Covid 19: Wes-Kaap oorweeg nog opsies; duidelikheid oor Oos-Kaap gevra

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Armand Hough/ANA)

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê sy hoofprioriteit in dié stadium is om ʼn tweede algehele tyd van afsondering in die Wes-Kaap te voorkom.

Winde se opmerking kom terwyl die VF Plus die minister van gesondheid gevra het om oop kaarte te speel oor die moontlikheid van ’n vlak 3-inperking in die Oos-Kaap.

Die twee provinsies het tans ’n oplewing in Covid-19-gevalle en kommer bestaan oor die komende feesseisoen wanneer duisende vakansiegangers na verwagting in dié provinsies sal uitspan.

“Daar is in hierdie stadium nog geen besluit geneem oor plaaslike beperkings nie en ons win steeds regsadvies in oor wat moontlik is aangesien beperkings deur die nasionale regering ingestel word en nié deur provinsies nie,” sê Winde oor die situasie in die Wes-Kaap.

Die Wes-Kaapse wetgewer oorweeg tans ʼn verskeidenheid benaderings om die toename in Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap te takel en sal later vandeesweek sy plan van aksie tydens ’n mediakonferensie bekend maak.

(Argieffoto ter illustrasie: Ted S. Warren/AP)

Die provinsie het teen Maandag meer as 10 000 aktiewe gevalle van die koronavirus gehad met ’n totaal van 130 826 bevestigde gevalle sedert die uitbreking van die virus vroeër vanjaar.

Maroela Media het vroeër berig ʼn dringende brandpunt-waarskuwing is vir die Tuinroete uitgereik weens die vinnig toenemende getal Covid-19-gevalle in dié gebied.

“Die beste en vinnigste manier om ’n inperking te voorkom is deur middel van individue, sakeondernemings en die burgerlike samelewing wat hul gedrag verander. Ons moet toesien dat elke persoon ʼn masker dra. Ons moet skares en nie-noodsaaklike byeenkomste vermy. En ons moet toesien dat ons nie noue kontak met ander het nie,” sê Winde.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, sê op sy beurt dit was vir die party ontstellend om in die media te verneem dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, verlede week gesprekke met onder meer sakelui en politici in die Oos-Kaap gevoer het oor die moontlikheid van ’n vlak 3-inperking.

Die VF Plus herinner die minister daaraan dat strenger inperkings nie meer die oplossing is nie en dat Suid-Afrikaners die regering nie meer vertrou nie. Die party waarsku dat strenger inperkings tot geweld en wanorde kan lei.

“Die VF Plus doen ’n beroep op minister Mkhize om nie hierdie roete te volg nie, maar om eerder dringende aandag aan die gesondheidstelsel te skenk, meer dokters en verpleegsters aan te stel en om te sorg dat voldoende toerusting en medisyne beskikbaar is om gesondheidswerkers te beskerm en dié se hande te versterk in die stryd teen die pandemie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Samuel ·

Premier Winde sal die regte besluite neem saam met sy span. Mens kan hom vertrou.

Karel Kobus Kruger ·

Ek speel maar veilig en vertrou geen politikus nie. Nie ANC nie, nie DA nie, nie VF nie.

stargazer ·

Alan Winde is die ANC Trojan horse. Hy gaan die DA klaar maak met sy speelietjies. Ek is klaar met die DA. As die ANC opposisie leier jou prys Dan weet jy Wie konkel saam

JohanR ·

En nou sal jou stem in 2021 en 2024 na die ANC(All Nasty Criminals) of EFF(Economic Fleeing Fighters – na Brakenfell) gaan?

JohanR ·

Lyk my ons gaan alleen Nuwe Jaars aand by die huis sit, met ‘n boerewors rol en ‘n bottel wyn!

H ·

stock maar op , lockdown is hier… staat maak vandag n besluit

Anoniem ·

@H Ek hoop nie so nie, maar wanneer ‘n mens na die Covid 19 syfers kyk is ek op hierdie stadium geneig om met jou saam te stem.

Jaco ·

Wanneer gaan die DA in die Wes-Kaap ophou mdt hulle alewige toets toets toets? Môre oormôre is die corona syfers in dié provinsie weer die hoogste in SA. Corona word juis as verskoning vir klomp duistere goed van die ANC gebruik, so dan is dit maklik om die Wes-Kaap op ‘n hoë vlak van inperking te plaas, terwyl die eintlike rede die “terugkry” van wit mense en “die rassistiese DA” is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.