Cyril sal berus by hofbesluit oor Zuma se regskoste

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Pres. Cyril Ramaphosa sal nie die DA se hofaansoek teenstaan nie waarin die opposisieparty vra dat die ooreenkoms dat die regering pa staan vir oudpres. Jacob Zuma se regskoste in ʼn strafregtelike saak, ter syde gestel moet word.

Die presidensie het Maandag in ʼn kort verklaring gesê hy het hofstukke by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om aan te dui dat hy sal berus by die hof se beslissing oor hierdie saak.

Khusela Diko, woordvoerder van die presidensie, het gesê die presidensie sal wel ʼn verduidelikende beëdigde verklaring indien om die geskiedenis, regsgrondslag, rasionaal en prosesse wat verband hou met die voorsiening van regskoste vir Zuma aan die hof te verduidelik.

Die DA het in Maart vanjaar ʼn hofaansoek ingedien om te versoek dat die ooreenkoms tussen die staat en Zuma, naamlik dat die staat sy regskoste sal betaal, ter syde gestel moet word. Die DA voer aan dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers ingevolge die ooreenkoms vir Zuma se regskoste moet opdok aangesien Zuma die beweerde oortredings begaan het in sy persoonlike hoedanigheid en nie in sy amptelike hoedanigheid as LUR, adjunkpresident of president nie.

Die DA versoek deur die hofaansoek dat Zuma die R15,3 miljoen moet terugbetaal wat die staat reeds bestee het aan sy hofaansoeke om die herinstelling van strafregtelike aanklagte teen hom in die sogenaamde spioenasiebande-saak te verhoed.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het in ʼn verklaring die presidensie se besluit verwelkom en gesê hy hoop die regsverrigtinge kan nou sonder verdere onnodige vertragings voortgaan. “Die afhandeling van hierdie saak sal die hervatting van die strafregtelike saak versnel,” het Selfe gesê.

Zuma het in April in die Durbanse hooggeregshof verskyn op 16 aanklagte wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die laat 1990’s met die Franse wapenvervaardiger Thales.

Zuma staan tereg op een aanklag van afpersing, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 aanklagte van bedrog. Die saak is tot 8 Junie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Sien al hoe Zuma homself wip in die hof oor die regter lelik met hom praat en uitstap? KLUG van n reg stelsel…

Spike ·

zuma en sy trawante het sa vernietig. Jy kan oor hulle niks meer sê nie.

Andre ·

Hierdie hofsake gaan so baie uitgestel word, hy sal al dood wees dan het dit nog nie tot ‘n einde gekom nie.

Oom Kalahari ·

Daai gesig spreek boekdele. Hoop die nuwe Geskiedenis boeke vir die jeug op skool gaan ‘n breedvoerige uitleg deurbring van onse Presidente en gebeurtenisse aangesien die geskiedenis herskryf word van 1994. ‘n land van melk en heuning wat ‘n reenboog nasie teweeg gebring het sedert 1994 en waar almal gelukkig is. Laat die res in jou hart voortleef. Zuma was ons mees suksesvolle President ooit as in ag geneem word van vele faktore uit sy verlede.

marous ·

Berus by hofbesluit maar wil verklaring indien oor rasionale optrede ? Rits nog steeds saam met Zuma rond selfs al hang daar donkerder wolke as vukaniese uitbastings om sy kop?

Theresa ·

Waarom moet die land betaal vir misdaad gepleeg deur ‘n staatspresident?????!!!!!
Dit, kan ek glad nie verstaan nie. Gaan die mense dit toelaat??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.