D-dag kom nader vir hidrobreking in SA met nuwe hofsaak

Argieffoto (Foto: jwigley, Pixabay)

Die Pretoriase hooggeregshof sal Dinsdag ʼn aansoek aanhoor deur Afriforum en die Treasure Karoo Action Group (“die Alliansie”) teen die ministers van minerale hulpbronne en omgewingsake vir die tersyde stel van die regulasies oor petroleum-eksplorasie en -produksie soos afgekondig in 2015, wat voorsiening maak vir hidrobreking (“fracking”) in Suid-Afrika.

Die Alliansie hou vol dat die regulasies op verskeie gronde onwettig is. Hierdie verhoor het merkwaardige ooreenkomste met ʼn onlangse Oos-Kaapse hoë hof verhoor waar lede van die plaaslike boerderygemeenskap daarin geslaag het om dieselfde regulasies tersyde te laat stel.

Op grond van die advies wat ontvang is van AfriForum se regsadviseur, is Marcus Pawson, AfriForum se hoof van omgewingsake, redelik seker dat daar ten opsigte van minstens een van die gronde van hersiening ʼn soortgelyke besluit in Gauteng verwag kan word. Volgens Pawson “is daar ander elemente in ons saak wat aspekte rakende die manier waarop die regulasies opgestel is, aanspreek en ons sien uit na die geleentheid om ons argument voor die hof te bring.”

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die Treasure Karoo Action Group, het vanuit Kaapstad gesê: “Die tydsberekening van Jacob Zuma se vertrek gaan gepaard met waarskynlik die ergste droogte wat baie mense in Suid-Afrika kan onthou. Hierdie watertekort en die feit dat Zuma, wat baie sterk ten gunste van hidrobreking was, nou weg is, bied ʼn geleentheid vir rasionele besluitnemers in die regering om die regering se benadering tot ʼn tegnologie wat nie met ope arms deur gemeenskappe in ander lande ontvang is nie, te hersien. Ons besef dat die hof nie een van hierdie kwessies in ag sal neem nie, maar ons is verheug dat met Zuma uit die pad, daar dalk net ʼn meer sinvolle benadering tot Suid-Afrika se energielandskap kan wees. Dit het baie jare geneem om selfs by hierdie eerste saak uit te kom waarmee ons van ons besorgdhede in ʼn hof kan opper.”

AfriForum en die Treasure Karoo Action Group het amptelike erkenning ontvang van die uitvoerende hoof van Royal Dutch Shell, Ben van Beurden, vir ʼn ope brief wat aan hom en Hloniphizwe Mtolo, nasionale voorsitter van Shell Suid-Afrika, gerig was. Die brief het kommer uitgespreek oor die talle omgewingseffekte en besoedeling wat met hidrobreking gepaardgaan en die feit dat Suid-Afrika nie water- of nasionale regulasies vir hierdie bedryf het nie, nadat die Oos-Kaapse hoë hof die regulasies van 2015 ongeldig verklaar het.

Gemeenskapslede kan die anti-hidrobreking-veldtog ondersteun deur ʼn SMS met die woord “fracking” na 45354 (R1) te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.