Covid-sterftes: Kinders se kans om te sterf ‘minimaal’

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Kinders jonger as 19 jaar oud in Suid-Afrika het ʼn een uit 75 000 (0,003%) kans om te sterf weens die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak. Dit is baie minder as kinders onder negentien se kans (een uit 1 000) om aan ʼn ander siekte of afwyking te sterf.

Só het dr. Fiona Kritzinger, pediater en pediatriese polmonoloog in ʼn private praktyk by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal, die naweek verduidelik. Sy het gepraat tydens Maroela Media se regstreekse gesprek oor of skole weer moet sluit midde die Covid-19-pandemie. Onderwysvakbonde voer aan dit is onveilig vir leerders en onderwysers om skool toe te gaan soos die getal Covid-19-gevalle in Suid-Afrika skerp styg.

Kritzinger het verduidelik dat data die aanname steun dat minder kinders Covid-19 opdoen as volwassenes. “Kinders blyk ook minder verantwoordelik te wees vir die verspreiding van die virus in die gemeenskap,” het sy verduidelik.

Volgens die departement van basiese gesondheid se data het 10 kinders jonger as 19 teen 1 Julie aan Covid-19 gesterf. Dit verteenwoordig 0,3% van die totale sterftes landswyd. In vergelyking hiermee het 1 198 mense (37,6%) tussen die ouderdom van 20 en 60 weens Covid-19 in Suid-Afrika gesterf.

Volgens Kritzinger het die meerderheid van kinders wat aan Covid-19 gesterf het, ʼn ernstige onderliggende siektetoestand gehad en is sy nie bewus van een enkele gesonde kind wat Covid-19 by die skool opgedoen en gesterf het nie.

“Wanneer ʼn kind Covid-19 opdoen, is daar ʼn risiko om ernstig siek te raak en te sterf. Die risiko is egter ver minder as 1% om kritiek siek te word of te sterf,” het sy verduidelik.

Kritzinger het verder daarop gewys dat 6 000 kinders reg oor die wêreld heen in 2017 weens griep gesterf het. In 2018 het 21 000 kinders in Suid-Afrika aan tuberkulose gesterf en in 2019 is 142 000 kinders wêreldwyd dood aan masels. Dít ten spyte daarvan dat daar ʼn entstof vir masels beskikbaar is.

Volgens Kritzinger is die risiko vir kinders om Covid-19 op te doen nie van so aard om hulle uit die skool te hou nie. Kritzinger meen verder onderwysers het ʼn veel groter kans om Covid-19 by ʼn restaurant of hul plaaslike winkelsentrum as by die skool op te doen.

“Die vraag is nie of daar ʼn risiko is nie. Die vraag is of daar ’n onaanvaarbare hoë risiko is. Die antwoord is nee.”

Sy sê kinders se risiko om siek te word by die skool moet ook opgeweeg word teen die fisieke en emosionele gevolge daarvan om leerders tuis te hou, wat volgens haar veel groter is.

Kritzinger het ook daarop gewys dat die dra van maskers en gebruik van ontsmettingsmiddels geensins vir leerders ʼn gesondheidsrisiko inhou nie en ouers met gemoedsrus hul kinders in dié tyd skool toe kan stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Levinson ·

Dankie vir die feite. Hoop dit stel ouers en onderwysers nou gerus.

Tokkel ·

Ek dink elke ouer moet besluit of hy sy kind wil terughou vir die jaar en dat hy volgende jaar heraal of wil hy hom skooltoe stuur. Elke ou moet besluit wat goed is vir sy kind. Kinders speel elkgeval saam indie straat en ry fiets saam. Ek dink kinders het die stimulasie nodig wat die skole hul bied, maar dit moet elke ouer se eie besluit wees. Mens is net bang vir geweld in ouerhuise en hongersnood van kinders. Sterkte aan alle ouers met kinders opskool…

marius ·

Sinvol , maar die mense in beheer sal niks glo wat oor ‘n Suid afrikaanse dokter se lippe kom nie , want dit pas nie die narratief van die vakbonde wat die land se ware heersers is nie .

Sakkie ·

Dit gaan lankal nie meer oor die virus nie dit gaan soos met die ekonomie geleerdheid moet eers in sy maai in wees dan kan als aangaan

Wilhelmina ·

Wat as die skoolkind in aanraking kom mt covid via n onderwyser of werker by di skool of n ander kind…? Dan moet daai kind huis toe gaan en sy ouers en familie sal dan ook blootgestel wrd…dis goeie nuus vir ouers dt kinders onder 19 ni sal dood gaan sou hulle dt kry en hulle ht ni enige ander ernstige onderliggende siekte ni…maar niemand prt oor di feit dt wat gebeur as hulle by die skool in aanraking kom mt covid en dan moet huis toe gaan ni..wat van di kinders se families…wrd hulle dan ni ook blootgestel ni? Wonder maar net daar oor….

Pensionaris Sedgefield ·

Lees tog asb. die artikel behoorlik dan sal jy jou antwoord kry.

Morise ·

amen!! laat elke ouer self besluit wat hul met hul kinders wil maak. die onderwysers en unies wat wil toe maak…kom met beter voorstelle. wat doen jul volgende jaar wanneer COVID19 nog hier is in die winter…sluit jul dan weer die skole? wat maak die onderwyssektor so spesiaal dat hul nie hoef oop te wees in die tyd maar elke ander sektor moet oop wees…kinders wil by die skool wees. en elk ekind het n reg tot onderrig.

minniemuis ·

Soooo ek kan my kind in die middel van die pad laat speel want a) die motor kan betyds stop b) die kind kan weg hol c) die motor swenk verby. Die punt is geen ouer gaan sy kind laat siek word of seer kry in dien dit verhoed kan word nie. Hoekom die kans waag? Vreemder is dat 90% ouers kla dat hulle nie iemand het om ma die kind om te sien as hulle by die werk is nie. So gaan dit regtig oor leer geregtheid of oppasser ? Werkende ouers kla oor skool werk doen na n harde dag se werk maar tog word huiswerk al jare lank so gedoen.

Pensionaris Sedgefield ·

As ek jou so luister klink dit nie vir my of jy dink onderwys het enige waarde vir jou kind nie. “Hoekom die kans waag?” Omdat onderrig belangrik is vir jou kind! Of dink jy nie so nie. Lees die artikel behoorlik asb. Dit gaan nie daaroor of daar risiko is nie, dit gaan daaroor of daar onaanvaarbare hoë risiko is. Die antwoord is “NEE” Het jy enigsins gedink oor die moontlike fisiese en emosionele skade aan kinders om hulle by die huis te hou?

Johan ·

Hou dadelik op met ontsmeting en veral by die skool. Dit maak ons moontlik kwesbaar vir ander virusse ook…die wat werklik kwesbaar is moet voorsorg tref maar die res MOET aangaan en dit kry ook, dit is al hoe virusse kan stop. Ons is deel van die biosphere en kan ons nie daarvan isoleer nie, ons gaan n duur prys betaal as ons probeer. Sodra 60-70% van ons herstel sal dit ophou, maak daardie 60% die wat dit kan oorleef! Wat die gesondheidstelsel betref, dit het voor covid al gefaal, dit kan nie nou opgehelp word nie. Maak oop, alles, dadelik en los die ontsmetting, nou dadelik!!!!! Iemand maak geld uit die storie, sê bietjie wie.

Gilla ·

Dit is dalk feite, maar aan die ander kant, jy WEET nou daar is ‘n moontlikheid van 1 in 75000 wat in jou mag is om te vermy. Sal jy jou kind blootstel om moontlik (moontlik nie) daardie nommer 1 te word? Dis die groot vraag, want daar is groot onsekerheid oor hoe ernstig siek mens kan raak. Mens sal eers weet as dit gebeur, en dis is nie NET mense met komorbiteite wat dit erg kry nie. Dis ‘n 50/50. Sal jy met jouself kan saamlewe indien jou kind dit by die skool kry en hy/sy is daardie 1 in 75000?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.