Curro nou ‘nóg meer gesog’

Curro Hermanus. (Foto: Verskaf)

Die private onderwysgroep Curro het vir die soveelste jaar ʼn groei in leerdergetalle én winste getoon. Dit wil boonop voorkom of leerdergetalle en inkomste jaarliks teen ʼn vinniger koers groei, ten spyte daarvan dat die Covid-19-pandemie baie Suid-Afrikaners in ʼn finansiële verknorsing gedompel het.

Die groep het Woensdag sy finansiële resultate vir die jaareinde 31 Desember 2021 bekendgemaak.

Hiervolgens het die gemiddelde getal jaarlikse leerders sedert 2020 met 9%, van 60 777 tot 66 447, toegeneem. Dit is meer as die 6% waarmee die getal leerders tussen 2019 en 2020 toegeneem het. Curro het die afgelope jaar boonop net een skool bygekry, teenoor die 11 nuwe skole wat tussen 2019 en 2020 tot die groep bygevoeg is.

Teen 18 Februarie het 70 408 nuwe leerders reeds vanjaar by die skool ingeskryf, ʼn 6% toename teenoor dieselfde tyd verlede jaar. Dit is bo en behalwe die 1 169 leerders wat by Curro se nuwe HeronBridge College begin het.

“Sedert 2017 sien ons jaarliks ʼn groei van tussen 6% en 12% in leerdergetalle. Sedert die begin van die Covid-19-pandemie wil dit voorkom of ons skole selfs meer gesog as voorheen is,” het Andries Greyling, uitvoerende hoof van Curro Holdings, aan Maroela Media gesê. Hy meen die kleiner klaskamers en gehalte-onderrig wat leerders kry, is die rede vir die deurlopende groei.

Nietemin sê Greyling privaatonderwysinstellings kan nooit openbare skole heeltemal vervang nie en dat die openbare en privaatsektor saam moet werk om ʼn werkbare oplossing vir gehalte-onderwys in Suid-Afrika te bied.

Greyling sê daar is wel leerders wat jaarliks Curro se skole vir ʼn ander skool verlaat, onder meer omdat ouers nie meer die skoolfonds kan betaal nie. “Ons weet dat die koste van onderwys in die Suid-Afrikaanse konteks ʼn uitdaging kan wees. Ons probeer ouers tegemoet kom deur verskillende onderrigmodelle wat verskillende kosteopsies bied,” sê Greyling.

Die groep het verlede jaar ʼn wins van R3,5 miljard getoon. Dit is ʼn 15% toename in die R3 miljard wins wat die groep in 2020 gemaak het. Dit is ʼn heelwat groter groei in wins as die jaar tevore, toe wins met 5% van R2,9 miljard in 2019 tot R3 miljard in 2020 toegeneem het. Die inkomste uit skoolgeld wat gehef is, het ook verlede jaar met 11,8% toegeneem teenoor 2020. Agterstallige skoolfondse wat afgeskryf is as slegte skuld was ook minder (R131 miljoen) as in 2020 (146 miljoen).

Greyling sê hy hoop leerders kan vanjaar ʼn meer gebalanseerde skooljaar beleef en dat hulle sal kan deelneem aan die reeks buitemuurse aktiwiteite wat Curro-skole aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Realis Thailand ·

Wat n uitstekende skool en konsep
Die kwaliteit onderwys is goed en my kleinsuen is in n Curro skool ingeskryf in die Wes Kaap in Hermanus
Hy was vroeer in Cornwall college in Pretoria maar sy ouers het ongeveer 5 jaar gelede getrek na Kleinmond naby Hermanus.
Hy se hy geniet die skool meer as Cornwall
Ek sal die Curro skole aanbeveel vir enig ouer wie die ektra paar Rand kan bekostig

Witbaard ·

Dit is wat gebeur as n instansie deur KUNDIGES bestuur word, Cyril!!!

Lourens ·

Dit is net “Sad” om te sien dat Curro soveel Miljarde maak maar die Onderwysers kry nie verhogings nie….

Jaco ·

Geen godsdiensonderrig in Curro skole nie… Ek sê maar net.

Realis Thailand ·

Die ouers kan die kinders by die huis godsdiens leer as hulle wil
Godsdiens is in my oe n mors van tyd
Beter boeke om te lees as die bybel.
Moet aub nie my kommentaar verwyder nie

Di ·

Baie Afrikaans sprekende ouers haal hulle kinders uit die OORVOL skole uit! Die klasse is te groot vir een onderwyser om te behartig en die leerders kry nie die nodige aandag nie. DIT is die groot oorsaak dat leerders se punte daal en hulle sukkel om sekere vakke baas te raak, veral Wiskunde. Mense volg nou die Tuisonderrig roete en party se kinders is in privaat klein opvoedings organisasies. My kleindogter doen al die afgelope 3 jaar tuisonderrig en vaar uitstekend! Daar is 5 van haar skoolmaats wie se ouers ook hulle kinders uit die skool gehaal het en hierdie roete volg het. Dink dit sal die toekoms wees vir Afrikaans sprekende kinders. Skole is nie meer wat dit was, TE VEEL kinders word ingesprop om plek te maak vir “our people”

Huldi ·

Dis fantasties om te sien hoe wonderlik die Curro skole doen en hoe goed dit finansieel met hulle gaan…dis net jammer dat slegs die top bestuur daarvoor vergoed word. Dit terwyl die onderwyspersoneel, wat die werklike helde is en uit hul pad uit gaan om van Curro ‘n sukses te maak, jare laas ‘n verhoging gehad het. Sou voorstel ten einde jul welgestelde finansiele sukses voort te sit, begin jul personeel beter op te pas.

Koos ·

Dit is goed vir ‘n Curro om sulke uitstekende groei en finansieele resultate bekend te stel.
Dit is tog jammer dat die volgende by Curro gebeur:
1. Volgens inligting het senior personeel in Curro gereeld hulle jaarlikse salaris aanpassings ontvang.
2. Gewone onderwysers het egter laas einde Maart 2019 salaris aanpassings ontvang. Dit nie teenstaande die feit dat Curro onderwysers seder 2020 met Covid “lockdown” moes leer om oor die internet class te moet gee en later in klas en oor die internet gelyktydig. Dit het hulle werkslading baie verhoog sonder enige dank daarvoor. Dit is jammer dat resultate op die rug van hulle onderwysers se opoffering verkry moet word. Vertrou dat daar hierdie jaar aanpassings sal wees en dat onderwysers inlyn gebring sal word met dit ingedagte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.