Cyril Ramaphosa se kabinet-kopseer

Cyril Ramaphosa. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die Zuma-nagmerrie is verby, die Ramaphosa-era het aangebreek, en nou begin die hoofbrekens vir Cyril Ramaphosa.

Hy sal nou uit die wrakstukke van die korrupte Zuma-jare ʼn kabinet moet saamstel wat wys ʼn nuwe, skoner era het aangebreek, maar hy sal moet oppas om nie die ANC in die proses te skeur deur te veel mense met magsbasisse binne die party uit die kabinet te laat nie.

Televisie-onderhoude vanoggend met inwoners van Durban en Nkandla het gewys wat mens vermoed het: Zuma-steun bly sterk buite die middelklas, op die platteland en spesifiek in KwaZulu-Natal. Daardie wete perk Ramaphosa se bewegingsvryheid erg in.

Dit is dus nie om dowe neute dat die ANC se LP’s weer byeengeroep is vir ʼn koukus vanoggend nie. As die opposisie vanmiddag ʼn kandidaat teen Cyril Ramaphosa stel vir die presidentskap – en hulle sal dom wees om dit nie te doen nie – sal dit deur geheime stemming wees dat die uitslag bepaal word, en dit sal vir Ramaphosa ʼn ramp wees om minder stemme te kry as die 249 LP’s wat die ANC het deurdat Zuma-ondersteuners byvoorbeeld nie vir hom stem nie.

Teen vanoggend was dit nog nie duidelik of die opposisie al op ʼn kandidaat ooreengekom het nie. Die verkiesing van die nuwe president vind om 14:00 plaas.

Dan moet die nuwe president ʼn nuwe kabinet saamstel. Daar is nie haas nie, en dit kan maklik ʼn week duur, maar dit moet gedoen word, en dan sit Ramaphosa met ʼn yslike tameletjie.

Talle Zuma-kabinetslede is omstrede en onbekwaam. Sommige kan binnekort in die hof moet staan en selfs in die tronk beland. Name ter sprake sluit in Bathabile Dlamini (maatskaplike ontwikkeling), Faith Muthambi (staatsdiens en administrasie), Mosebenzi Zwane (minerale hulpbronne), Nomvula Mokonyane (water en sanitasie), Malusi Gigaba (finansies), Lynne Brown (openbare ondernemings) en vele meer.

Daar is ook verskeie uiters bekwame mense wie se loopbane deur Zuma verwoes of op ʼn syspoor geplaas is, en wat nou ʼn terugkeer kan maak na kabinetstatus.

Hieronder tel die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan (daar is sterk sprake dat hy vir Brown kan vervang by openbare ondernemings), Mcebisi Jonas (hy sal beter by finansies vaar as die arme Gigaba, wat totaal buite sy veld is) en Derek Hanekom.

En dan het Ramaphosa vanoggend ʼn punt daarvan gemaak om op die Seepunt-promenade te gaan draf saam met Trevor Manuel, nog ʼn voormalige minister van finansies. In die hele Kaapstad kan jy nie daardie tyd van die oggend méér in die openbare oog wees as op die Seepunt-promenade nie. Ramaphosa en Manuel wou saam gesien word, en hulle is wel saam gesien. Dit was ʼn openbare sein en ʼn openbare standpunt-inname.

Ramaphosa sal ook ʼn nuwe adjunkpresident moet aanstel, en tans word drie name genoem – al drie vroue. Dit is die name van Lindiwe Sisulu (tans minister van menslike nedersettings), Naledi Pandor (tans minister van wetenskap en tegnologie) en Baleka Mbete (tans speaker van die Nasionale Vergadering).

Van die drie sal Sisulu die swakste keuse wees, want daar is vele wolke om haar kop oor die spandabelrige gebruik van vliegtuie toe sy minister van verdediging was. Pandor sal waarskynlik Ramaphosa se eerste keuse wees, maar sy is dalk ʼn bietjie te elitisties. Mbete is nie die aangenaamste of gewildste politikus nie, maar dan sal die ANC ten minste ʼn beter persoon as speaker kan aanstel (soos Thoko Didiza, byvoorbeeld) en vir ʼn slag weer ʼn behoorlik funksionerende parlement kan hê.

Of hy sal heeltemal ander mense in al hierdie poste kan aanstel. Die Grondwet sê dis ʼn volkome presidensiële prerogatief, so hy hoef niemand te raadpleeg nie. Dit is sy verantwoordelikheid, sy keuse en dus sy hoofbrekens.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Ellisras ·

Ciril kan vir Gerrie Nel aanstel. Gerrie het niks om te doen op die oomblik nie. Na vele beloftes het niks gebeur nie.

Alida ·

Hou tog op om so behep met Gerrie Nel te wees!!! Hy het genoeg om te doen en hy gaan binnekort baie besig wees. Hy is ‘n gewone mens en dit maak mens siek as almal so op hom hamer. Word groot asb.

MH ·

Dit lyk vir my ook asof daar niks gebeur nie, maar omdat ek nie weet wat agter die skerms aangaan nie weerhou ek my van onsinnige kommentaar.

Lena Jonk ·

Trevour Maneul een van jou belangrikste persone asb Ramaphosa, hy weet hoe om geld te hanteer, is van jou blinkstes om van te kies.

Dink Self ·

Mooi. En oor ‘n paar jaar is hy ook weg.

Wanneer word BEE en BBBEE afgeskaf en Afrikaans weer toegelaat as ‘n onderig taal by meer as een Universiteit? O ja, en die grondhervorming foefie moet ook stop.

Alleen dan is daar tekens vir Afrikaners en ander minderhede dat daar lig is aan die einde van die tonnel.

Flip Pretorius ·

Sterkte CR, jy moet nou hierdie land red van totale ondergang. Jammer dat jy n stukkende en bankrot land ge-erf het maar jy is heel waarskynlik al een wat dit sal kan regkry. Sterkte ook met die aanstel van jou ministers. Troos jou daaraan jy sal nie slegter kan doen as wat tans op die banke sit nie. Daar is baie bekwame en eerlike mense in die land oor, om jou by te staan

Annie ·

Trevor Manuel en Naledi Pandor – 2 baie goeie keuses en ek hoop hy raak van daardie Sassa vroumens ontslae en van Malusi Gigaba.

LB S ·

Tog asb nie Mbete nie, want dan word sy dalk die volgende President! Behoede ons!!!

Vermeende ·

En daar kry die nuwe SA sirkus n nuwe ringmeester on narre van sy keuse aantestel tot vermaak van die gehoor.

Hannelie ·

Ek dink hy gaan sy kabinet goed skommel. Trevor Manual kan regtig terugkom na Finansies, hy nog altyd die meeste geweet.

TLC ·

Johan H ek kanie aan n beter opsie dink nie.dit was n plesier om onder hom te werk?

Nettie ·

CR – president (vir voorlopig). Naledi Pandor as sy Adjunk, met Gordhan of Manuel as Minister van Finansies met Gigaba, Battleaxe Dlamini, Lindiwe Sisulu en Lynn Brown almal onder hul alies geskop – en SA het (DALK) weer ‘n sprankie hoop wat doer êrens, éffens in die verte skyn.

Dink weer ·

As dit ewn ding is wat baie duidelikheid gee oor die week se gebeure is dit dat die NEC van die ANC die kitaar slaan so wat n adjunk betref is dit seker CR se keuse uit die kandidaatlys soos verskaf deur die NEC. Teensy Trevor se vrou bedank by ABSA kan hy ook nie finansies oorneem nie want dan skop ona af waar stortkop opgehou het maar hy is n baie goeie kandidaat om by Lynn Brown oor te neem want die krane gaan baie vinnig toegedraai moet word by SAA en Eskom aangesien daar nie geld oor is nie en hulle BTW nie kan verhoog met 10% om by die aanvraag te kom nie want binne n jaar sal daar moet n verkiesing wees so om bloed uit n klip te tap gaan ook nie werk nie

Anoniem ·

Ons moet vir die nuwe prez bid – hy het wraggies Salomo se wysheid nodig om SA uit hierdie moeras te lig.

Alida ·

Kom ons kyk wat CR doen. Ek glo hy sal die regte keuses maak en ontslae raak van die onbekwame ministers. Kom ons wag die skommeling af. Sal interresant wees.

jaco ·

voordat almal nou te veel van narre praat: Dr DF Malan het in 1948 vir Klasie Havenga as minister van finansies aangestel. dis n vakgebied waarvan Havenga niks geweet het nie. HF Verwoerd het vir PW Botha as minister van verdediging aangestel; iets waarvan PW ook niks geweet het nie. In daardie jare is ministersposte eintlik maar uitgedeel op grond van watter goeie kenner en voorstander van apartheid die kandidaat was. Broederbond lidmaatskap het natuurlik ook gehelp.

Hans ·

Dit is ook nou n stukkiegeskiedenis wat almal verkies om te vergeet. Goed gestel.

Penellope Jones ·

Dalk moet almal nou net die man kans gee om sy voete te vind in sy nuwe en belangrike pos.
Daar is baie werk en baie probleme wat met groot verantwoordelikheid uitgesorteer moet word.
Sterkte vir Ramaphosa, dit gaan nie maklik wees nie.

Carien ·

Sterkte aan CR, hy het ‘n baie groot taak wat voorlê.
Ons bid dat hy die regte keuses maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.