D-dag vir Bank of Lisbon-gebou

‘n Kennisgewing van die sloping. (Foto: ANA)

Die Bank of Lisbon-gebou in die Johannesburgse middestad gaan Sondag gesloop word nadat ’n brand meer as ’n jaar gelede by die gebou uitgebreek en die lewens van drie brandbestryders geëis het.

’n Strukturele evaluering het bevind die gebou het groot strukturele skade gedurende die brand op 5 September verlede jaar opgedoen. Luidens ’n verslag voldoen tien van die gebou se 22 verdiepings sedertdien nie meer aan veiligheidsregulasies nie.

Die struktuur sal Sondag vanaf 09:30 gesloop word.

Bethuel Netshiswinzhe, Gautengse hoof van die departement van infrastruktuur, het die inwoners van omliggende geboue gemaan om hul geboue voor die tyd te ontruim.

Volgens Netshiswinzhe word Commissioner- en Pixley ka Isaka Seme-straat, Commissioner- en Fraserstraat, Albertina Sisulu- en Ntemi Pilisostraat, asook Diagonal- en Helen Josephstraat vanaf Saterdag geraak. Die polisie sal die naweek genoodsaak wees om enige persoon of voertuie te verwyder in die gebiede wat geraak word.

Inwoners sal ná die sloping en noodsaaklike opruimingswerk na hul wonings kan terugkeer. Die puin sal na verwagting teen Maart volgende jaar heeltemal opgeruim wees. ’n Nuwe staatsgebou sal ook opgerig word om die provinsiale regering se werkers te huisves.

The Fireman’s Arms se biertuin wat in puin gelê is. (Foto: Facebook)

The Fireman’s Arms

’n Brand het Donderdagoggend in ʼn ikoniese sportkroeg in Kaapstad uitgebreek. Die biertuin van dié kroeg is tydens die brand in puin gelê.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het aan Maroela Media gesê brandbestryders is omstreeks 02:51 na The Fireman’s Arms in De Waterkant ontbied.

Volgens Carelse is twee brandweerwaens, ’n reddingsvoertuig en 12 brandbestryders se hulp ingespan om die vlamme te blus. Die brand is omstreeks 04:24 geblus.

Hy verduidelik dat die meeste skade aan die biertuin buite die kroeg aangerig is. Dié gedeelte sal heeltemal oorgedoen moet word, het hy gesê.

Dit is nie in die stadium duidelik hoe die brand ontstaan het nie. Niemand is in die voorval beseer nie.

The Fireman’s Pub het in 1864 sy deure vir die eerste keer oopgemaak en is een van die oudste kroeë in Kaapstad. Die bestuur het intussen bevestig dat die kroeg weer Vrydag oop sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.