CPS skuld Sassa miljoene

Argieffoto

Die Pretoria-hooggeregshof het die toelaagverspreider Cash Paymaster Services (CPS) opdrag gegee om R316 miljoen wat hy onwettig van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) ontvang het, terug te betaal.

Regter Moroa Tsoka het in haar uitspraak beslis dat die betaling aan die CPS onwettig was en “vir onbehoorlike doeleindes of motiewe bewerkstellig is” en opdrag gegee om die geld wat CPS sedert Junie 2014 ontvang het, met rente terug te betaal.

“Weens Sassa se onregmatige optrede is die fiskus van ʼn aansienlike hoeveelheid geld beroof wat bedoel is vir die mees kwesbare en arm mense van ons land,” het Tsoka gesê.

Die uitspraak is deur vele organisasies en instellings, waaronder die Black Sash-beweging, Corruption Watch en die South African National Civic Organisation (Sanco), verwelkom.

Jabu Mahlangu, Sanco se nasionale woordvoerder, het die uitspraak as ʼn oorwinning oor wanadministrasie en korrupsie bestempel.

“Hierdie korrupsie wat in die bodprosesse van staatkontrakbestuur ingesetel is, is ʼn wond van die ekonomie wat bloei. Dit moet dadelik aandag ontvang en stopgesit word,” het Mahlangu gesê.

Intussen het die konstitusionele hof Sassa se aansoek om sy kontrak met CPS met ses maande te verleng, goedgekeur.

Sassa het vroeër vanjaar ʼn dringende aansoek by die hof ingedien en gesê hy gaan nie gereed wees om die uitbetalings van toelae op 1 April oor te neem nie. Dit was die tweede uitstel wat Sassa toegestaan is sedert die hoogste hof verlede jaar beslis het sy kontrak met CPS was ongeldig.

Die konstitusionele hof het verlede jaar ʼn bevel opgeskort wat Sassa se kontrak met CPS ongeldig verklaar het. Sassa is kans gegee tot 31 Maart vanjaar om die CPS-betaalstelsel uit te faseer en begunstigdes deur, onder meer, die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) te betaal.

In Desember verlede jaar het Sassa en Sapo ʼn diensooreenkoms aangegaan. Volgens Sassa het hy sedertdien vordering gemaak met die uitfasering van die CPS-betaalstelsel, maar is nog nie in ʼn posisie waar die agentskap glad nie van CPS se infrastruktuur gebruik hoef te maak nie.

Ongeveer 17 miljoen mense in Suid-Afrika ontvang maatskaplike toelae van die regering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

snoefie ·

as cps geld wat hulle ontvang het vir dienste gelewer, moet terug betaal, gaan dlamini n oscar, sarie of n medalje kry?

SjN ·

Dlamini moet die tjo tjo geld terugbetaal en vervolg word, tjeers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.