CPS móét Sassa terugbetaal, sê hof

Begunstigdes wag in die ry by ‘n maatskaplike toelaag-betaalpunt in Nongoma, KwaZulu-Natal (1 April 2017). Foto: Twitter via @GovernmentZA

Cash Paymaster Services (CPS) mag nie appelleer teen ʼn uitspraak van die hof wat bepaal dat hy R316 miljoen terugbetaal aan die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) nie.

Die Konstitusionele Hof het bevind CPS se appèl het geen redelike kans op sukses gehad nie en kom ook nie in aanmerking as ʼn grondwetlike kwessie nie.

CPS is tussen 2012 en 2018 deur Sassa gekontrakteer om uitbetalings aan begunstigdes van maatskaplike toelaes te maak. Die waghond Corruption Watch het die hooggeregshof reeds in 2015 genader en versoek dat die hof ʼn buitensporige betaling van Sassa aan CPS hersien en tersyde stel, aangesien dit buite die bestek van die organisasies se kontraktuele ooreenkoms geval het. Die appèlhof het CPS gevolglik beveel om R316 miljoen met rente aan Sassa terug te betaal.

“Ons is oorstelp deur die Konstitusionele Hof se bevel en verwag dat Sassa so gou moontlik die ongeveer R500 miljoen van CPS moet verhaal,” sê David Lewis, uitvoerende hoof van Corruption Watch. “Die volle omvang van die CPS-Sassa-sage sal egter eers duidelik word wanneer die polisie die verhouding tussen lede van Sassa en die ministerie van maatskaplike werk enersyds en die bestuur van CPS andersyds ondersoek.” Lewis meen hierdie onwettige betalings is nie per ongeluk gedoen nie.

ʼn Onlangse berig deur GroundUp beweer boonop dat CPS in die ses jaar van dienslewering aan Sassa sy uitgawes aansienlik opgeblaas het om die wins minder te laat lyk as wat dit was.

CPS beweer hy het in die tydperk tussen 2012 en 2018 slegs R228 miljoen wins gemaak, aangesien hy miljoene moes bestee aan onder meer personeelkoste. Maar luidens ʼn verslag deur die rekenmeesters RAiN, wat deur Sassa genader is om hulp, het CPS se wins in dié tyd meer as R1 miljard beloop. Volgens RAiN is dit omdat CPS sy uitgawes oordryf het en sommige van die winste na sy moedermaatskappy Net1 herlei het.

Lewis het die Valke gevra om die ondersoek na verhoudings tussen die CPS, departement en Sassa te heropen en diegene wat baat gevind het by onwettige betalings aan die pen te laat ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda ·

Mooi man – hoop die geld gaan vinnig terug betaal word en die skuldiges gaan kry wat hulle toekom. Dankie Corruption Watch.

Sarel ·

Paar vrae: Wie gaan die pad wat die geld moet loop monitor om te verseker dit beland nie in verkeerde sak nie. Hoekom word Dlamini steeds beskerm?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.