‘Covid-korrupsie’: Hoës by nasionale laboratorium geskors  

(Argieffoto: pixabay)

Die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) se hoof van voorsieningskettingbestuur en finansiële hoof is saam met ander personeellede geskors nadat ʼn forensiese ouditverslag hulle by moontlike wangedrag betrek het.

Die NHLS het in die eerste helfte van 2020 ʼn interne oudit gedoen rakende verkryging van dienste en toerusting, insluitend persoonlike beskermende toerusting, rakende die Covid-19-pandemie. PricewaterhouseCoopers (PwC) is aangestel om ʼn forensiese ondersoek na die noodverkryging te doen.

Die NHLS het vroeg in 2020 begin om stappe te doen in afwagting van die Covid-19-pandemie en vanweë sy rol as die nasionale patologiese diensverskaffer wat verantwoordelik is vir toetsing in die openbare sektor.

Volgens prof. Eric Buch, voorsitter van die raad van die NHLS, is daar verwag dat die pandemie uitermate druk sou plaas op die beskikbaarheid en prysbepaling van alle items wat nodig is vir die toetsing. “Die NHLS moes sonder versuim optree om die nodige toerusting te bekom om die toetse uit te voer, en ook die persoonlike beskermende toerusting wat nodig is vir die personeel om dit veilig te kan doen.”

Terwyl die ondersoeke aan die gang was, het die NHLS versoeke van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke ontvang om inligting te kry met betrekking tot spesifieke maatskappye en transaksies wat die verkryging van persoonlike beskermende toerusting gedurende die tydperk Maart tot April betref.

PwC het die transaksies tussen die NHLS en ses spesifieke maatskappye ondersoek wat deur die direktoraat uitgewys is. Alle NHLS-werknemers is ook ondersoek rakende die verkryging van persoonlike beskermende toerusting.

“Daar is met tugstappe begin teen die individue wat in die PwC-verslag uitgewys is vir prima facie-oortredings. Die betrokke amptenare is geskors hangende dissiplinêre ondersoeke. Die raad het verder besluit om die PwC-verslag en die gepaardgaande regsmening met die direktoraat en die spesiale ondersoekeenheid (SIU) te deel.”

Buch het gesê die beweerde wangedrag wat in die PwC-verslag geïdentifiseer is, moet in dié stadium vertroulik bly terwyl die dissiplinêre en verwante regsprosesse aan die gang is.

 

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Niks moet vertroulik bly.

Elize

Ons raak moeg vir geskorste amptenare wat salarisse ontvang!

Danie

Die ANC skrik nie eers vir vervolging in die land nie, hierdie korrupte staat sal net meer korrup word want daar is kastig nie meer plek in die tronk nie. Zim hier kom ons.

Jacobus

Is die nie ‘n goeie saak waarmee MRK hulle behoort te bemoei nie?

Androclus

ANC sê “Together we can do more”(Ek sê hulle moet byvoeg corruption).
“Together we move SA Forward.”(Ek sê Backwards”)