DA aanvaar De Lille-klousule

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, se politieke toekoms binne die DA het vanoggend ʼn terugslag beleef toe die party se federale kongres die DA-grondwet gewysig het sodat ampsdraers makliker uit hul posisies verwyder kan word.

Die voorstel is met ʼn groot meerderheid aanvaar hoewel ʼn lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, Masizole Mnqasela, daarteen gepraat het.

Die nuwe reël bepaal dat indien enigeen wat vir die DA tot ʼn uitvoerende posisie binne ʼn DA-regering verkies word – insluitend tot president van die land, premier, burgemeester ensovoort – nie  meer die ondersteuning van die meerderheid van hul koukus geniet nie, kan die federale bestuur besluit om die DA-lid te beveel om binne 48 uur te bedank, nadat die lid die kans gegun is om sy of haar saak aan die federale bestuur te stel. Indien die DA-lid weier om te bedank word hulle uit die party geskop. Enige mosie van wantroue in ʼn uitvoerende lid moet met die toestemming van die federale bestuur geskied.

Die DA het intussen ook die eerste uitslae in die party se leierskapverkiesings aangekondig. Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, is tot leier van die DA-vrouenetwerk verkies en Luyolo Mphithi, ʼn voormalige Mandela Rhodes-beurshouer en Johannesburgse stadsraadslid, as leier van die DA-jeug.

Vroeë aanduidings is dat die burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metropool in Port Elizabeth, Athol Trollip, tot nasionale voorsitter van die DA herkies is en dus vir Solly Msimanga en Annelie Lotriet geklop het.

Die uitslae sal egter eers later vandag bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ollie ·

Patricia hoor my, verlaat die DA en sluit by Cope aan waar ek my stem gaan voeg. Cope is al party wat teen rassisme veg. Cope is die kleurlinge se volgende bestemming

Koos ·

As Cope die bestemming vir Kleurlinge is, wat was hulle vertrekpunt? Die probleem is die DA probeer almal gelukkig hou. Dis net so doodgebore idee as om 11 amptelike tale te hê. Cope gaan nie groei nie, die DA ook nie. As De Lille so wonderlik en voordelig vir die DA is, waarom op aarde wil hulle haar oorboord gooi? Sy is ‘n oud-PAC en hulle moes haar nooit betrek het nie.

Marietjie ·

Gaan dit beteken dat Helen Zille ook mettertyd die trekpas gaan kry? Wonder maar net.

Annette Groenewald ·

Moenie ‘n dom ding doen om van Patricia ontslae te raak nie, julle gaan stemme verloor as iemand anders haar plek gaan volstaan.

Boet Fasie ·

De Lille sluit by VF aan en bring al jou lojale stemme saam, ons wag.

rollie ·

Boet Fasie. De Lille gaan nie tevrede wees om jou huishulp te wees nie, sy soek ‘n leiersposisie.

Koos ·

Fasie, die VF+ sal nie aan haar raak met ‘n tang nie. Jy maak seker net ‘n grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.