Covid-19: Werkers toets nou op Sasol se rekening  

Sasol se Secunda-aanleg. (Foto: Jóhni Steenkamp)

Personeel by Sasol se Secunda-aanleg in Mpumalanga sal voortaan nie self vir Covid-19-toetse hoef op te dok nie.

Dit volg ná “robuuste onderhandelings” Donderdag tussen die vakbond Solidariteit en die petrochemiese reus.

“Ons is verheug daaroor dat Sasol daartoe ingestem het om voortaan die koste van alle Sasol-personeel se Covid-19-toetse te dra,” sê Riaan Visser, adjunkhoofsekretaris vir mynbou, landbou en chemies by Solidariteit.

Visser sê daar is aan die een kant steeds baie mense wat onseker is of hulle die inenting teen Covid-19 wil ontvang, en dat dié onsekerheid gerespekteer moet word. Aan die anderkant is daar egter ook baie mense wat wel die inenting wil ontvang, maar weens verskeie redes nie kan nie.

“Terwyl daar nog onsekerheid heers oor die besluit rakende inenting, is daar egter ook talle mense wat hulle graag sou wou laat inent, maar bloot nie kan nie weens die trae vordering van die regering se entstofprogram.

“Uiteraard kan hulle nie die prys betaal vir ʼn regering wat voete met ’n entstofproses gesleep het nie.”

Solidariteit het ook sy steun vir inentings benadruk en verduidelik dat, hoewel dit elkeen se keuse moet wees, die beweging steeds aanbeveel dat dié wat kan wel die inenting behoort te kry.

“Navorsing, ook dié van Solidariteit se navorsingsinstituut, toon dat inentings doeltreffend en veilig is. Derhalwe, moedig ons inenting aan.

“Dit moet egter altyd op ʼn vrywillige basis geskied en werkgewers kan nie poog om onredelike negatiewe vereistes vir hul werknemers daar te stel indien hulle daarteen kies of nog nie die geleentheid gehad het om ingeënt te word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trotse Boervrou ·

Op 11 Julie berig MM “Mulder gee wel toe dat die langtermyneffekte van Covid-19-entstowwe nie in dié stadium bekend is nie, aangesien inentings nog net die afgelope sewe maande toegedien word. Hy meen egter die kans op langtermyn-newe-effekte is uiters skraal.”

Met ander woorde, indien ek dit reg verstaan, is daar tot op hede geen uitklaring of bewys dat daar NIE langtermyn newe-effekte gaan wees nie.

In hierdie berig hierbo word verwys na navorsing, ook deur Solidariteit se navorsingsinstituut, wat aantoon dat inentings doeltreffend en veilig is en dat Solidariteit inentings aanmoedig.

Het julle julself nie so pas weerspreek nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.