CVO-, Curro-skole se matrieks presteer goed

(Argieffoto)

Matrieks by Curro-skole landwyd het weereens skitterend presteer en spog met ʼn slaagsyfer van 99% vir die 2021-skooljaar. Altesame 1 774 leerders by 31 Curro-kampusse landwyd het verlede jaar die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eksamen afgelê.

Michaela Noelle van der Waag, ʼn leerder van Curro Langebaan en Megan van der Walt van Woodhill College, was twee van die toppresteerders. Albei was in die top 5% in ses of meer vakke. Kenzo Sandenbergh, ʼn leerder van Grantleigh, het ook erkenning gekry vir haar uitstekende prestasie. Sy was in die top 5% van leerders in vyf vakke.

Elizabeth Montgomery van Curro Hermanus het 100% in ingenieurswese, grafika en ontwerp behaal, terwyl Lana de Waal van Curro Langebaan 100% vir wiskunde behaal het.

Curro sê hy is ongelooflik trots op leerders se uitslae nadat hulle onder uiters ontwrigtende omstandighede sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie moes werk.

“Dit is die twee jaar wat ons 2021-matriek se studie ontwrig is, maar hierdie uitslae wys die stoffasie waarvan hulle gemaak is. ʼn Mens moenie die reis wat ʼn leerder volg om tot by gr. 11 en 12 te vorder uit die oog verloor nie,” sê Andries Greyling, uitvoerende hoof van Curro Holdings.

“Die klas van 2021 het geweldige ontwrigting verduur en die meeste onderrig het tuis plaasgevind. Curro se vinnige oorgang na virtuele onderrig het leerders gehelp om die uitwerking van die pandemie beduidend te verminder, maar hulle moes aanpas terwyl sommige van hulle dalk familielede verloor of uitdagings tuis gehad het.”

Altesame 70% van Curro se leerders het ʼn minimum C-gemiddeld behaal en 191 leerders spog met ʼn A-gemiddeld.

“Dit wys die leerders se manmoedigheid wat betref hul studie en verbintenis tot sukses,” sê Greyling.

CVO-skole ook skitterend

CVO-kandidate het ʼn slaagsyfer van 98% in die IEB-eksamen behaal nadat 12 857 voltydse kandidate vir die eksamen ingeskryf het.

Uit dié leerders het 80% van kandidate toegang tot graadstudie behaal, ʼn verbetering van die 79% in 2020 en die 74% van leerders wat dit in 2019 behaal het.

Danél Hoogenboezem van CVO Potgietersrus en Retha Papenfus van CVO Pretoria het elk ses onderskeidings behaal. Sulize de Bruin van CVO Pretoria, Jaques Rix en Kayla van der Merwe, albei van CVO Lichtenburg, Frans en George du Plessis, van CVO Omega in Kareedouw en Pieter Willem Möller, van CVO Gromar, het elk vyf onderskeidings behaal.

Sulize is boonop onder die beste 1% van IEB-kandidate in Afrikaans Huistaal en Engels Eerste Addisionele Taal.

Lucia van Wyk, uitvoerende hoof, stem saam dat die matriekklas van 2021 besondere vermelding verdien weens die enorme uitdagings wat die koronaviruspandemie meegebring het.

“Hulle het die laaste twee jaar op skool baie swaar gekry weens Covid-19. Dit is nie net onsekerheid nie, maar ook trauma wat hulle beleef en ervaar het. Hulle het egter besondere aanpasbaarheid en deursettingsvermoë getoon en uitgestyg bo al die uitdagings. Ons is baie trots op hulle.”

Die beste CVO-presteerders in die afsonderlike vakke word Vrydag tydens ʼn glansdinee vereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Dit kan ook so wees in die res van die skole mits die departement kyk na die kwaliteit onderwysers wat geplaas word en sorg dat die skole behoorlik befonds word en in stand gehou word.

Jaco ·

99% slaag. Dan is dié privaat skole se standaarde ook maar laag.

Jaco ·

Nee ek het nie. In 1985 was onderwysstandaarde hoog en net dié wat regtig slim was het onderskeidings gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.