DA beplan om De Lille aan te kla

Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille (Foto: ANA)

Die Demokratiese Alliansie het Maandag aangekondig dat hy van voornemens is om klagtes aanhangig te maak teen uittredende burgemeester Patricia de Lille kragtens artikel 119 van die Wet op Munisipale Stelsels.

Die party het gesê Melissa Whitehead, geskorste kommissaris van vervoer, en Brett Herron, burgemeesterskomiteelid van vervoer, sal moontlik ook strafregtelik aangekla word.

Natasha Mazzone, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, het gesê die oortredings hou verband met die stad sy BYD-tender en onreëlmatige betalings van R50 miljoen.

ʼn Verslag deur die regsfirma Bowmans, van ongeveer 2 000 bladsye met gedetailleerde getuienis, gegrond op onderhoude, regsvoorleggings en ander insette het aanbeveel dat stappe gedoen word teen De Lille, Herron en Whitehead.

Maroela Media het vroeër berig Shaun August, hoofsweep van die DA-koukus in die Kaapse stadsraad, het verlede Donderdag tydens ʼn chaotiese raadsvergadering bedank ter ondersteuning van Patricia de Lille.

August het ook as raadslid en DA-lid bedank. Nog vier DA-raadslede, Siyabulela Mamkeli, Suzette Little, Greg Bernardo en Thulani Stemele, het ook kort daarna bedank. Die raadslede het aangevoer dat hulle nie langer die DA se behandeling van De Lille kan duld nie.

De Lille, burgemeester van Kaapstad, het vroeër tydens die vergadering harde woorde gehad vir haar kritici en politieke teenstanders.

“Ek het al vir langer as ʼn jaar kwaai aanvalle op my goeie naam verduur en steeds is mense van plan om my te vernietig. Ek het niks behalwe my onwrikbare toewyding aan die mense van Kaapstad gegee nie en die bewyse is in die massiewe steun van die mense reg oor die stad wat die begunstigdes van my verbintenis is. Dit is ʼn minderheid, maar party raadslede is daarop uit om my naam deur die modder te sleep. Maar soos ek voorheen gesê het, ek sal nie afgeskrik word nie,” het De Lille gesê.

De Lille het ook woedend gereageer oor ʼn vertroulike verslag wat uitgelek is en eers later deur die raad gedebatteer moes word. “Dit is uiters onaanvaarbaar dat raadslede inligting met kwaadwillige voorneme uitlek om my naam te beswadder. Maar dit is niks nuuts nie. Ek sal nie breek nie en ek sal nie aan hierdie heftige en rassistiese boelie-taktiek deelneem nie. Ek behou my regte voor ten opsigte van enige bevindings, aanbevelings of gevolgtrekkings in die Bowmans-verslae,” het De Lille gesê.

Sy het bygevoeg dat sekere openbare verteenwoordigers selfs so ver gegaan het as om vals verslae oor haar van die ouditeur-generaal te versprei en dat dit dui op hul minagting van die ouditeur-generaal se kantoor. “Ek sal binnekort strafregtelike aanklagte teen dié partylede aanhangig maak wat hierdie valse nuus op sosiale media gedeel het.”

Die DA het vroeër die week gesê ʼn forensiese verslag wat uitgelek het, skets ʼn donker prentjie oor De Lille se termyn as burgemeester van Kaapstad en dat dit op wangedrag aan haar kant dui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Johan ·

Ek is al so moeg dat rassisme by alles betrek word. Ek dink om die rassekaart te speel ipv om op die feite te konsentreer, dui op n gebrek aan teen-argumente.

Hoe nou....... ·

Ek se weer…..party mense kannie eers die ras kaart reg speel nie. Super Sport Ep 2

Swartwolf ·

De Lille moet waai. Sy is eintlik ‘n PAC moeilikheidmaker nou is sy skielik “madam the mayor”. Nie bevoeg for die posisie nie ook nie strategies toegerus om die taak te verrig nie. Verskil maar eintlik min van die tipiese ANC raadslid.

Karolis ·

DA kan maar totsiens se vir die Kaap met die volgende verkiessing.

Ralph ·

As DA met hul binne party politiek na maande se oor en weer beskuldigings nog geen strydbyle begrawe het, hoe wil hul dan kiesers paai met die 2019 verkiesings. Seker hulle is daadwerklik besig om vele kiesers te verjaag.

rollie ·

Die DA vlek korrupsie oop tot die been maak nie saak wat die gevolge nie. Ek verloor nou alle respek vir De Lille noudat sy ook die rasse-kaart begin speel.

1+1 ·

Waarom vernietig julle die enigste kans wat om het om ‘n aanvaarbare opposisie te bou. Is julle kinders en kleinkinders nie belangriker as julle eer en eie ek nie.

bollie ·

So moet hulle hul oë toeknyp vir gevalle van beweerde korrupsie en dit nie aanspreek en ondersoek nie? Die DA het integriteit en is nie die ANC wat alles toesmeer nie.

John ·

De L is die kans gegun om in style haar hogere amp vaarwel toe te roep, maar toe gryp sy die ras-matras en haar snesie-boks vir effek. Sy het nie Stad Kaapstad alleen bestuur en opgebou nie en sonder haar sal ou Van Donk steeds sy pyp kan rook.

waarheid ·

Ek is al so moeg vir hierdie sepie.
Dankie tog dat hulle hulself vernietig en sodoende die publiek vir die VF laat stem.

Baardman ·

besig om ‘n sterk opposisie op sy knieê te kry soos die anc suid-afrika reeds het.

ore ·

Ag nee me de Lille.Ek het tot nou toe in u onskuld geglo maar u is nou besig om belaglik te raak.Besluit nou of u gaan bedank aldan nie want u speel nou kat en muis met die kiesers.U is besig om die land en sy mense te na te kom.Wees asb nou dapper genoeg en tree met waardigheid uit.U kan mos as ‘n normale burger voortgaan met u hofsake en speletjies met die DA.Lyk my die hele DA is op ‘n selfvernietigings tog,wie gaan die rooi knoppie druk?

Elred Ferreira ·

Dis absoluut skokkend hoe onbeholpe die DA in die afgelope 2 jaar geword het.Ek is werklik skaam om te sê dat ek vir hulle gestem het.Hulle het eenvoudig nie meer n idee wat hulle doen nie!

Erica ·

Kan die tannie nie maar net haar goedjies vat en loop nie, mens kry die idee dit gaan meer oor haar as die gemeenskap wat hulle vergeet daaronder lei.

Patricia Queen of the Cape ·

De L verslaaf aan die aandag, gaan seker te moeilik wees om nie meer die podiums te hê waarvan die groot eie ek verkondig kan word nie. Gaan lankal nie meer oor die DA en kiesers en wat in belang van Kaapstad is nie. Hofsaak op hofsaak, verby versimpeld.

Fryingfrog ·

Die DA sou slimmer gewees het indien hul Patricia, skuldig of nie, se saak tot ná die verkiesing uitgestel het. Hierdie hele debakel doen die DA se beeld baie skade. “Hell has no fury than a woman scorned.”

Mrs H ·

Ag nee wat DA, as julle julle oe uit vee en julle vuil tjanke getjank het, gaan dit te laat wees. Want die verkiesing sal verby wees en almal besef julle het vergeet van die land en burgers se belange. Om Cowboys en Crooks te speel tussen DA en De Lille het nou julle kinderlikke spelletjie geword. Wat n Skaamte!
VF+, baie dankie vir trotse, volwaardigge morele, eerlikke en opregte kennis, advies en leiding sonder enigge vorm van skandes. Saam met julle VF, is daar hoop, groei en welwillende vooruitsigte met regverdigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.