CR ‘verwelkom’ Zuma se parool

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in sy hoedanigheid as president van die ANC tydens dié party se vergadering (lekgotla) gesê hy verwelkom die besluit van die departement van korrektiewe dienste om oudpres. Jacob Zuma op mediese parool vry te laat.

“Ons wens hom ʼn spoedige herstel toe.”

Zuma is Sondag parool toegestaan, nadat die departement ʼn brief van sy dokters ontvang het.

Ramaphosa het ook kommentaar gelewer op gewelddadige onluste wat in Julie uitgebreek het, nadat die einste oudpresident hom aan die polisie oorhandig het om sy tronkstraf van 15 maande te begin uitdien. Maroela Media het vroeër berig dat dié onluste onder die vaandel van oproepe vir die vrylating van oudpres. Jacob Zuma plaasgevind het.

Ramaphosa sê die ANC stem saam met Cosatu en die SAKP dat die samelewing moeg is vir misdaad en korrupsie, asook die oënskynlike onvermoë van die regering om daadwerklik hierteen op te tree.

“Burgers moet kan vertrou dat die polisie en staatsintelligensie-agentskappe oor die nodige kapasiteit en hulpbronne beskik om Suid-Afrikaners te beskerm.”

Ramaphosa sê burgerlike strukture het ʼn kernrol in die bekamping van verdere geweld tydens onluste in Julie vanjaar gespeel en dat konsekwente openbare aktivisme bevorder moet word, sowel as gemeenskapspolisiëringsforums.

Hy sê voorts dat alle skuldige partye wat dié gewelddadige betogings aangehits het, aan die pen moet ry.

“Dit vir ons [die ANC] ʼn prioriteit om te verseker dat sodanige misdadige optrede nie weer toegelaat word nie.”

Fluitjieblasers

Ramaphosa het verder die sluipmoord op Babita Deokaran, waarnemende finansiële hoof van die Gautengse departement van gesondheid, ten sterkste veroordeel.

Deokaran, ʼn fluitjieblaser, is buite haar huis doodgeskiet. Sy was een van meer as 320 getuies in die ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die private en openbare sektor.

“Ons veroordeel dié koelbloedige moord sowel as die moorde op ander fluitjieblasers.”

Ramaphosa sê fluitjieblasers speel ʼn uiters belangrike rol om korrupsie bloot te lê en dat diegene wat van korrupsie kan getuig, beskerm moet word.

“Fluitjieblasers moet die versekering hê dat hulle beskerm en bedank sal word.”

Ekonomie

Benewens verskerpte pogings om misdaad hok te slaan, sê Ramaphosa dat die ANC die dringendheid van werkskepping in Suid-Afrika besef.

Hy meen die Covid-19-pandemie het menigte Suid-Afrikaners in verdere armoede gedompel en werkloosheid verhoog.

“Werkskepping en die verligting van armoede is ʼn prioriteit.

“Ons moet meer vinniger doen om die behoeftes van ons mense aan te spreek.”

Ramaphosa sê voorts dat klein en mediumgrootte ondernemings (KMO’s) noodsaaklik is vir die skep van werksgeleenthede, maar tans swaar aan die gewig van regulatoriese beperkings weens die Covid-19-pandemie dra.

Volgens hom is die herposisionering van KMO’s belangrik en sal informele handelaars hierby betrek word.

“Ons sal verseker dat hulle nie aan onregverdige regulatoriese vereistes onderwerp word nie.”

Hy het ook die dringendheid van die herbouing van die ekonomie beklemtoon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

51 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Ja Ramamparra, die Julie opstande het begin by Zuma se vrylating en binne drie dae verander na jou kop op die blok en die mense wil ontslae raak van jou. Wees maar waaksaam en wie jy mee saam tee drink

Werner

Natuurlik sal hy.Nou is sy geheime veilig.Wonder wat hulle ou zuma betaal het sodat hy kon maak of hy n paar dae in die tronk deurgebrig het.

Gert

Sê als wat die mense wil hoor maar doen net mooi niks daaraan nie

SjN

Ramaposha, julle kaders is almal dieselfde.

Philip

Merk my woorde daar sal miskien n handtjievol korruptus aangespreek word maar die oorgrote meerderheid sal n algemene amnestie kollektief kry en sal voorgehou word dat op n skoon bladsy weer begin moet word.Die blanke korruptus sal maar lelik aan die kortste ent trek soos dit al met n hele paar gevalle gebeur het en ou ramparra probeer van al die kante die ANC verontskuldig saam met al die nuttelose kaders.