DA bedien hofdokumente op Zuma

DA- federale raadsvoorsitter James Selfe (links) en DA-leier Mmusi Maimane (Foto: ANA)

Die Demokratiese Alliansie het hofdokumente op pres. Jacob Zuma bedien wat verband hou met sy versuim om ʼn parlementêre vraag te beantwoord oor hoeveel staatsgeld gebruik is om 783 aanklagte van bedrog en korrupsie te ontduik.

Die vraag is deur Mmusi Maimane, leier van die DA, aan Zuma gestel.

“Die DA glo, deur die vraag te vermy, dat die president en die adjunkspeaker Lechesa Tsenoli, onwettig en ongrondwetlik opgetree het toe hy Zuma toegelaat het om die vraag te vermy,” het James Selfe, federale raadsvoorsitter van die DA, Sondag gesê.

“Belastingbetalers se geld is vir meer as agt jaar gebruik om vir Zuma se regskoste te betaal in die sogenaamde spioenasiebande-saak. Gegewe dat die belastingbetaler waarskynlik die rekening vir Zuma se regskoste betaal het, moet die volle bedrag, wat spandeer is, in openbare belang bekend gemaak word,” het hy gesê.

“Die vraag is spesifiek en prontuit gestel, maar Zuma het volstrek geweier om te antwoord en die adjunkspeaker het geweier om hom te vereis om die vraag te beantwoord. Artikels 42(3) en 55 van die Grondwet stel die Nasionale Vergadering het ʼn verantwoordelikheid om die uitvoerende raad aanspreeklik te hou, en dat meganismes verskaf moet word om aanspreeklikheid te verseker. Parlementêre vrae is een van dié meganismes.

“Die Nasionale Vergadering se reëls bepaal hoe gereeld die president moet verskyn om vrae te beantwoord en die etiekkode maak dit duidelik dat lede van die uitvoerende raad aan dié standaarde moet voldoen en dat nie een lid diegene mag mislei aan wie hy aanspreeklik is nie,” het Selfe bygevoeg.

“Die president en die adjunkspeaker het versuim in hul verantwoordelikheid om die Grondwet te onderhou. Die DA het gevolglik die hof versoek om die president opdrag te gee om binne vyf dae skriftelik aan die Nasionale Vergadering die bedrag te bevestig wat aan alle regskoste spandeer is wat betref die besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag om 783 aanklagte van bedrog en korrupsie teen hom te laat vaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Boet Fasie ·

Ag die mannetjie en die speaker lag vir die DA , hy gebruik net nog meer belastingbetaler geld om te betaal vir die regskostes wat hy moet aangaan om hulle ( die DA) se vrae te beantwoord as hy miskien eendag moet en dit is ‘n baie groot miskien.

Jo pearce ·

Ten minste probeer die DA iets doen, ek sien en hoor niemand anders nie.

Eben ·

Die problem is dat ons belastigbetalers se geld word elke keer gemors om inligting uit Zuma te kry. Dit is ‘n verlore stryd wat gevoer word en die energie moet eerder aangewend word om te sorg dat ons nooit weer ‘n president, soos Zuma, aan bewind kry nie. Tweedens moet daar daadwerklike pogings aangewend word om die Guptas te vervolg of hulle so gou as moontlik uit die land te kry.

Apie ·

Nog meer belasting geld gaan germors word. Daar is net een raad met zuma, ……….

jwm ·

In suiwer Afrikaans word hofdokumente aan die relevante party beteken. In Engels dan “served on.”
Ek stem saam met Eben die gemors moet daadwerklik aangespreek en uitgesorteer word.

Eish ·

Dark questions
from the Dark Alliance
are met with dark silence.

Justice ·

Eish – Simon en Garfunkel kan `n nuwe treffer uit hierdie woorde van jou komponeer.

jaco ·

die DA leef in ‘n droomwereld: die howe is deel van die Dept van Justisie. Dit is ‘n staatsdepartement en die staat word deur die ANC-regering beheer. Verskeie van hulle ANC-kaders beheer ook staatsdepartemente. So die kans is absoluut NUL dat die hof teen Zuma sal uitspraak lewer. En die regter sal in elk geval ook met ‘n uitspraak teen Zuma dadelik sy werk verloor.
mense wat my wil kruisig oor my standpunt moet net eers gaan kyk wat in Zimbabwe gebeur het: wit boere is hoeveel keer gelyk gegee deur die howe dat die besetting en afvat van hulle plase ongrondwetlik was. en wat doen Mugabe toe: dank daardie regters af en vervang hulle met regters wat konsekwent uitsprake lewer wat in pas is met sy beleid.

Hendrik ·

Weer eens is die bewys dat die enigste manier om ‘n diktator met ‘n meerderheidsstem te verwyder buite parlimenter moet wees. Met Burgerregtegroepe, petisies, protesoptogte (nie geweldadig), belasting weerhouding, ens moet so ou uit die posisie gedwing word. Kom ons kyk wat gebeur Desember.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.