D-dag vir ouerpaar van Springs-gruwelhuis

Die man kom die hof binne kort voordat die regter sy uitspraak gelewer het (16 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die ouers van Springs aan die Oos-Rand wat hul vyf kinders jare lank mishandel het, sal na verwagting vandag in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis word. Die kinders is deur hul pa mishandel, gemartel en selfs seksueel aangerand.

Die ouerpaar, albei 39 jaar oud, is in Augustus deur regter Eben Jordaan skuldig bevind aan ʼn reeks aanklagte wat verband hou met die haglike omstandighede waarin die kinders aangehou is. Die beskuldigdes se name kan nie bekendgemaak word nie om die identiteit van hul kinders te beskerm.

Die pa is vroeër skuldig bevind aan verkragting, poging tot moord, regsverydeling, die verhindering van polisiebeamptes om hul pligte uit te voer, vyf aanklagte van kindermishandeling, vyf aanklagte van kinderverwaarlosing, die handel van dwelms en die besit van dwelms. Hy is onskuldig bevind op aanklagte van die vervaardiging en besit van springstof.

Die ma is skuldig bevind op vyf aanklagte van kinderverwaarlosing, regsverydeling, die verhindering van polisiebeamptes om hul pligte uit te voer en dwelmgebruik. Sy is onskuldig bevind op die res van die aanklagte waarop sy tereg gestaan het, wat poging tot moord, die vervaardiging en besit van springstof, die handel van dwelms en kindermishandeling insluit.

Die pa is in 2014 in hegtenis geneem nadat hy sy vrou en vyf kinders jare lank gemartel en mishandel het en hulle sedert 2005 as “gyselaars” in die berugte gruwelhuis in Springs aangehou het. Die man se gru-dade het aan die lig gekom toe sy seun in Mei 2014, toe 11 jaar oud, daarin kon slaag om uit die huis te ontsnap. Hy het hulp by bure gaan soek en dié het die polisie ontbied.

Die ma in die beskuldigdebank (19 Junie 2018). Foto: Phillip Bruwer

Die hof het tydens die verhoor die besonderhede van die mishandeling van die vrou en kinders gehoor, onder meer hoe die ouer kinders met ʼn kierie geslaan en ook by tye met ʼn blaasvlam gebrand is. Daar is ook met ʼn gaspistool op hulle geskiet. Die seun en die meisie het getuig hulle is byna elke dag aangerand as hulle nie die huis sou skoonmaak nie.

Die kleiner kinders is nie so erg aangerand nie, maar die ma het getuig dat die pa hulle hard teen hul koppe geklap het.

Die seun wat later daarin geslaag het om uit die huis te ontsnap, sou aan twee pilare vasgemaak word waaraan hy moes hang, met ʼn nat kombers oor hom en ʼn waaier wat op hom waai sodat hy moes koud kry. Sou hy in sy broek urineer, sou hy met pepersproei gespuit word.

Die hof het ook grafiese inligting gehoor van hoe die oudste dogter, toe sy 16 was, op vier geleenthede deur haar pa seksueel misbruik is.

Jordaan het in sy uitspraak daarop gewys dat die ma ook jare lank onder fisieke en emosionele mishandeling en aanranding deurgeloop het en ook verkrag is. Hy meen sy ly aan mishandelde-vrou-sindroom weens die mishandeling en het dwelms gebruik om haarself beter te laat voel. Jordaan het egter beslis hy is nie oortuig dat die ma niks kon doen om haar kinders se lewens te verbeter terwyl haar man nie daar was nie.

“Sy kon toesien dat die kinders skool toe gaan, huis skoongemaak het en gesorg het dat daar behoorlike kos in die huis was. Die hof het gehoor hoe vuil die huis was en dat dit vol rotte en rotmis was. Daar het pornografiese materiaal rondgelê en die klein kinders se tandjies was in ʼn slegte toestand. Al vyf kinders moes in een kamer op ʼn vuil matras slaap. Sy het erken sy moes hulle versorg en beskerm het, en het dit nie gedoen nie,” het hy gesê.

Lees die vorige berigte oor die Springs-gruwelhuis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Rooikop ·

Albei hierdie mense moet baie lank tronk toe gaan ………………………….

adriana ·

Stem saam Rooikop – stem saam. Hoop hulle kry in die tronk dieselfde behandeling as wat hulle vir hulle kinders gegee het.
Ek hoop ook dat die kinders hulle nooit ooit weer sien nie.

Cindy ·

Sjoe 4 jaar later – hoekom vat dit so lank? Ek bid vir die kinders. En ek hoop regtig waar dat die ouers lewenslank sal kry

blondie ·

metniemand war vir hulle omgee, beskerm en versorf. nie “place of safety” waar hulle verder uotgebuit word nie

Lien ·

Hierdie is nie ouers nie, dis mense wat kinders gehad het sodat hulle, hul eie perverse neigings kon bevredig. Beide moet baie swaar gestraf word. Geen versagtende omstandighede moet in ag geneem word nie. Hulle het geen gevoel vir hierdie arme kinders getoon nie.

Lindtjies ·

Daar is so baie mense wat wat sou gee om ‘n kindtjie van hulle eie te hê. Hierdie mense het 5 kinders wat hulle mishandel het. Die kinders het nie gevra om daar te wees nie. Hoe gaan daardie kinders na die behandeling ooit weer ‘n normale sorgelose lewe kan lei. Iewers gaan dit sy tol eis. Die pa wil nou sy kinders sien om vir hulle jammer te sê. Dit is nou ‘n geval van met die een hand streel jy hulle hare en met die ander hand trek jy hulle hare.

Alicia ·

Dit gaan my verstand te bowe dat dit 4 jaar neem om hulle te vonnis! Hulle moes al lankal in die tronk gewees het!!!!

Straf Is Te Lig ·

Die straf is te lig!!!
Hy moes lewenslank gekry het!
Die ma moet ook sit!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.