoek het, se visum sal dus afgekeur word.

Suid-Afrikaners wat terugkeer van hoërisikolande word versoek om hulself te isoleer.

Jarvis verduidelik dat reisagentskappe in dié stadium ’n afname ervaar in kliënte wat vakansies beplan. Elke reis wat nou bespreek word, word individueel beplan met die nodige risiko’s wat in ag geneem word. “Ons is in ’n ongekende situasie,” sê Jarvis.

mango

(Argieffoto)

Plaaslike vlugte

Hoewel plaaslike vlugte in dié stadium onveranderd voortgaan, het plaaslike lugrederye soos Flysafair en Mango ook maatreëls ingestel. Mango laat tans passasiers toe om hul vlugte teen geen ekstra koste te verander nie. Dit geld vlugte wat tot en met 30 April vertrek. Flysafair laat in dié stadium een gratis verandering aan vlugte toe.

Reisversekering

Versekeraars raai reisigers aan om reisversekering te midde van die onsekerheid uit te neem. Sekere versekeringmakelaars en soortgelyke diensteverskaffers het reeds hul aanbod op reisversekering aangepas om die risiko van Covid-19 in te sluit, sou jy wel besluit om voort te gaan met jou reisplanne. Dit sluit mediese versekering in, sou jy in die vreemde vir die virus getoets word. Dié versekering dek ook jou koste sou jy terug na Suid-Afrika gerepatrieer wil word tydens jou besoek aan ’n ander land.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

’n Pakket van dié aard is natuurlik duurder as gewone reisversekering aangesien ’n persoon ’n groot risiko vir ander inhou, sou hulle besluit om steeds te reis. Dit is ook nie ’n uitgemaakte saak dat jou reisversekering al die verlore koste sal dek indien jy jou vlug kanselleer of jou visum nie meer geldig is weens Covid-19 nie.

Sekere makelaars bepaal dat kliënte met Covid-19-reisverseking slegs gedek word sou die stad of land waarheen die kliënt reis deur die land se regering in “lockdown” geplaas word. Sommige pakkette bepaal ook dat kliënte slegs gedek word sou die lugredery die kliënt se vlug kanselleer of ’n vlug vertraag word weens ’n mediese noodgeval.

Volgens versekeraars is dit van uiterse belang om jou reisversekeringspakket goed te verstaan en jou reisversekeringmakelaar te kontak om enige onduidelikheid uit te skakel.

Grensposte

Die regering het aangekondig dat talle van Suid-Afrika se landelike grensposte reeds vanaf vandag (Maandag) gesluit word. Dié grensposte is:

Mosselbaai-haweAlexanderbaai-haweAlexanderbaai-grenspos
SendelingsdrifOnseepkansMcCarthysrust
MiddelputsRietfonteinGemsbok
TweerivierenBrayMokopong
MokghibistatSwartkopfonteinDerdepoort
StockpoortPlatjanPontdrif
ZanzibarPafuriGiriyondo
EmahlathiniBothashoopWaverley
NerstonJosefsdalKosibaai
OnverwachtSanipasBoesmansnek
TellebridgeOngeluksnekRamatsiliso
MononsthapasPekabrugMakhaleng
Sephaphusgate

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jack ·

Lees ek iets mis maar ek sien nie dat grensposte tussen SA en Mosambiek, Namibia, Zimbabwe gesluit is nie.

Diva ·

Die regering moes lankal verbod op vlugte en passasiers toe gepas het..

Plaaskind ·

Ek hoop die mense wat nog so graag wil voortgaan met hul vakansies oorsee dink twee keer en kom tot hul sinne.

Leeuman ·

Maklik om te se daar is van ons wat daar werk om n beter lewe te kan gee aan ons gesinne wat agter bly

Plaaskind ·

Leonard – ek het gepraat van vakansies. Maak ook nie saak wat die rede is nie – mens neem darem die gesondheid van duisende ander mense ook in ag, nie net jou eie spaarvarkie nie.

Gerda ·

Ek kan nie wag vir my vakansie in Scotland wat dv einde Junie gaan wees, my spaarvarkie is baie geduldig

Mariette ·

Hierdie hele ding stress my so out maar ons gaan nog steeds op vakansie. Hierdie is al lankal vooruit beplan en alles is reeds betaal. Die virus is klaar in sy omgang hier. Ek vat dit so as ek seker maak ek hou my higiene op punt ek veilig sal wees.

Mia ·

Ek wonder of ‘n mens nog tussen die provinsies kan beweeg of gaan hulle dit ook beperk?

Frank ·

Ek dink ook ALLE vlugte behoort gekanselleer te word. Dubai is ‘n hub, byvoorbeeld. Baie groot hoeveelheid vlugte word daardeur gekanaliseer. Hoekom verbied die regering nie ook vlugte daarvandaan nie????!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.