Covid-19: Weermag staan Oos-Kaapse hospitale by

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap (Foto: Oscar Mabuyane/Facebook)

’n Mediese span van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is Maandag in ’n hospitaal in die Oos-Kaap ontplooi om broodnodige hulp aan die provinsie se gesondheidsorg te verleen. Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, het verlede week ’n pleidooi aan die pres. Cyril Ramaphosa gerig en gevra vir bykomende hulp in die provinsie se stryd teen Covid-19. Die provinsiale gesondheidstelsel sukkel toenemend om die vinnig stygende getalle in dié provinsie te hanteer.

Die Oos-Kaap het tans die derde hoogste aantal Covid-19-gevalle en toon ook die skerpste toename in Covid-19-sterftes. Die Oos-Kaap het tans 63 181 Covid-19-gevalle, wat 17,3% van die getalle landwyd uitmaak. Die dodetal staan tans op 825, terwyl 44 317 mense reeds herstel het.

Mabuyane het Maandag die mediese personeel van die SANW in die Cecilia Makhiwane-hospitaal in Mdantsane in Oos-Londen verwelkom. Hy sê hy is verlig dat Ramaphosa positief op sy versoek om hulp gereageer het.

Mabuyane sê lede van die mediese span het eers ʼn week in Port Elizabeth uitgehelp. Hy sê die span het daar al op een dag meer as 250 gevalle hanteer. “Dié span gesondheidswerkers van die SANW is van onskatbare waarde, veral in ʼn provinsie wat oor ’n onvoldoende gesondheidsorgstelsel beskik,” het hy gesê.

Dié provinsie se gesondheidsorgbedryf word geteister deur wanbestuur en korrupsie. Die provinsie het ook ʼn erge tekort aan gesondheidsorgwerkers en talle personeellede, hoofsaaklik verpleërs, het reeds die virus opgedoen.

Mabuyane sê daar is al sigbare verbeterings in hospitale waar lede van die SANW se mediese span ontplooi is.

“Die drankbverbod sal ook help om die druk op die gesondheidstelsel te verlig,” meen Mabuyane.

Maroela Media het vroeër berig gesondheidsorgwerkers het al by verskeie fasiliteite oor die provinsie heen betoog. Hulle weier om te werk sonder persoonlike beskermingstoerusting (PPE) wat nodig is om hulle teen die koronavirus te beskerm. Mabuyane het gesê die provinsie benodig R4,1 miljard in sy stryd teen die virus en dat R2,2 miljard van die vereiste bedrag reeds aan gesondheidsinfrastruktuur toegeken is.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het twee weke gelede in die parlement onthul dat daar tussen Gauteng en die Oos-Kaap slegs een behoorlike veldhospitaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Maar daar is geld om op die stupid “ambulans” motorfietse te spandeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.