Cradock-4 se families eis antwoorde by vervolgingsgesag

Die Cradock Vier se grafstene. (Foto: Foundation for Human Rights)

Die families van die vermoorde anti-apartheidsaktiviste wat as die Cradock Vier bekend staan, het hulle tot die hof gewend om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te dwing om redes te verskaf vir sy versuim om ʼn besluit te neem oor die moontlike vervolging van diegene wat glo verantwoordelik was vir die dood van hul geliefdes.

Fort Calata, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto se families het ʼn aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien wat die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDPP) versoek om die NVG se volledige rekords hieroor beskikbaar te stel. Die stap volg op hul hoofaansoek wat vra vir ʼn bevel dat die polisie en NVG se voortgesette versuim of weiering om ʼn besluit oor die ontvoering, marteling en moord van Calata, Mhlauli, Mkonto en Matthew Goniwe onregmatig en strydig met die Grondwet is.

Goniwe, Calata, Mhlauli en Mkhonto was in Junie 1985 op pad terug van Port Elizabeth na Cradock toe hulle vermoedelik deur die Suid-Afrikaanse Polisie se veiligheidstak by ʼn padblokkade in hegtenis geneem, aangerand en vermoor is.

Mkhonto en Mhlauli se liggame is kort ná die voorval by ʼn stortingsterrein in Port Elizabeth gevind, terwyl Calata en Goniwe se liggame dae later in ʼn baai gevind is.

Al vier mans was erg aangerand en hul oorskot verbrand.

ʼn Ondersoek in 1987 het bevind dat die vier deur onbekende persone vermoor is, maar jare later het dit aan die lig gekom dat dit glo aan die hand van ʼn aantal polisiebeamptes was.

In die hofaansoek vra die applikante ook dat die NVG en die polisie hul ondersoeke afhandel en ʼn besluit oor vervolging neem.

Die aansoek is op die NDPP, die minister van justisie en korrektiewe dienste, die polisiekommissaris en die minister van polisie beteken en die vier respondente het aangedui dat hulle die aansoek gaan teenstaan.

Regsverteenwoordigers vir die vyfde tot 17de respondente in die saak – moontlike verdagtes in die Cradock Vier-saak – het aangedui dat hul kliënte nie die aansoek gaan teenstaan nie.

Moontlike verdagtes in die saak sluit onder andere in die voormalige weermagoffisier Christoffel van der Westhuizen asook oud-polisiebeamptes Hermanus du Plessis, Craig Williamson, Gerrit Erasmus, Izak Engelbrecht en Johan van der Merwe.

Die name van voormalige ministers, adjunkministers en amptenare wat op die staatsveiligheidsraad gedien, onder wie Adriaan Vlok, Barend du Plessis, oudpres. FW de Klerk, Lukas Barnard, Daniel Nel en Samuel de Beer, word ook deur die Stigting vir Menseregte genoem.

Die sewende respondent in die saak is Eric Winter, voormalige hoof van die veiligheidstak op Cradock. Hy is egter in Augustus vanjaar dood.

“Sy dood voordat  hy in die hof kon verskyn beroof die families van die kans om hom aanspreeklik te hou. Die diepe ongeregtigheid benadruk die behoefte dat die owerhede met groot dringendheid optree.

“Ander respondente is bejaard en nie gesond nie. Elke dag vergroot die kans dat meer moordverdagtes geregtigheid kan ontduik.”

Ingevolge die familie se aansoek moes die NVG binne vyf dae sy rekords oor die saak bekend maak. Hy het dit nie gedoen en die families se regsverteenwoordigers, Cliffe Dekker Hofmeyr, het die NVG aangemaan om dit teen 20 September te doen. Die NVG het ook versuim om aan dié kennisgewing te voldoen en die prokureurs het die aansoek ingedien dat die rekord beskikbaar gestel moet word.

Indien die aansoek toegestaan word, moet die NVG binne vyf dae aan die bevel voldoen om die rekord te verskaf.

“Die NVG se gedrag, om howe se sperdatums te verontagsaam, is betreurenswaardig. Sulke optrede vertraag verrigtinge selfs verder en skep meer hindernisse in die lang pad na geregtigheid,” sê die stigting.

Die familie sê boonop die NVG se opponering van hul aansoek – eerder as om ʼn datum vir die bekendmaking vir ʼn besluit oor vervolging te gee – is ongelukkig maar nie verrassend nie en dat sogenaamde apartheid-era-sake sedert die afsluiting van die Waarheids-en-Versoeningskommissie aan die kortste ent getrek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hardekwas ·

As daar geregtigeid moet geskied, laat dit geskied, maar so ook vir elke persoon wat deur n terroris gedood/beseer is.

Drico ·

Wat goed is vir die een is goed vir die ander. As ondersoeke gelei moet word (wat eintlik reeds afgesluit is) wat baie jare terug plaasgevind het, dan moet bom aanvalle ens van anti-apartheid optrede ook weer ondersoek word. Visa-versa…

Misky ·

Hulle was bekend as “anti-apartheidsaktiviste”. Daardie jare was dit moeilikheidmakers, bomplanters en moordenaars en beskou as ‘n gevaar. Geen engeltjies nie.

Wat op dees Aarde ·

En die witmense was engeltjies om hulle so te behandel en daartoe te dryf? Sins of the father is waarmee ons vandag sit.

Nie Verbaas ·

Die families van die slagoffers van die destydse ANC bomplanters moet ook eintlik aandring op vervolging van die skuldiges.

Dup ·

ANC lede en kaders vermoor mekaar amper elke dag,(veral gedurende verkiesingstye); so dan moet daar tog “geregtigheid” vir daardie slagoffers ook wees.Of is daar verskillende reëls vir verskillende mense?

Swerwer ·

Dit is nou net weer om aandag te trek en vergoeding te eis. Absoluut niks word omtrent die moorde/plaasmoorde wat gepleeg word gedoen nie. Ons moet maar net eenvoudig aanvaar wat aan die gebeur is maar hulle kan te kere gaan net soos hul wil en daar sal altyd fondse beskikbaar wees.

Anel ·

Hulle was terroriste. So hou nou op met julle gekarring! As julle geld en tyd het, spandeer dit op vandag se misdaad wat net erger word. As ons moet begin vergelding soek vir almal wat daai jare dood is, gaan die hele regering tronk toe moet gaan. En hulle is in elke geval dood voor die nuwe grondwet. Dit was oorlog in elke geval. Die ANC was onwettig.

Anoniem ·

Gee liewers aandag aan dit wat NOU aan die gang is. Byvoorbeeld al die PLAASMOORDE. ALLE rasse word uitgemoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.