Covid-19: Wes-Kaap ‘nie so erg getref’

Die Wes-Kaapse premier Alan Winde op besoek aan een van die provinsie se tydelike Covid-19-hospitale. (Foto: Twitter)

Met amper 71 000 Covid-19-gevalle en 2 100 sterftes is die Wes-Kaap die provinsie wat tot onlangs toe nog die ergste getref was. ʼn Kenner van die Wes-Kaapse departement van gesondheid sê egter nou hulle het veel erger verwag en dat dit voorkom asof ingrypings daarin slaag om pasiënte se lewens te red.

“Ons het minder pasiënte en hospitaalopnames as wat ons verwag het. Tot nou toe het ons boonop effens minder sterftes gesien as wat aanvanklik voorspel is,” het prof. Lee Wallis, hoof van noodmedikasie aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid, aan CNN gesê.

Wallis sê van hul hospitale het nog kapasiteit vir nuwe pasiënte, maar dat hulle verwag dat hospitale teen die einde van die maand vol sal wees. Van die 70 938 gevalle is net 29% tans aktief, wat beteken dat die res intussen óf herstel het óf gesterf het. Dit is baie minder aktiewe gevalle as in Gauteng, waar 50 961 van die 66 891 positiewe gevalle (71%) tans siek is.

Die Wes-Kaapse premier Alan Winde help om ‘n bed in een van die provinsie se tydelike Covid-19-hospitale op te maak. (Foto: Twitter)

Wallis sê Suid-Afrika se hoë MIV-syfer het nie die uitwerking gehad wat sommige gevrees het nie. “Siektetoestande soos hipertensie, vetsug en diabetes het ʼn veel groter impak op ʼn pasiënt se kans om oorlewing.”

Volgens Wallis het die besluit om pasiënte hoë vlakke van suurstof toe te dien eerder as aan ventilators te koppel, amper oornag ʼn groot verskil in die Wes-Kaap gemaak. “In plaas daarvan om pasiënte in ʼn geïnduseerde koma te hou en deur ʼn masjien te laat asemhaal, word hoë vlakke van suurstof deur middel van ʼn masker aan pasiënte voorsien,” verduidelik hy.

Wallis sê daar is nie soveel positiewe gevalle in die Wes-Kaap as wat hulle verwag het nie, maar dat die styging in getalle langer as voorspel kan voortduur. “Dit kan selfs nog maande duur en sal erge druk op die gesondheidstelsel en die gemeenskap plaas.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hekwag ·

Ek het mos gesê… “stadig maar seker kom die waarheid uit, nê”

Oujongvrou ·

Dankie aan die weskaap wat ons gereeld op hoogte hou van wat aangaan. Ons kry ook gereeld terugvoer via sms van ons munisipaliteit oor die stand van sake in ons dorpie. Daarvoor is ons baie dankbaar. Hulle laat weet ons ook as winkels toemaak om ontsmet te word.

Jaco ·

dankie tog. ek hoop die wes-kaap se covid-19 gevalle verminder spoedig. Ek sidder vir die dag wat “te veel Covid-19 gevalle” as gerieflike verskoning gebruik gaan word om die wes-kaap terug te stoot tot op vlak 5 van inperking. Ons weet tog almal wat is die eintlike doel met inperking: dis net om wit mense en “die rassistiese DA” vas te vat en te onderdruk.

koos10 ·

Ek hoor Gauteng se hospitale is vol, maar nou het ek ‘n opmerking en vraag om te vra:
Ek weet van ‘n persoon wat siek geword het en positief getoets het vir COVID 19. Die persoon bly in die Standerton distrik in Mphumalanga. Die persoon word na ‘n groot hospitaal in Pretoria oorgeplaas en word aan ‘n vetilator gekoppel. Ongelukking beswyk die persoon.
Waar word die sterfte getel? Gauteng of Mphumalanga?
Is daar meer sulke gevalle wat beddens in Gauteng opneem? Ek is nie onsensitief nie, maar as dit met meer gevalle so is, dan is iets mos groot verkeerd. Dan verduidelik dit die groot getalle nog meer in die groot metros.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.