DA begin met regstappe teen Nhleko se Nkandla-verslag

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Die Demokratiese Alliansie het Woensdag begin om polisieminister Nathi Nhleko se verslag oor veiligheidsopgraderings by Nkandla in die hof te daag nadat die ANC dit deur die nasionale vergadering gestoomroller het.

“Die dokumente word by die hof ingedien terwyl ons praat,” het James Selfe, voorsitter van die party se federale uitvoerende komitee, op die trappe voor die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê die party versoek die hof om te verklaar dat pres. Jacob Zuma se versuim om te voldoen aan ʼn opdrag deur die Openbare Beskermer Thuli Madonsela om ʼn persentasie van die staatsgeld wat aan sy privaatwoning spandeer is terug te betaal, “irrasioneel” was en dit tersyde gestel moet word op grond daarvan dat dit ongrondwetlik en onwettig was.

Die amptelike opposisie voer ook aan dit was onwettig vir Zuma om ʼn minister aan te stel wat in diens van hom staan om te bepaal of hy wel die staat moet terugbetaal of nie. “Ons sal gevolglik ook aanvoer dat minister Nhleko se verslag onwettig en ongeldig verklaar moet word.”

Die DA het die speaker van die nasionale vergadering, Zuma, Nhleko en die Openbare Beskermer as respondente aangetoon.

Maimane het gesê die DA glo regter Ashton Schippers se uitspraak verlede jaar in die hooggeregshof, waartydens hy verduidelik het dat Madonsela se pligte nie behels dat sy “blote aanbevelings” maak wat net geïgnoreer kan word nie, sy saak ondersteun.

Die uitspraak word gereeld deur die opposisie en die regerende party aangehaal om hul teenstrydige posisies te ondersteun of die Hoofstuk 9-regstellende aksie bindend op die regering is.

Schippers het in Junie die SAUK se aansoek om verlof tot appèl teen sy uitspraak toegestaan, en gesê dit is onwaarskynlik dat sy uitspraak oor die feite van die saak omgekeer kan word, waarin die DA die aanstelling van Hlaudi Motsoeneng as uitvoerende hoof van die Openbare Beskermer betwis, maar dat dit krities is vir demokrasie dat die hoogste hof van appèl ook sý mening kan gee oor die omvang van die magte van die Openbare Beskermer.

Nhleko se verslag is direk teenstrydig met Madonsela se verslag en het bevind dat Zuma nie ʼn enkele sent aan die belastingbetaler hoef terug te betaal nie, aangesien alle nuwe verbeterings, insluitend ʼn swembad, gestaaf kon word as ʼn veiligheidsmaatreël.

ʼn Derde parlementêre komitee wat die bevindings oor Nkandla moes oorweeg, het ook die verslag ondersteun en op sy beurt het die nasionale vergadering Dinsdag die komitee se verslag goedgekeur met 298 stemme teenoor 93.

In die daaropvolgende debat het ANC-LP Francois Beukman aangevoer dat die komitee streng gesproke nie Madonsela kan ontbied nie, aangesien haar verslag die fokus van die tweede parlementêre komitee oor Nkandla was. Hy het bygevoeg hy hoop dat die aanvaarding van die jongste verslag die omstredenheid oor Nkandla as afgehandel beskou sal word.

“Die feit van die saak is, indien jy na die Openbare Beskermer se regstellende aksie kyk, het die president versuim om daaraan te voldoen,” het die DA bygevoeg. “Die saak is nog lank nie verby nie. As ons hierdie spesifieke stryd verloor, sal ons slegs ʼn boodskap aan Suid-Afrikaners stuur dat ʼn instelling soos die Openbare Beskermer van nul en gener waarde is nie. Ons wil seker maak dat die president aan die Openbare Beskermer se aanbeveling voldoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Die ANC het GEEN respek vir die reg nie. G’n wonder; ANC staan vir ALL the NATION’S CRIMINALS!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.