Covid-19: Wiele kom af in Oos-Kaap

Die motorfietsambulanse wat die Oos-Kaap wil gebruik. (Foto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

Die Oos-Kaapse regering se wiele wikkel nou stelselmatig los te midde van oplaaiende druk weens die koronavirus en die afsonderingstydperk.

Hoewel die provinsie se koronavirus-infeksiesyfer aan die begin van die pandemie baie laag was en daar dus vir die provinsiale regering in Bisho baie tyd was om gereed te maak vir die infeksiekruin is bitter min doeltreffende voorbereiding getref.

Die Oos-Kaapse regering het eerder in daardie vroeë dae daarin uitgeblink om leedvermakerig na die hoër infeksiesyfer van die Wes-Kaap te verwys, die Oos-Kaapse virusgevalle aan die Wes-Kaap toe te skryf (glo taxi’s met siek mense wat die Wes-Kaap kwansuis met duistere bedoelings die Oos-Kaap sou instuur) en absurde planne te maak.

Laasgenoemde sluit klaarblyklik in om teen miljoene rande bromponies met syspanne aan te skaf en dan matrassies op die syspanne te monteer sodat dit glo as klein ambulanse op die Oos-Kaap se voos paaie gebruik moes word – tot die een of ander tenderpreneur se finansiële voordeel, uiteraard.

Toe die virus sy tande by die Oos-Kaap inslaan, het die provinsiale gesondheidstelsel spoedig soos ʼn kaartehuis inmekaargetuimel. Van die bromponie-ambulanse het natuurlik dadels gekom. Boonop is ʼn klomp koronavirus-toetse langs die N2 by Mdantsane tussen Oos-Londen en King William’s Town gevind waar dit bloot – onverrigter sake – in die veld weggegooi is. ʼn Drawwer het daarop afgekom.

Stakings deur verpleegsters het ʼn alledaagse gebeurtenis geword namate dit geblyk het die provinsie het die omvattende voorbereidingstyd waaroor beskik is, beslis nie gebruik om hospitale in gereedheid te bring of mediese beskermende drag aan te koop nie.

Oos-Kaapse LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba. (Foto: Michael Pinyana)

Nie ʼn enkele veldhospitaal is deur die provinsiale regering opgerig nie. Die enigste veldhospitaal in die Oos-Kaap is deur Volkswagen opgerig, naby Uitenhage.

Verhale oor korrupsie en wanbesteding van geld wat dodelike siek mense moes help, is algemeen. Dit het internasionale televisiespanne genoop om ondersoek in te stel, en afgryslike beelde van vieslike hospitale lewer bewys van die laagtepunt-gevegte tussen lydende pasiënte vir suurstoftenks waarvan die provinsiale regering te min voorsien het.

Die nasionale regering het ʼn taakspan na die Oos-Kaap gestuur om te kyk of dit sensasionele propaganda was. Akademici, medici en ʼn raadgewer van die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, is daarheen en die bevinding was verdoemend: dis erger as wat die oorsese joernaliste gesê het.

Intussen het die Oos-Kaapse syfer (vir die mate waartoe dit akkuraat eerder as ʼn ondertelling is) die hoogte ingeskiet, en die provinsie se pandemie is nou die derde ergste, ná Gauteng en die afplattende Wes-Kaap.

Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het die weermag om mediese hulp genader.

Intussen het korrupsie van allerlei aard sy kop uitgesteek – van Oos-Kaapse kwarantynplekke tot Oos-Kaapse tenders.

Die Oos-Kaapse regering se amptelike reaksie? Ander provinsies is erger, en korrupte amptenare moet nie nou gestraf word nie, want dit kan die korruptes se stresvlakke laat styg en hulle meer vatbaar maak vir die koronavirus.

Wat, so glo die Oos-Kaapse regering, ʼn baie slegte ding sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Snowball ·

Gomba sal die haas uit die hoed moet ruk. En vinnig. Maar nou ja, wanbestuur is seker volgens die ANC ook ‘n vorm van bestuur.
Black lives matter Gomba, dink net aan die siek mense se stresvlakke…

Juffrou ·

Lekker ou Gomba. Kry vir jou.
Wonder hoe kan jy snags slaap.
Absoluut gewetenloos jy!

Kokerboom ·

Dis Afrika op sy beste. Hoop die media buit die geleentheid uit en hang die skandelike van ANC bestuur aan die wereldklok!!!!Mandela draai in sy graf om!

Nie Verbaas ·

Die Oos-Kaapse regering se amptelike reaksie? Ander provinsies is erger, en korrupte amptenare moet nie nou gestraf word nie, want dit kan die korruptes se stresvlakke laat styg en hulle meer vatbaar maak vir die koronavirus. Kan jy die logiese denkvermoe van die persoon verstaan? Ek kan nie, of is dit n poging om mense te beskerm wat die persoon se korrupsie gaan ontbloot? Die totale onbevoegdheid is alreeds bevestig maar ANC hou haar daar.

Scalla ·

Sal graag die auntie met haar kapsel agter daai handles wil sien!!!

Scalla ·

Ondersoek maar die tender asb, om R100 000 stuk te betaal vir daai sidecar bromponies is absurd, besef die mense op grondsoolvlak dat die mense waarvoor hul stem absoluut niks vir hul voel.

Simon ·

Die Oos-Kaap regering en hul verbintenis met FLEET-AFRICA en all tenders en ooreenkomste en individue wat daarmee veband hou.

Rose ·

Stresvlakke van die koruptes kan hulle coronavirus gee, skreeusnaaks!

koos10 ·

Apartheid het ook al die skuld gekry. Volgende is seker Jan van Riebeeck?
Maar miljoene word gebruik on motorfietse aan te koop (teen baie opgeblase pryse), maar nog steeds speel hulle politieke speltjies.
BLM, solank hulle net nie beskerming van hul lewens by die regering soek nie.
Dis sal baie nice wees as die hordes sportmanne en vroue bietjie hulle stemme hier dik maak.

Die Weskaap het die hoogste getalle gehad en dit stabiliseer nou, Gauteng het gevolg en die kurwe begin ook afneem. Nou is die Ooskaap volgende, maar ek glo nie die kurwe sal kan afplat nie. En nogsteeds mag taxi’s teen 70% volume teen 170km/h oor die grense stroom en die 50 mense perk op byeenkomste tel net vir sekere mense.

lekkerdink ·

Is daar enigiemand in die land wat verstand het om bietjie verder as sy bankrekening te kyk . Die land sal nooit herstel van die korrupsie , eie belang en volslae kortsigtigheid nie. Die enigste manier sou wees om vakbonde te verbied want SAL se hele plan word beheer deur vakbonde . Die klerasie bedryf is tot niet a g v vakbonde . Wie kyk na die miljoene mense wat sonder n vakbond en sonder geld sit maar miljarde word in bankrot besighede ingepomp om doe vakbonde tevrede te hou want hulle hou die politici in sagte kussings . ek is moedeloos , ontevrede ,woedend en raak al hoe meer anti-alles .

Pieter ·

Die Oos Kaap is die politieke tuiste van die ANC. Die ou Transkei. Nog steeds gesluit vir blankes om daar grond te koop. Daar bly ook ‘n klomp belastinggeldsuigende konings. Dit is Black Lives Matter, kniel en gebalde vuis saam, se pronkstuk.

Chris ·

Ek het my ook oor sulke “nuus gebeure” opgeklits. Ek doen dit nie meer nie. My bloeddruk is laer, kry nie meer skeelhoofpyne nie, maag is terug na normaal en kry ook nie meer koue rillings nie. Hoe meer dae hoe meer dinge

ES ·

Gomba, jou stouter!

Eers blameer jy die apartheidsregime vir jou motorfiets eskapades en nou is daar natuurlik bevindings van korrupsie en die hele appel is vol wurms.

Ek sit in spanning en wag om te hoor watter kreatiewe verskonings jy gaan aanbied vir die korrupsie in jou departement.

Pieter ·

Die ANC komuniste word deer die wet en regters beskerm hulle kom niks oor nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.