Covid-sterftes: Kinders se kans om te sterf ‘minimaal’

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Kinders jonger as 19 jaar oud in Suid-Afrika het ʼn een uit 75 000 (0,003%) kans om te sterf weens die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak. Dit is baie minder as kinders onder negentien se kans (een uit 1 000) om aan ʼn ander siekte of afwyking te sterf.

Só het dr. Fiona Kritzinger, pediater en pediatriese polmonoloog in ʼn private praktyk by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal, die naweek verduidelik. Sy het gepraat tydens Maroela Media se regstreekse gesprek oor of skole weer moet sluit midde die Covid-19-pandemie. Onderwysvakbonde voer aan dit is onveilig vir leerders en onderwysers om skool toe te gaan soos die getal Covid-19-gevalle in Suid-Afrika skerp styg.

Kritzinger het verduidelik dat data die aanname steun dat minder kinders Covid-19 opdoen as volwassenes. “Kinders blyk ook minder verantwoordelik te wees vir die verspreiding van die virus in die gemeenskap,” het sy verduidelik.

Volgens die departement van basiese gesondheid se data het 10 kinders jonger as 19 teen 1 Julie aan Covid-19 gesterf. Dit verteenwoordig 0,3% van die totale sterftes landswyd. In vergelyking hiermee het 1 198 mense (37,6%) tussen die ouderdom van 20 en 60 weens Covid-19 in Suid-Afrika gesterf.

Volgens Kritzinger het die meerderheid van kinders wat aan Covid-19 gesterf het, ʼn ernstige onderliggende siektetoestand gehad en is sy nie bewus van een enkele gesonde kind wat Covid-19 by die skool opgedoen en gesterf het nie.

“Wanneer ʼn kind Covid-19 opdoen, is daar ʼn risiko om ernstig siek te raak en te sterf. Die risiko is egter ver minder as 1% om kritiek siek te word of te sterf,” het sy verduidelik.

Kritzinger het verder daarop gewys dat 6 000 kinders reg oor die wêreld heen in 2017 weens griep gesterf het. In 2018 het 21 000 kinders in Suid-Afrika aan tuberkulose gesterf en in 2019 is 142 000 kinders wêreldwyd dood aan masels. Dít ten spyte daarvan dat daar ʼn entstof vir masels beskikbaar is.

Volgens Kritzinger is die risiko vir kinders om Covid-19 op te doen nie van so aard om hulle uit die skool te hou nie. Kritzinger meen verder onderwysers het ʼn veel groter kans om Covid-19 by ʼn restaurant of hul plaaslike winkelsentrum as by die skool op te doen.

“Die vraag is nie of daar ʼn risiko is nie. Die vraag is of daar ’n onaanvaarbare hoë risiko is. Die antwoord is nee.”

Sy sê kinders se risiko om siek te word by die skool moet ook opgeweeg word teen die fisieke en emosionele gevolge daarvan om leerders tuis te hou, wat volgens haar veel groter is.

Kritzinger het ook daarop gewys dat die dra van maskers en gebruik van ontsmettingsmiddels geensins vir leerders ʼn gesondheidsrisiko inhou nie en ouers met gemoedsrus hul kinders in dié tyd skool toe kan stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Levinson

Dankie vir die feite. Hoop dit stel ouers en onderwysers nou gerus.

Tokkel

Ek dink elke ouer moet besluit of hy sy kind wil terughou vir die jaar en dat hy volgende jaar heraal of wil hy hom skooltoe stuur. Elke ou moet besluit wat goed is vir sy kind. Kinders speel elkgeval saam indie straat en ry fiets saam. Ek dink kinders het die stimulasie nodig wat die skole hul bied, maar dit moet elke ouer se eie besluit wees. Mens is net bang vir geweld in ouerhuise en hongersnood van kinders. Sterkte aan alle ouers met kinders opskool…

marius

Sinvol , maar die mense in beheer sal niks glo wat oor ‘n Suid afrikaanse dokter se lippe kom nie , want dit pas nie die narratief van die vakbonde wat die land se ware heersers is nie .

Sakkie

Dit gaan lankal nie meer oor die virus nie dit gaan soos met die ekonomie geleerdheid moet eers in sy maai in wees dan kan als aangaan

Wilhelmina

Wat as die skoolkind in aanraking kom mt covid via n onderwyser of werker by di skool of n ander kind…? Dan moet daai kind huis toe gaan en sy ouers en familie sal dan ook blootgestel wrd…dis goeie nuus vir ouers dt kinders onder 19 ni sal dood gaan sou hulle dt kry en hulle ht ni enige ander ernstige onderliggende siekte ni…maar niemand prt oor di feit dt wat gebeur as hulle by die skool in aanraking kom mt covid en dan moet huis toe gaan ni..wat van di kinders se families…wrd hulle dan ni ook blootgestel ni?… Lees meer »