CR17-veldtog: T-hemde, lugtyd gekoop, maar nié stemme

Pres. Cyril Ramaphosa bestudeer Donderdag dokumente tydens sy getuienis voor die Zondo-kommissie. (Foto: Kim Ludbrook/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag in sy getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping ontken dat geld wat vir sy CR17-veldtog ingesamel is, ooit gebruik is om stemme mee te koop.

Ramaphosa getuig vandag vir die tweede dag voor die kommissie in sy hoedanigheid as president van die ANC.

Adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier, het aan Ramaphosa gesê dat die kommissie daarvan beskuldig word dat hy die president sagkens hanteer, maar dat die publiek moet besef dat dit nie ʼn verhoor is nie, maar ʼn kommissie van ondersoek.

Hy het Ramaphosa daarna oor skenkings aan die veldtog uitgevra.

Ramaphosa het getuig dat sowat R300 miljoen vir sy veldtog ingesamel is, en nie die R1 miljard soos uit sommige oorde aangevoer is nie.

Ramaphosa het getuig die geld is nooit gebruik om stemme mee te koop nie en sê hy wil nooit deel wees van so ʼn veldtog nie. “Ek sal eerder die stryd verloor as om stemme te koop,” het hy getuig.

Ramaphosa sê die geld is onder meer gebruik om vir vervoer en venues, T-hemde, pette, kos en lugtyd te betaal.

Sy veldtogbestuurders het egter doelbewus die name van skenkers van hom weerhou sodat dié skenkers nie later druk op Ramaphosa kon toepas om na hul pype te dans nie, het hy getuig. Hy sê dit is só gedoen om ʼn skans tussen hom en die skenkers te vorm.

“Daar was niks sinisters aan die CR17-veldtog nie, niks onderduims nie.”

Ramaphosa sê hy het wel later van die skenkers aan die CR17-veldtog leer ken.

Hy het ook toegegee dat Gavin Watson, voormalige uitvoerende hoof van Bosasa, ʼn skenking ten bate van die veldtog gedoen het. Die geld is oënskynlik van een van Watson se rekeninge na ʼn ander oorgeplaas, wat die bewerings van geldwassery tot gevolg gehad het.

Die CR17-veldtog was reeds die onderwerp van ander ondersoeke.

Ramaphosa het Donderdag weer volgehou Watson se skenking is in sy persoonlike hoedanigheid gedoen en dat daar nie geldwassery by betrokke was nie.

Ramaphosa het ook getuig daar is geen regulasies wat interne verkiesingsveldtogte in die ANC reguleer nie en dat hy die party se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) self genader het met die versoek dat maatreëls daaroor ingestel word. Dit is nog nie gedoen nie.

Ramaphosa het ook getuig dat die wetgewing oor die finansiering van politieke partye uit ANC-gesprekke spruit.

Pretorius wou kort tevore by Ramaphosa weet hoe dit moontlik kon wees dat waaksame lede van die ANC nie sou geweet het dat Bosasa die ANC met skenkings en ander voordele help, selfs al het die maatskappy groot kontrakte met die regering nie.

Ramaphosa sê hy was self by dié verkiesingskantoor en dit het nie by hom opgekom dat Bosasa namens die ANC daarvoor betaal het nie.

Pretorius het voorts gesê dit sou ook moeilik wees om die gevolgtrekking te vermy dat die ANC skenkings van Bosasa ontvang het onder omstandighede wat behoorlik ondersoek moes word en dat die beginsel dat die ANC nie wetende geld onder twyfelagtige omstandighede sou aanvaar nie, oortree is “omdat mense geweet het. Die destydse president het geweet,” het Pretorius dit aan Ramaphosa gestel.

“Ja… ja.” het Ramaphosa geantwoord en sy kop geknik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jakkie ·

Dis nie sy skuld nie, hy het van niks geweet, maar later uitgevind, kom ons kyk wat maak sy nuwe party.

Charles ·

As hy sonbrille en selfone bygegooi het sou hy geen opposisie gehad het nie.

Anel ·

Hy het nie stemme gekoop nie maar t-hemde en gratis lugtyd uit gedeel? Hoe is dit nie stemme koop nie? Korrup! Aanvaar ook nie verantwoordelikheid vir niks nie. En dis nou ” n president! Jammer Zondo kan nie die ANC weer ontbind en verban nie!!!

Sambok ·

Nie stemme gekoop nie!!!dis presies wat hulle gedoen het-word net anders gespel

Lourens CFG ·

Ek het lanklaas die Zondo kommisie gekyk, vanmiddag kyk ek weer.
Maar, hulle lag en gesels so, al wat hul nog kort is ‘n braaivuur en ‘n dop in die hand.
Ek sê nie hulle moet vyandig wees nie, maar stel die vrae kort, saaklik, duidelik sonder doekies omdraai. Die ou wat vanmiddag “vrae” gevra het, praat amper 8 min, en dan vra hy nie ‘n vraag nie.
NEE, berei jou vrae voor die tyd, kom daar, en vra.
Die persoon wat moet getuig moet die meeste praat om vrae te antwoord, en nie om lang stories te vertel nie. Hy vra nou met ‘n ge-umm, en ‘n ge-a a a , soos een wat nie weet wat hy wil sê nie.
Bring professionaliteit in aub dat ons direkte antwoorde kan kry.
Wens ek kan dit direk vir adv. Zondo sê en vra.

Johann ·

Ja wel Pinocio se neus het vorentoe gegroei van lieg. Dit wil vir my voorkom asof daai masker erg gerek word na die kante toe om voorsiening te maak vir kantwaartse groei…..

SomeOne ·

ramma het voor die tyd al die vrae geken en sy antwoorde soos ‘n resitasie geleer

Jack ·

In sa is kospakkies n wenner om stemme te kry en dit kos geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.