DA ‘bekommerd’ oor wetsontwerp oor onttrekking aan Strafhof

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad. Foto: ANA

Die DA het sy kommer uitgespreek oor aspekte van voorgelegde wetgewing om Suid-Afrika se onttrekking aan die Internasionale Strafhof te bekragtig en meen dit is daarop gemik om geregtigheid te ontduik.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, het gesê die voorgestelede wetgewing om Suid-Afrika, ʼn lid van die Roomse Statuut, van die Internasionale Strafhof te ontrek, is nie bedoel om geregtigheid vir internasionale misdade te bewerkstellig nie, maar gaan slegs veroorsaak dat geregtigheid omseil word.

Die Wetsontwerp op Internasionale Misdade is Woensdag aan die parlement voorgelê, en volgens Selfe het dit talle tekortkominge.

“Die wetsontwerp poog om die implementering van die Roomse Statuutwet te herroep en Suid-Afrika van die internasionale strafhof te ontrek,” het Selfe gesê. “Die DA is besig om die wetsontwerp deur te gaan en het al talle opmerkings aangeteken.”

Hy het gesê die ANC het voorheen probeer om van die Internasionale Strafhof te onttrek sonder om ʼn alternatief vir die vervolging van internasionale misdade te bied. Die ANC wil nou jurisdiksie oor hierdie misdade aan binnelandse howe verleen.

Selfe het gesê jurisdiksie van dié howe was beperk tot misdade wat in Suid-Afrika gepleeg is, misdade waar die beskuldigde of slagoffer ʼn Suid-Afrikaanse burger of inwoner is, en misdade waar die beskuldigde in die land teenwoordig was toe dit gepleeg is.

“Volgens hierdie wetsontwerp kan vervolging eers begin wanneer ʼn lasbrief vir inhegtenisneming deur die nasionale of ʼn ander gemagtigde aanklaer uitgereik word. Dit sal uit die staanspoor vertragings in die administrasie veroorsaak wat beskuldigdes die tyd sal gun om landuit te vlug. Om die diskresie aan ʼn politieke aanstelling soos die nasionale direkteur van openbare vervolging, tans Shaun Abrahams, oor te laat, is ʼn resep vir ʼn ramp,” het hy gesê.

ʼn Lasbrief vir inhegtenisneming wat deur die Internasionale Strafhof uitgereik is, is onmiddellik met ontvangs van toepassing, wat beteken dat die betrokke persoon in hegtenis geneem moet word met sy of haar aankoms in die land. Selfe het gesê hierdie wetsontwerp het “waarskynlik met opset” versuim om hierdie aspek in te sluit.

“Die ANC het die illusie voorgehou dat die besluit om nie die Soedannese president Omar al-Basjir in hegtenis te neem nie, ʼn beginselsbesluit was. Dié besluit is deur die hooggeregshof en grondwethof as onwettig beskou. Die ANC beweer hulle het ideologiese verskille met die Internasionale Strafhof en was volgens dié beginsels nie verplig om Al-Basjir tydens sy besoek in 2015 in hegtenis te neem nie.”

Selfe het gesê die besluit was egter vals en dat die ANC se besluit polities gedrewe was met die doel om “ʼn brutale outoritêre diktator” te beskerm.

Hy het gesê die DA is nog besig om die voorgestelde wetsontwerp behoorlik te bestudeer. “Die huidige wetsontwerp sal nie onbetwis deur die parlement goedgekeur word nie. Die ANC sal nie toegelaat word om hulself te onthef van hul pligte teenoor slagoffers van volksmoord en ander menseregteskendings wat daagliks oor die vasteland en die wêreld plaasvind nie,” het hy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

aloys ·

Hoekom kan Suid-Afrika hom niet ontrek aan die strafhof nie? Die USA het dit mos ook gedoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.