D-dag vir Oscar Pistorius: Strafregkenner voorspel geen tronkstraf

Oscar Pistorius tydens verlede week se hofverrigtinge. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius tydens verlede week se hofverrigtinge. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Een van Suid-Afrika se voorste regskenners meen dit is onwaarskynlik dat Oscar Pistorius tronkstraf sal uitdien.

Regter Thokozile Masipa sal Pistorius Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria vonnis nadat sy hom verlede maand onskuldig bevind het aan moord, maar skuldig aan strafbare manslag. Die verdediging se getuies het verlede week aanbeveel dat Pistorius tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis word. Die staat het egter gevra dat Pistorius tot minstens 10 jaar tronkstraf gevonnis moet word.

Prof. Kobus van Rooyen het aan Maroela Media gesê Pistorius sal waarskynlik ʼn opgeskorte vonnis kry en tot korrektiewe toesig gevonnis word in die vorm van huisarres en gemeenskapsdiens. Volgens Van Rooyen sal die hof gewoonlik, waar moontlik, probeer om ʼn eerste oortreder uit die tronk te hou. Van Rooyen meen egter huisarres moet nie as ligte straf beskou word nie.

Volgens Van Rooyen gebeur dit baie min dat iemand wat aan strafbare manslag skuldig bevind is en geen vorige veroordelings het nie, tronk toe gestuur word. Hy het gesê regter Thokozile Masipa sal verskeie faktore in ag neem wanneer sy besluit op Pistorius se vonnis. “Sy sal dit in ag neem dat Pistorius geen vorige veroordelings het nie, of hy berou getoon het of nie en sy persoonlike omstandighede.”

Hy meen die staat se versoek vir ʼn vonnis van 10 jaar tronkstraf strook nie met die uitsprake in ander sake waar persone aan strafbare manslag skuldig bevind is nie. Volgens hom is die kans skraal dat die staat teen Pistorius se vonnis en onskuldigbevinding aan moord sal appelleer.

“Die regter het bevind daar is nie bo redelike twyfel bewys dat Pistorius die opset gehad het om te moor nie. Daar is wel bevind dat ʼn redelike persoon nie soos Pistorius sou optree in die gegewe situasie nie en om dié rede is hy aan strafbare manslag skuldig bevind,” het Van Rooyen bygevoeg.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jubjubfan ·

My kop is dronk gespin oor die regstelsel…ander kry dan tronkstraf vir manslag. Veral indien jy swart of bruin is.

Johann Grobler ·

Volgens ‘n nuusberig gister, is Adv. Manny Witz se beraming tussen 7 en 10 jaar effektiewe tronkstraf.

Rieks ·

Ek wens net dat almal onder dieselfde kam geskeer kan word. Hoe is hoë profiel mense anders as die gewone man in die straat? Nie totdat ons regstelsel werk sal moord en doodslag en inbraak mense afskrik om dit te doen nie. Dit is juis die feit dat ons geklassifiseer word as die land waar jy letterlik met moord kan wegkom – dat ons die Dewani ens ens sake in ons land het!

Theresa ·

Hierdie uitslag gaan ons regstelsel “breek” as dit nie die regte uitspraak is nie. Hierdie hele saak het my dronkgeslaan. Ek verstaan nie hoe werk een ding vir iemand maar nie vir die volgende een nie. Goeie genugtig – wat word van alles………………………..

Anom ·

Mense kom ons los dit in die hande van gereg ek vat net n onderwyse wat n jong meisie dood gemaak het is vry gelaat sonder enige boete of straf as oscar huisares kry of so dan is dit ment to be as hy moet tronk toe die sele so wie is ons om te oordeel ???!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.