’n Vriendin van Meghan Cremer (30) het Donderdag bevestig dat een van die verdagtes in die moord op Cremer aan haar familie bekend is en dat dié verdagte op die perdeplaas, waar Cremer gewoon het, gewerk het.
Linda Mohr het Donderdag op Facebook gesê haar familie ken die 27-jarige wat van Cremer se moord aangekla word. Dié onthulling volg nadat die Mohr-familie vandeesweek met vrae oorrompel is oor hoekom ’n familielid van hulle met die spesifieke verdagte op sosiale media bevriend is.
“[Die verdagte] is gebore en het grootgeword op van ons familielede se plaas in die area langs ons [plaas]. Hy was ’n werker op ons onderste plaas, maar het geen kontak met ons kliënte of hul perde gehad nie,” lui die inskrywing.
Cremer was ’n kranige perderuiter en dit blyk uit die plasing dat die betrokke plaas die Vaderlandsche Rietvlei-stalle is waar Cremer gewoon het.
Mohr sê dat die familie platgeslaan is deur die besef dat die werker betrokke is by die moord op Cremer. “As ’n familie rou ons nie net oor die verlies van ons geliefde Meghan nie, maar die wete dat [die verdagte] betrokke was kom as ’n groot skok vir ons almal.”
Maroela Media het vroeër berig drie verdagtes het gister vlugtig in die Athlone-landdroshof verskyn in verband met die moord op Cremer.
Cremer se liggaam is vroeër die dag, omstreeks 01:00, in ʼn sandmyn op ʼn plaas in Philippi gevind. Sy het Saterdag spoorloos verdwyn nadat sy haar huis in Philippi verlaat het. Sy woon in ʼn kothuis by die Vaderlandsche Rietvlei-stalle en is Saterdag omstreeks 18:00 in haar Toyota Auris daar weg. Haar motor is Maandag in Grassy Park opgespoor.
Die verdagtes verskyn weer op 15 Augustus in die hof.
Hoewel die verdagtes reeds in die hof verskyn het, kon die polisie of die Nasionale Vervolgingsgesag nie in dié stadium die name van die verdagtes aan Maroela Media bevestig nie.
Mohr het sedertdien op Facebook gevra dat diegene wat sou wou Cremer se geliefdes by die Vaderladsche Rietvlei-hek vandag om 11:30 ontmoet om strikkies om dié hek te bind ter herinnering aan haar.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
29 Kommentare
Bring net asseblief weer die doodstraf in
Ek bly ook op n hoewe, waar die eienaars se werker soos n seun in hulle huis is, hulle vertrou hom met hul lewe. Ek vertrou hom nie sover as wat ek hom kan gooi nie!!!!
RIV Meghan. Dit sal goed wees om doodstraf terugtebring. Maar ongellukig gan dit nie werk nie. Die verkeerde mens gaan doodstraf kry. En ek gee een raaiskoot – wie. En die regte moordenaars gaan die galg vryspring. Hulle sal wel ñ “loophole” kry
Snaaks. Op News24 word die verdagtes se name en ouderdomme verstrek.
Ek wonder hoe lank dit ons Suid Afrikaners nog gaan neem om te besef ons sal moet leer om selfwerksaam te wees. Veral in en om ons huis.
Ons gemaksug is een van ons grootste vyande.