DA besorg oor Mantashe se kernkrag-uitsprake

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energiesake. (Foto: Twitter)

Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne, het na bewering gesê “as iemand kernkrag teenstaan en jy is ʼn raadslid, sal ek jou afdank. Dis eenvoudig – mens kan nie ʼn raadslid wees van iets wat jy nie self ondersteun nie.”

Kevin Mileham, die DA se skaduminister oor minerale hulpbronne, sê Mantashe het Saterdag dié “verregaande uitlating” gemaak by die ANC se Oos-Kaapse verkiesingskonferensie. Dit is glo met verwysing na sy onlangse afdanking van Peter Bekker, raadslid van die Nasionale Kernkragreguleerder (NKR).

“Dit lyk of Mantashe onbewus is van, of moontlik bloot die Wet op die Nasionale Kernkragreguleerder ignoreer. Dié wet omskryf die rol wat die NKR (en sy raad) speel wat betref kernkragtegnologie in Suid-Afrika.”

Volgens die wet is die doel van die reguleerder onder andere om voorsiening te maak vir die beskerming van mense, eiendom en die omgewing teen kernkragskade deur veiligheidstandaarde en regulerende kontrole uit te oefen. “Die wet maak ook spesifiek voorsiening vir ʼn raadslid wat gemeenskappe verteenwoordig wat deur kernkrag-aktiwiteit geraak word. Dít is die rol wat Bekker aangestel is om te vervul.”

Mileham sê Mantashe sê volharding in sy afdanking van Bekker, bloot omdat hy moeilike vrae gevra het oor kernkragveiligheid, is ʼn klap in die gesig van goeie bestuur en ʼn teken van hoe die ANC aanstellings in staatsbeheerde rade en entiteite beskou.

“Mantashe het verder gegaan, in dieselfde toespraak, om Eskom-raadslid Busisiwe Mavuso te veroordeel vir haar kritiek van die ANC voor die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor). Hy het gesê iemand wat aandag soek, val die ANC aan. ‘Ons sit iemand in ʼn raad by Eskom en dan beledig hulle die ANC’, het hy gesê. Dis duidelik dat die waarheid seer maak en Mantashe is bekommerd dat die voortgesette foute van die ANC aan hom uitgewys word.”

Mileham sê die minister is duidelik nie bevoeg om in dié amp te wees nie. “Sy samesmelting van party en staat, sy arbitrêre besluite en sy koerslose energie en mynbou-beleidsraamwerk maak dit onmoontlik vir hom om in die amp aan te bly. Pres. [Cyril] Ramaphosa moet onmiddellik van dié onbevoegde minister ontslae raak, voor hy verdere skade aanrig aan ons verswakkende ekonomie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jack ·

Is daar een bevoeg en bekwame minister ? Nie een het enigsins die kwalifikasies om in bestuur te staan nie,nie eers om die kafee om die hoek se pak afdeling te werk nie.Dan moet hulle besluite neem oor energie,kragopwekking ens.Lagwekkend.

Clifford ·

As ons kernkrag wil aanpak en dit gaan soos Madupe en Kusile gebou word, gaan ons verseker die volgende Chernobyl wees.

Hierdie kan onmoontlik deur ons huidige regering bewerkstellig word.

Nie Verbaas ·

Ramaphosa het nie die ruggraat om van hom ontslae te raak nie. ANC kom eerste en dan die nasie so Mantashe kan aangaan met sy onintelligente besluite.

Schalk ·

Die vreesaanjaende ondeurdenkte besluite en beleid wat mense in beheer neem sonder om die langtermyn effek in ag te neem is verregaande. Die skade wat onbevoegde mense neem vir korttermyn gewin is ondeurdag en kom neer op onverandwoordelike dade wat hulle nooit voor sal gestraf word nie.

Jakes ·

Dit is lagwekkend watter onbekwame en onbevoegte mense as ministers deur Ramaphosa aangestel word. Die groot probleem is die president homself wat n swak leier is en as die kop van n vis vrot is sal sy hele lyf (kabinet) ook vrot wees.

christo ·

Ek het destyds al gesê Ramaphosa is nie opgewasse om Suid-Afrika te lei as staatshoof nie. Sy Ministers, as politieke hoofde en die direkteurs- generaal van staatsdepartemente is nié bevoeg om hulle werk te doen nie. Die kaderontplooiing is nog die ergste ooit. Sy Ministers outokratiese bestuurstyl spreek boekdele. Van demokrasie is daar geen sprake nie. Waar is Mandela se beleid van deelnemende en deursigtige bestuur in die ANC nou? Gwede Mantashe probeer alles deur stoomroller, veral daar waar die omkoopgeld tot die ANC politici se voordeel is. Die uiters duur kragskepe en die prospektering aan die kus is net twee enkele voorbeelde. Hoeveel keer is sy departement al hof toe gesleep en die belastingbetaler moet maar opdok?

VaalDonkie ·

Ek is pro-kernkrag, maar nie as dit soos die res van Eskom gaan nie.

Mieke ·

Ai tog!! ANC is dan ook nog só onvolwasse en fyngevoelig as ‘n regerende party! So arrogant om nie eers hulle eie foute te wil raaksien nie! Red ‘n nasie!!

Sonja ·

Die ANC sal nie ophou totdat alles in Suid Afrika tot niet is nie, dit sluit in elke stukkie gras, boom, rivier, dier en mens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.