Curro se leerders, wins neem toe midde Covid-19

Curro Hermanus. (Foto: Verskaf)

Curro Holdings, een van die grootste verskaffers van privaat onderrig in Suid-Afrika, se wins en leerdergetalle het die afgelope ses maande toegeneem. Dit terwyl talle openbare skole die afgelope maande spook om skoolfonds in te samel omdat leerders vir maande al nie skool toe gaan nie.

Luidens Curro Holdings se jongste finansiële state, wat Woensdag bekend gemaak is, het die maatskappy se wins in Junie vanjaar met 7% toegeneem tot R1, 59 miljard, in vergelyking met Junie 2019 se R1, 48 miljard. Leerdergetalle in Curro-skole het ook met 5% toegeneem van 57 173 in Junie 2019 tot 59 967 vanjaar.

Curro-skole se inkomste voor belasting het ook die afgelope jaar met 11%, van R491 miljoen tot R546 miljoen, toegeneem. Maroela Media het vroeër berig dat openbare skole toenemend in die knyp is weens ʼn gebrek aan inkomste omdat ouers nie meer skoolfonds betaal nie. ʼn Opname deur onderwysvakbonde het gewys dat net 21% van die ouers in openbare skole op hierdie stadium skoolfonds betaal.

Andries Greyling, uitvoerende hoof van Curro. (Foto: Verskaf)

Meer as die helfte van dié skole kon weens skoolgeld wat weerhou word nie hul munisipale rekeninge vereffen nie, 44% kon nie leermateriaal druk nie, 58% kon nie administratiewe personeel betaal nie, 47% van die skole kon nie veiligheidsbeamptes bekostig nie en 68% van die skole kon nie onderwysers betaal nie.

Curro se kampusse het ook die afgelope ses maande van 70 tot 76 toegeneem en die getal skole van 166 tot 177.

“Ten spyte van die impak en onsekerhede wat deur die Covid-19-pandemie meegebring is, het Curro daartoe verbind gebly om gehalte onderrig aan leerders en hul ouers te verskaf,” sê Andries Greyling, uitvoerende hoof van Curro Holdings. Hy sê onderwys het wel nie op die tradisionele wyse plaasgevind nie, maar deur middel van die gebruik van bestaande digitale hulpbronne wat verbeter en uitgebrei is. “Ons sal die akademiese jaar voltooi en die totale kurrikulum dek en leerders sal dien ooreenkomstig aan die einde van die jaar hieroor getoets word.”

Curro het ook in dié tyd ʼn aanlyn skool gestig vir gr. 4- tot gr. 9-leerders wat in afgeleë gebiede woon. Teen einde Julie het 400 leerders reeds hiervoor ingeskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Baie boer nog voorentoe…die ANC agtertoe, maar probeer dit stop sit dat die wat voorentoe boer dit doen. Skoon jaloers op die die Afrikaanse Universiteit wat op gaan in Pretoria, en dit word gebou met mense se donasies, geen goverment geld.

Pieter

Die menisters verdien mos baie geld hoekom gaan hulle kinders nie na n staats skool toe nie

Wielspore

Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg, geluk aan Curro met hulle sukses resep. Ons is gelukkig dat ons kleinkinders in ‘n goeie skool in Roodepoort is, dit is ‘n model C skool. Die bestuur en onderysers is puik omdat hulle ten spyte van Covid 19 seker gemaak het die leerders hulle leerwerk elke week gekry het. Daar is geen agterstand met onderrig en die nodige voorsorg is getref om na die kinders om te sien as hulle nie klas loop, dit sonder enige bykomende koste vi die ouers.
Wel gedaan Laerskool Horison Roodepoort.

Chris

Net ‘n vraag , wat is julle planne met Afrikaans by Curro by Somerset Wes? of swyg ons gerieflik hieroor

Vra maar net

En ten spyte hiervan het Curro se onderwysers glad nie hierdie jaar enigsins ‘n verhoging gekry nie en word daar van hulle verwag om dubbel so hard as gewoonlik te werk. Waaraan het Curro sy goeie kwaliteit van onderwys en wins te danke? Aan die onderwysers wat elke dag, ten spyte van moeilike omstandighede fisies in die klas en aanlyn skoolhou. Daar word hoeveel nagte en naweke deur onderwysers om gewerk. Verdien die onderwysers nie ook om ‘n klein deeltjie van hierdie wins te kry nie?