DA bekommerd oor gure weer op stemdag

Reën- en donderbuie tydens die munisipale verkiesing. (Foto: DA Western Cape/Twitter)

Die DA is bekommerd dat min kiesers in die Wes-Kaap by stempunte gaan opdaag nadat nat en koue weer ʼn demper op die dag se verrigtinge geplaas het. ʼn Paar strukture het ook Maandagoggend by stempunte in die Kaap omgewaai.

Siviwe Gwarube, DA-LP en die party se nasionale woordvoerder, het aan Maroela Media gesê hoewel die provinsie se regerende party bekommerd is, hulle steeds hoopvol bly.

“Natuurlik is ons bekommerd, maar ons hoop dat ʼn groot aantal van ons ondersteuners nie gaan toelaat dat die weer hulle afskrik nie,” sê sy.

“Kiesers sal vir die volgende vyf jaar met die gevolge van hul besluit – om te stem, al dan nie – moet saamleef.”

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het vroeër gewaarsku dat ʼn kouefront oor dele van die Wes- en Noord-Kaap sal beweeg wat reën- en donderbuie tydens die munisipale verkiesing tot gevolg sal hê. Dele van die Wes-Kaap gaan ook gebuk onder koue en winderige weerstoestande.

Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in hierdie provinsie het hy reeds uitdagings met die weer ondervind nadat ʼn aantal tydelik stemlokale deur die weer beskadig is.

“Daar is minstens twee gevalle in Khayelitsha en Marikana (ʼn informele nedersetting digby Kaapstad) waar spanne weens die weer ingestuur is om die strukture te versterk,” het die OVK gesê.

“Die OVK wil kiesers egter gerusstel dat hy alles in sy vermoë doen om te verseker dat almal vandag kan stem.”

Ten spyte van die gure weer het talle kiesers steeds die reën aangedurf om hul kruisie te trek.

“Soveel mense het reeds in die reën uitgekom en gestem. Gaan uit en stem,” skryf ʼn sosialemediagebruiker.

“Die inwoners van Kaapstad daag altyd op, ongeag die weer. Ons bly in die Kaap van Storms en is gewoond daaraan. Om ons provinsie te red sal ons selfs deur vuur loop,” sê ʼn ander kieser.

Die DA het kiesers ook aangeraai om eerder vroeër as later te stem om lang toue by punte later vandag te vermy.

“Hoewel stempunte tot 21:00 oop is en die weer vermoedelik later die dag sal opklaar, is dit belangrik dat mense vroeg gaan stem.

“Dit is ons elkeen se burgerlike plig om dit te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Ek het gestem en die weer is glad nie soe sleg nie. Wegbly is ‘n stem vir die ANC.

Chris dupreez

Gaan stem, of gee die Wes Kaap vir die anc. Gaan stem en vat die Noord Kaap by die anc.

piet

Wees versigtig om nie jou stem in die Kaap op ‘n klein party te mors nie. Ons het reeds ‘n effektiewe regering en om ander rolspelers toe te laat kan effektiewe regering ondermyn. Die huidige effektiewe regering verdien lojaliteit en ondersteuning vir hul goeie werk.

Barney

Die DA het my verloor on Swyzereneke. Haha!

casper

Hoekom stem as jy net ‘n paar bande kan brand, dans en klippe gooi om jou wil te kry !!