DA behou twee wyke in tussenverkiesings

(Argieffoto)

Die DA het ʼn bietjie goeie nuus ontvang ná die party se agteruitboerdery in die algemene verkiesing toe twee DA-kandidate gemaklike oorwinnings behaal het in tussenverkiesings in die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth.

Wyk 35 én wyk 37 is in die oorwegend bruin noordelike gebiede van die stad, en die uitslae het weer gewys watter belangrike rol die persoonlikheid en persoonlike gewildheid van ʼn kandidaat kan speel in veral oorwegend bruin wyke.

Nelson Mandelabaai wyk 35 is die woonbuurt Chatty en omliggende gebiede. Daar het die bekende oudjoernalis van Die Burger, Helga van Staaden, die wyk vir die DA behou met 2 725 stemme teen 441 vir die ANC, 59 vir die ACDP, 34 vir die Patriotic Alliance en 16 stemme vir die Numsa-geaffilieerde Socialist Revolutionary Workers’ Party (SRWP).

Dit verteenwoordig ʼn swaai van 1 persentasiepunt na die DA sedert 2016 en is presies dieselfde persentasie stemme wat die DA in vandeesmaand se algemene verkiesing gekry het in die wyk.

Nelson Mandelabaai wyk 37 is ʼn deel van die woonbuurt Kleinskool en enkele aanliggende gebiede. Georgina Feldtman (DA) het die wyk vir haar party behou met 2 164 stemme teen 1 122 vir die ANC, 557 stemme vir die Patriotic Alliance, 62 vir die ACDP en 33 stemme vir die SRWP.

Dit verteenwoordig ʼn swaai van 14 persentasiepunte teen die DA vergeleke met 2016. Twee aspekte in daardie verband val op: Die DA het sterk in die wyk gegroei in die algemene verkiesing vergeleke met 2016, maar nou – slegs ʼn week later – baie stemme verloor. Die verlore DA-stemme het veral gegaan na die sterk kandidaat van die Patriotic Alliance (PA), en dis ʼn ope vraag of die stemme by die PA sal bly as ʼn minder prominente PA-kandidaat gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Nou ja Toe! Nou vir Tshwane en Johannesburg se “samewerking” met die ander, behalwe die a en see!

Jean ·

Hou op om hierdié opportunistiese-party se beeld te probeer poets. Hul is ‘n verleentheid vir vele!

TN ·

Tog gaan dit BAIE beter waar hulle in beheer is , lees , WES-KAAP ! Hulle is ‘n verleentheid vir die ANC ja , bestuur is baie goed en korrupsie word summier vasgevat !

Derek ·

WELGEDAAN…DA! ?
Dis darem Baie beter, asi anc+eff aan bewind…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.