Cradock-juffrou steeds vermis; verdagte in hof vir moord

Theresa Buys.

Theresa Buys.

Marius Isaacs, ʼn 25-jarige man van Cradock in die Oos-Kaap, het in die hof verskyn op aanklag van moord nadat Theresa Buys, ʼn 43-jarige kunstenaar en onderwyseres, verlede Maandag vermis geraak het.

Isaacs het Vrydag in die Cradock-landdroshof verskyn en die saak is tot 18 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. Hy bly in aanhouding.

Buys, wat sedert die begin van die jaar kuns by die Voorbereidingskool Cradock gee, is Maandag vir die laaste keer gesien toe sy die skool verlaat het. Sy woon alleen in ʼn huis op ʼn plaas wat sy by ʼn boer in die omgewing huur.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord nadat Buys se buurvrou Dinsdagmiddag ʼn plas bloed in Buys se huis aangetref het. Die Cradock-polisie het Woensdagmiddag Buys se voertuig verlate in die Michausdal-woonbuurt opgespoor. Die polisie het Isaacs daarna in hegtenis geneem.

Hy is glo ʼn werker op die plaas waar Buys woon. Hy het glo aan die polisie erken dat hy haar vermoor het en haar liggaam in die Visrivier gestort het.

Kapt. Stefanie Smith, ʼn woordvoerder van die polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê Buys se liggaam is nog nie gevind nie en dat die polisie se honde-eenheid steeds die area fynkam op soek na haar liggaam.

Lees ook:
Cradock-juffrou steeds vermis
Cradock-juffrou vermis; polisie ondersoek moord

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.