Cyril Ramaphosa is SA se nuwe president

Pres. Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa, president van die ANC, is pas as Suid-Afrika se nuwe president ingehuldig.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Ramaphosa as president van die land aangewys.

Ramaphosa is deur die ANC genomineer en het die nominasie aanvaar. DA-LP’s het kreungeluide gemaak terwyl Ramaphosa benoem en as ʼn “onselfsugtige, gedissiplineerde leier” beskryf is. Geen ander nominasies is gemaak nie.

Mosioua Lekota, leier van Cope, het Ramaphosa se nominasie teengestaan. Volgens Lekota het die konstitusionele hof reeds beslis dat hy sy ampseed verskeie kere verbreek het. ANC-LP’s het begin sing en dans nadat Ramaphosa as president van die land aangewys is.

Die EFF het met die aanvang van die verrigtinge versoek dat die nasionale vergadering ontbind word en dat ʼn verkiesing moet plaasvind. Die EFF-LP’s het kort hierna die nasionale vergadering verlaat nadat Julius Malema, leier van die EFF, gesê het hulle kan nie deel wees van die “onregmatige proses” nie.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Ramaphosa gelukgewens en gesê indien hy optree in belang van die mense van Suid-Afrika sal die DA saamwerk. Hy het ook gesê die land het nie ʼn Jacob Zuma-probleem gehad nie maar ʼn ANC-probleem. Hy het gesê die DA sal Ramaphosa verantwoordbaar hou.

Narend Singh, IVP-LP, het gesê hulle weet Ramaphosa het nie ʼn towerstaffie om die verlede uit te wis nie, maar hulle is seker hy sal die regte ding doen. Singh het gesê hulle hoop Ramaphosa sal Suid-Afrikaners en buitelandse beleggers inspireer en alle kabinetslede, wat by staatskaping betrek word, verwyder. Singh het ook versoek dat Ramaphosa alle staatsbeheerde instellings besoek en die instansies regruk. Hy het verder versoek dat Ramaphosa die euwel van korrupsie en misdaad sal aanroer.

Nhlanhla Khobisa, sekretaris-generaal van die NFP, het gesê Ramaphosa word president in ʼn tyd wat die land se ekonomie kwyn.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het van die geleentheid gebruik gemaak om die land se mense te loof vir hul meedoënlose stryd teen die “tirannie van ʼn korrupte leier”.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het aan Ramaphosa gesê hy het die verpligting om eenheid in Suid-Afrika te bevorder. “U voorganger was bekend daarvoor dat hy wit mense geblameer het vir alles wat in die land verkeerd gegaan het. Ek wil vir u sê die wit mense sal sien of u eenheid gaan bevorder of hulle gaan blameer vir die onvermoëns van die ANC.”

Eerwaarde Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, het aan Ramaphosa gesê hy is nie nou meer net die president van die ANC nie, maar die president van die land. “Alle Suid-Afrikaners gaan na u kyk vir leierskap, rigting en eenheid en hopelik die implementering van beleide wat sal verseker dat Suid-Afrika ʼn voorspoedige land word en dat die land se besmette beeld internasionaal herstel sal word.”

Meshoe het aan Ramaphosa gesê vrees vir die Here is waar wysheid begin. “Laat jou vrees vir die Here jou lei. Ek bid dat jy die moed sal hê om die regte ding te doen, selfs wanneer dit nie die gewilde ding is om te doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Corne ·

Geluk president ramaphosa. Kom ons kyk of jy jou beloftes na kom. Suid afrika is ons land maak ni saak water ras jy is ni. Ons is lief vir ons land. Vat ons trug na die beste

Johannes ·

Sug… sal ons begin met grond onteien sonder vergoeding?

rollie ·

Johannes – Cyril is op rekord dat hy teen onteiening sonder vergoeding is maar die ANC het daarvoor gestem. Dit gaan interessant wees wat hier gaan gebeur. Hoop Cyril kan ‘n plan maak.

I believe ·

Ek het vertroue. Ek voel weer positief. Kom ons herbou hierdie land

Sue ·

Vir die eerste keer sien ek n son oor SA skyn. Ek ken Mnr Ramaphosa nie persoonlik nie maar is in besigheidskringe waarbei hy belange het en kyk, ongeag wat hy verkeerd gedoen het in die verlede, sy besigheidsinsig kan net positiewe gevolge vir SA se ekonomie inhou. Dis nou die beste nuus wat ek in jaaaaare gelees het.

Kobus ·

Sekondeer Corne….kom ons gee hom n kans…sal moeilik gaan en dit sal nie oornag gebeur…maar dalk net dalk is daar hoop vir ons as Blankes en vir ons geliefde land.

Lolla ·

Veels geluk mnr President. Ons is hoopvol dat jy nie land sal ontneem van witmense nie, maar eerder van onbevoegte boere wat julle reeds grond voor gegee het en alles laat vergaan het op daardie plase. Ons is ook hoopvol, dat jy baie onnosel wette wat Zuma geimplimenteer het, sal afskraap. Gee asseblief mense met geleerdheid en vaardighede geleentheid om te werk, al is hulle wit? Hersien die belasting wette wat erg onredelik is, veral “super tax”, want daardie mense kan ook nie hulle sukkelende famillies en gemeenskappe bystaan nie. Maak ons weer veilig voel in ons land vol belowende beloftes?! Baie sterkte en onthou, waar ookal jy opreg, nederig, regverdig en in ALMAL se belang besluit en optree, sal hierdie reenboog nasie bankvas agter jou staan. Steur jou asb glad nie aan die EFF nie, maar wys hulle eerder wat die gevolge van barbaarse gedrag en optrede is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.