DA breëbors oor skoon oudits

Kaapstad (Foto: Zoe Reeve / Unsplash)

Die DA in die Wes-Kaap sê die uitkomste van die ouditeur-generaal (OG) se munisipale oudits is ʼn bewys dat dié party goeie, betroubare dienslewering aan inwoners in sy munisipaliteite bied.

Die jongste bevindings, wat Woensdag deur die OG, Tsakani Maluleke, bekendgestel is, dui aan dat 21 van die 38 munisipaliteite wat skoon oudits in die land ontvang het, in die Wes-Kaap Kaap geleë en onder beheer van die DA is. Verder het twee DA-munisipaliteite in ander provinsies ook skoon oudits ontvang.

“Die positiewe prestasieverslag oor DA-regerings uit die 2021‑’22‑ munisipale oudituitkomste kom ’n week ná ’n soortgelyke bevinding van die Munisipale Finansiële Volhoubaarheidsindeks vir 2022 deur Ratings Africa,” het Eleanore Bouw-Spies, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering en tradisionele sake, gesê. “Die indeks het die Midvaal- en Saldanhabaai-munisipaliteit wat deur DA bestuur word, as die bes bestuurde munisipaliteite in die land gelys, met Kaapstad wat as die enigste finansieel lewensvatbare metro in Suid-Afrika na vore gekom het.” Isaac Sileku, die DA se woordvoerder oor plaaslike regering in die Wes-Kaap, sê ondanks die algehele sukses van munisipale oudits in dié provinsie, is daar steeds munisipaliteite – wat nie deur die DA bestuur word nie – wat ver tekortskiet.

“Die Beaufort-Wes-, Kannaland- en Laingsburg-munisipaliteit bly in besonder steeds problematiese gebiede.

“Die regstelling van Suid-Afrika se kwessies begin op plaaslike regeringsvlak, en deur die voortdurende voorsiening van skoon en betroubare bestuur in die Wes-Kaap, sal ons ’n blink voorbeeld vir die res van die land bly,” het Sileku gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat vier munisipaliteite in KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap elk ook skoon oudits gekry het, gevolg deur die Oos-Kaap met drie skoon oudits, en Gauteng, Limpopo en Mpumalanga met twee skoon oudits elk. Nie een munisipaliteit in die Vrystaat of Noordwes kon ʼn skoon oudit behaal nie.

Die Tshwane-metro het ʼn verswakking getoon deur ʼn ongunstige ouditverslag van die OG te kry. Volgens Maluleke beteken dit dat die finansiële verslae wat dié metro in die betrokke boekjaar ingedien het, onbetroubaar is en nie vir oorsig of besluitneming gebruik kan word nie.

Maluleke het Woensdag gesê sonder behoorlike finansiële beplanning, kontroles en verslagdoening kan munisipaliteite nie dienste lewer nie. Munisipaliteite kan hiersonder ook nie verantwoordelik met belastingbetalers se geld te werk gaan of verantwoording vir hul besteding doen nie.

Die Suid-Afrikaanse Regeringsvereniging (Salga) het intussen ʼn beroep gedoen op munisipaliteite wat swak oudits behaal het, om hard te werk om power munisipale finansiële bestuur om te keer om dieselfde uitkomste as die munisipaliteite te bereik wat positiewe oudits behaal het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Jakkie ·

As jy net jou werk deeglik doen (waarvoor jy salaris ontvang) sal jy ‘n skoon oudit ontvang. Dit is hulle werk en word hulle betaal daarvoor. Sou hulle iets ekstra doen kan dit aan ‘n groot klok gehang word.

Dit help nie die munisipaliteit ontvang ‘n skoon oudit en daar is slaggate, lang rye by verkeersdepartement, verkeerde meterlesings, ongereelde vullisverwydering ens. ens. nie.

Fran ·

Genade, gee eer waar dit toekom! Ten minste doen hulle iets reg! Iets om voor dankbaar te wees!

Republikein in die Wes Kaap ·

Goed gestel! Voor1994 was enigiets anders ‘n skande.

gatgogga ·

Ja, ou Jakkie. Jy MOET kla. Dit lyk my dis al wat julle nog kan doen.

Jakkie ·

Wys net waarheen standaarde geval het. Ek kla nie, noem net feite as belastingbetaler

Republikein in die Wes Kaap ·

Inderdaad. Is inwoners tevrede met dienslewering?

gpsa ·

Mense in die Kaap was slim genoeg om vroegtydig die DA in te stem, tewyl daar nog kans was vir redding. Mense in Pretoria wil net fout vind in die DA, sal nie maklik verander nie.

Gert ·

Salomo se tempel gaan eers herbou wees voor ongeskooldes ophou om hul toekoms te verruil vir T hemde en kospakkies.

Catherina ·

Bly ons lewe in DA deel! Onlangs vra iemand van Gauteng watter paaie hulle in Kaap moet vermy vir gate in pad. Hulle kom hier op vakansie. My antwoord…none. You will be in DA country!!!

Samuel ·

Ten minste gebeur goeie goed in die DA beheerde gebiede. Baie rede om breë bors te wees.

Daisy ·

Ons was nou vir amper ‘n week in Ballito.
Mens weet nie eers wanneer die krag af is nie behalwe as jy by ‘n groot generator wat aan is verbyloop, dan besef jy die krag is moontlik af.

Shakespeare ·

……en 95% van ANC munisipaliteite het VROT oudits. Welgedaan DA.

gpsa ·

Goeie prestasie DA. Hulle is ons enigste politieke hoop, hierdie is goeie voorbeeld. Vir al die af duimers, gee julle opinie oor wie ons politieke party van hoop is.

Jaco ·

Net vreemd dat dieselfde DA in Kaapstad na 7 jaar se gesukkel nog nie die 15 onwettige huiswinkels in my woonbuurt toegemaak het nie. Klagtes oor plakkers word weer beantwoord met “ons mag niks doen nie want dan skend ons menseregte”. Darem net vreemd dat die ANC beheerde munisipaliteit in Bloemfontein wel optree teen plakkers daar.

Herman L ·

Die DA het baie skietgoed om aan die stemvolk te verkoop. Die sukses wat hulle hiermee gaan behaal, sal ‘n groot uitwerking op aanstaande jaar se verkiesing hê. Kom ons hoop dat hulle goed hiermee sal vaar. Baie hang natuurlik af hoeveel mense oortuigbaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.