D-dag vir Poppie-saak

Kobus en Louisa Koekemoer tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Mariné Lourens

Kobus (43) en Louisa (45) Koekemoer, wat albei teregstaan vir die moord op die driejarige Poppie van der Merwe, sal Dinsdag weer in die Brits-landdroshof verskyn.

Die hof het tydens die egpaar se vorige verskyning gehoor dat die akte van beskuldiging nog nie gereed is nie en die saak is na vandag uitgestel. Adrian Nel, Louisa se regverteenwoordiger, het in Februarie aan Maroela Media gesê as die akte van beskuldiging nie teen vandag afgehandel is nie, sal hy ʼn aansoek indien dat die saak van die hofrol geskrap word.

Indien die akte van beskuldiging wel vandag gereed is, sal daar na verwagting op ʼn datum besluit word wanneer die verhoor in die hooggeregshof in Pretoria sal begin.

Nell het Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê daar is ‘n moontlikheid dat nog aanklagte teen die egpaar aanhangig gemaak kan word wat glo verband hou met die tyd toe hulle in Orania gewoon het.

Maroela Media het in Oktober verlede jaar eerste berig oor Poppie se tragiese dood, wat skokgolwe deur die land gestuur het. Poppie is die aand van 25 Oktober na ʼn hospitaal in Brits gehaas, nadat Kobus, haar stiefpa, haar vermoedelik aangerand het. Poppie is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Kobus is kort hierna in hegtenis geneem.

Volgens die staatspatoloog se verslag, wat tydens Kobus se borgtogaansoek aan die hof voorgehou is, was die hoofoorsaak van Poppie se dood ʼn harde hou teen haar kop. Die patoloog het verder bevind Poppie het ronde kneusplekke aan albei hande, voorarms en voete gehad en albei oorskulpe was gekneus, “wat dui op oormatige aanranding van die kind”. Die patoloog het ook aangedui daar was bloed aan die onderkant van Poppie se skedel en bloeding aan die linkerkant van haar brein.

Louisa is op 15 Desember omstreeks 15:00 by haar huis in Mamogaleskraal in hegtenis geneem, ook in verband met Poppie se moord. Kobus én Louisa is borgtog geweier en is sedert hul inhegtenisneming in aanhouding.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Stellie ·

Kan iemand my dalk se “van die rol geskrap word”. Beteken dit dat die saak uitgegooi word?

Johann ·

Dis presies die probleem: hulle kan nie kry wat hulle toekom nie want die regstelsel kan en wil nie noodwendig reg laat geskied nie! Skokkend en n klad en klag teen die ondersoek beampte en aanklaer dat administratiewe prosesse nie gedoen word in die barbaarse moord op n weerlose kind!!!!!!!!!!! Eenvoudig GEEN gewete nie.

Marina ·

Mag geregtigheid vandag geskied sodat hierdie pragtige kindjie se onaangename 3 jaartjies op aarde nie onder die mat ingevee word nie maar dat daar n voorbeeld van die saak gemaak word ten einde te verhoed dat so iets weer gebeur… Ter liefdevolle herhindering van Poppie

sioux ·

marina het jy haar foto’tjie oral op as pp? mag sy salig rus en geregtigheid geskiet.

HUH? ·

Dit is seker net in Suid-Afrika waar ‘n moordenaar kan loskom omdat papierwerk nie in orde is nie!

wat?? ·

En dit vir moord op n kind!!!! Sy was dood geslaan!!!! Maar waaaaaag tog net iets se wat nie “polities korrek” is nie dan sien jy hoe waai die vere!

Onnie ·

Iemand wat n 3 jarige so aanrand moet mos n skroef los he iewers!

Anoniem ·

Ek wonder hoe gaan dit met haar boetie wat seker nou in pleegsorg is…

Ilse ·

As hulle hierdie saak uitgooi moet die twee mense vlug vir hulle lewens. Dink daar is ‘n paar wat hulle in eie hande sal wil hê. Dis darm nie reg nie die land se regstelsel is in sy maai in.

Chriszelda Steyn ·

Van die rol geskraap beteken “tydelik uitgegooi” en mag enige oomblik sodra papierwerk afgehandel is weer op die rol gesit word. dit beteken nie hulle word onskuldig gevind nie. ek glo uit en uit hulle is skuldig en verdien meer as net lewenslank! geen kind moet deurmaak wat daardie arme klein mensie moes deurmaak nie.

Sandra ·

Van die hofrol geskraap word omdat die akte van beskuldiging nog nie gereed is nie. Sjoe ons regstelsel laat die land se burgers in die steek wat nog van n weerlose kind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.