DA, ANC vier uitslae van tussenverkiesings in KZN

Argieffoto: isdei.blogspot.com

Argieffoto: isdei.blogspot.com

Die DA sowel as die ANC het Donderdag beweer die uitslae van die afgelope tussenverkiesing in KwaZulu-Natal toon dat die partye se ondersteuning in die provinsie toegeneem het.

Mduseni Ntuli, woordvoerder van die ANC, het gesê die “dawerende oorwinning” van die ANC is ʼn aanduiding dat “opposisie se propaganda” wat beweer dat die ANC se steun besig is om af te neem, nie waar is nie.

Phumzile van Damme, die DA se nasionale woordvoerder, het egter beweer die DA se steun het tot dusver nog in elke tussenverkiesing wat deur die DA betwis is toegeneem, terwyl die ANC se steun afgeneem het.

Daar is Woensdag 15 tussenverkiesings gehou, waarvan drie in KwaZulu-Natal was. Die ANC het al drie wyke in KwaZulu-Natal gewen, naamlik wyk 1 in die uMuziwabantu-munisipaliteit (Harding), wyk 20 in die Alfred Duma-munisipaliteit (Ladysmith) en wyk 6 in die Newcastle-munisipaliteit. Volgens Ntuli is hierdie uitslae ʼn voorsmakie van die 2019 nasionale verkiesing.

Van Damme het gesê die DA se steun in wyk 20 van die Alfred Duma-munisipaliteit het van 24,55% in Augustus tot 35,97% toegeneem. Dit het die ANC se steun tot 50% verminder.

Nomusa Dube-Ncube, die KwaZulu-Natalse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het die uitslae en die vreedsame verloop van die tussenverkiesings verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.