DA beplan groot koalisieskuif in Ekurhuleni

Ghaleb Cachalia, burgemeesterskandidaat van die DA in Ekurhuleni (Foto: Facebook)

Ghaleb Cachalia, burgemeesterskandidaat van die DA in Ekurhuleni (Foto: Facebook)

Die Demokratiese Alliansie in Ekurhuleni het alle opposisiepartye uitgedaag om die wil van die mense te volg, soos hulle op 3 Augustus gestem het, en die ANC te ontsetel.

“Saam kan ons ʼn gehalteregering na Ekurhuleni bring,” het Ghaleb Cachalia, burgemeesterskandidaat in Ekurhuleni, gesê. “Ons verwelkom die direkte en openbare ondersteuning van die EFF [Ekonomiese Vryheidsvegters] en ander koalisievennote wat ons doel deel om die ANC uit plekke van mag en die regering te ontsetel, om sodoende korrupsie hok te slaan en dienslewering te verbeter.”

Cachalia het gesê die party waardeer die toewyding van sy koalisievennote en benadruk die EFF se mening dat ʼn formele koalisie ʼn kompromie sou beteken in die onderskeie politieke beleidsrigtings. “Maar in dieselfde asem, om nie die ANC te ontsetel nie, beteken dit dat ons nie eg is aan die mandaat van ons kiesers nie.”

Daar is 224 setels in Ekurhuleni, dus bied 113 ʼn meerderheid om die plaaslike regering aan te stel. Die DA het 77 setels en die EFF 25, altesaam 102.

Die ANC het 109 setels.

Nie die DA of die ANC kon ʼn meerderheids- plaaslike regering vorm nie en benodig die ondersteuning van ander partye.

Indien die DA en die EFF saam die ANC in Ekurhuleni wil ontsetel, sal hulle byna al die setels van die oorblywende partye benodig om 11 van die oorblywende 13 setels te bekom. Dié setels word gehou deur die African Independent Congress (4), Inkatha Vryheidsparty (2), Vryheidsfront Plus (2), en die Congress of the People, Pan Africanist Congress, Progressive Alliance SA, African Christian Democratic Party en Independent Ratepayers’ Association of SA hou elk een setel – altesaam 13 setels.

“Die ANC het na bewering ʼn ooreenkoms aangegaan met die AIC en hulle hou saam 113 setels. Dit kan voldoende wees om ʼn regering te vorm, indien dit nie gedaag word nie,” het Cachalia verduidelik.

“Die DA in Ekurhuleni daag dus alle opposisiepartye, insluitend die AIC, om die mandaat van die kiesers te volg en die ANC te ontsetel. Ons maak ʼn openbare aanbod aan alle partye, insluitend die AIC (uitgesluit die EFF wat besluit het om samewerkend en ondersteunend die opposisie te bly). Indien die DA as speaker en uitvoerende burgemeester in Ekurhuleni aangewys word, sal die DA alle verkose raadslede van opposisiepartye ʼn rol in die burgemeesterskomitee bied en/of voorsitterposisies in oorsigtelike en staande komitees.”

Die burgemeesterskomitee en voorsitters van komitees is altesaam 24 setels. “Die DA sal 11 posisies beklee, insluitend burgemeester, speaker, finansies, korporatief en regte. Die oorblywende partye sal genooi word om deel te word van die plaaslike regering in Ekurhuleni.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petro ·

Mense wat niks weet van hoe politiek werk nie…moet eerder stilbly

Maria van Dieweeck ·

Wens dit kan gebeur, die Oos Rand het verval onder die anc

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.