Cullinan se blou knoets opgeveil vir miljoene

De Beers se Cullinan Blue (Foto: Sotheby’s)

Die grootste blou diamant tot op hede – en dít in Cullinan in Gauteng – gemyn, is vir HK$450,9 miljoen (sowat R912 miljoen) in Hongkong opgeveil.

De Beers se Cullinan Blue het Woensdagaand ná ’n agt minute lange telefoniese bodoorlog tussen vier hoopvolle kopers eindelik  aan ’n anonieme koper gegaan.

Die afslaers Sotheby’s het gesê die diamant van 15,10 karaat is die grootste foutlose, trapgesnyde helderblou diamant wat nog ooit deur die Gemological Institute of America (GIA) gegradeer is.

Volgens Sotheby’s is blou diamante uiters seldsaam, met slegs vyf voorbeelde van meer as 10 karaat wat nog ooit opgeveil is. Dit is egter die eerste keer wat ʼn blou diamant van meer as 15 karaat opgeveil is.

Die Cullinan Blue is uit ʼn growwe klip gesny wat verlede jaar in Cullinan ontdek is.

Die Cullinan-myn het reeds baie van die wêreld se bekendste diamante opgelewer, waaronder die 530 karaat Great Star of Africa wat vir ʼn tyd lank die grootste gepoleerde diamant in die wêreld was. Dit is in 1869 ontdek.

Die jongste blou diamant is egter groter as die Oppenheimer Blue – ʼn steen van 14,62 karaat wat die wêreldrekordprys vir ʼn blou diamant in Mei 2016 opgestel het toe dit vir $57,5 miljoen (meer as R860 miljoen) verkoop is.

De Beers se Cullinan Blue (Foto: Sotheby’s)

Bronne: Sotheby’s, CNN Style.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MJ ·

WOW….Maar wat doen mens daarmee?
Geen vrou kan mos met R 900 m aan haar vinger of om haar nek loop nie …

kaplyn ·

MJ jy is reg, mens kan nie waag om in SA met so ‘n ding aan jou vinger of om jou nek te loop nie. As ek in JHB loop het ek altyd in nagemaakte trouring aan. Dit is van tin gemaak. Die regte een los ek by die huis.

Misky ·

Ek sou graag die eintlike grootte wou sien in skaal, soos wanneer iemand dit vashou in hul hand byvoorbeeld.

koos ·

Sorry angloamerican, debeers Premier myn te gou verkoop nè!

Lillian ·

Nou as dit ons diamant is hoekom veil China dit op, en waar is die geld heen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.