DA bring mosie van wantroue teen Zuma

Mmusi Maimane, leier van die DA

Mmusi Maimane, leier van die DA

Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê die mosie van wantroue wat sy party Donderdag in die parlement teen pres. Jacob Zuma bring, bied ʼn keuse aan die 400 lede in die nasionale vergadering tussen Zuma se voorgesette wurggreep op die land, of die ontwikkeling van Suid-Afrika en haar mense.

“Die keuse tussen Zuma en Suid-Afrika is eenvoudig en diepliggend. Pres. Zuma se handelsmerk van korrupsie, ekonomiese wanbestuur en leuens, kan nie meer voortduur langs die projek om ʼn beter Suid-Afrika vir almal te bou nie,” het Maimane in ʼn verklaring gesê.

Die Demokratiese Alliansie het aangedui dat hy die mosie van wantroue teen die president wil bring nadat die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se sogenaamde staatskapingsverslag bekend gemaak is.

Maimane het verwys na voormalige adjunk hoofregter Digang Moseneke wat gesê het dat ʼn mosie van wantroue teen die president en die kabinet ten doel het om die president “aanspreeklik te hou” voor die nasionale vergadering wat hom of haar verkies. “Die Grondwet stel nie ʼn tyd of voorwaardes wanneer die nasionale vergadering mag stem oor ʼn mosie van wantroue in die president nie.”

Maimane het gesê om Donderdag se mosie van wantroue te beskryf as “ligsinnig”, is om die uitvoerende oorsigtelike owerheid van die nasionale vergadering te ondermyn en dit wys op ʼn noue begrip van die Grondwet.

Maroela Media het vroeër berig Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het die mosie van wantroue, deur die DA, as “ligsinnig” beskryf.

Die ANC se parlementêre koukus het Woensdag gesê die Demokratiese Alliansie se voornemens, om Donderdag ʼn mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma in te dien, is ʼn misbruik van die parlementêre stelsel en die kiesers.

“Sedert die aanvang van die huidige termyn van die parlement, wat nou net meer as twee jaar aan die gang is, is sewe mosies van wantroue al deur die opposisie ingedien,” het die ANC in ʼn verklaring gesê.

Maimane het dit egter benadruk dat die kwessie van pres. Zuma nie ʼn saak vir Luthuli House is om intern te hanteer nie, want die enigste huis met ʼn grondwetlike mandaat en verantwoordelikheid om op te tree, is die nasionale vergadering. “Dit is daarom die lede van die ANC in die nasionale vergadering, wat hul mandaat van die mense en die Grondwet kry, se plig om op te tree kragtens die hoogste wet in die land en om te reageer op die versoeke van die mense dat pres. Zuma uit sy amp verwyder moet word.

“As die Demokratiese Alliansie versoek ons nie ʼn verandering van regerende party nie, dit is vir die mense om te besluit in 2019. Ons versoek is nou om seker te maak dat die kantoor van die president beset sal word deur ʼn man of vrou wat die kantoor en die wette van die land respekteer,” het Maimane bygevoeg.

“Donderdag se mosie van wantroue bied aan die ANC die geleentheid om te wys dat hy luister en dat hy die nederige organisasie is wat hy beweer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jordaan ·

ANC het reeds aangedui hulle stem weer as ‘n groep om Zuma te behou. Ons sal sien of dit weereens die sogenaamde goeie ANC lede soos Gordhan insluit. Die vorige keer het hulle hul almal maar soos skape agter Zuma geskaar

Marcel ·

Die DA kan die ding maar bring soveel keer soos hulle wil, ek dink Zuma het baie goed op sy mede ANC lede asook hulle op hom so nie 1 kan iets aan die ander doen nie. Dis hoekom die ANC nooit teen sy eie sal stem nie.

Johann ·

Julle kan net sowel n MOSSIE in die parlement loslaat en hoop hy tswerts op stortkop se kop terwyl hy weer n biekie dudu soos tydens Gordan se begrtings toespraak. Van julle MOSIE gaan net n geleentheid kom qat NUMBA WHONE weer met sy arrogante grynslag daar gaan sit en ons uitlag! Terminaal siek aan onaantasbaarheids sindroom

Tong innie kies ·

Ek stem saam die vorige 2 kommentare.Hier gaan net mooi NIKS van kom nie!Musi kan dit nog n miljoen keer doen maar hy sal geen sukses behaal nie!Ten minste probeer hy.

Hendrik ·

Ja nee die DA het nog nie geleer dat ‘n opposisie minderheid net ‘n geraas kan maak en niemand/niks kan uitstem nie. Zuma sal verwyder word as dit die ANC pas op hulle eie tyd. …

hans ·

Ag die wantroue van zuma kom van al jaaaare terug.Die msuni moet wakker word.

Grassie ·

Mmusi gaan net tyd mors, eintlik gaan hy sy eie saak benadeel. Die ANC weet as so ‘n mosie slaag sal die hele ANC-struktuur soos ‘n kaartehuis inmekaartuimel. Hulle word dus nou verplig om hulle eenparig agter Zoempas te skaar, of hulle van hom hou of nie. Dit gaan die faksie wat agter die skerms werk om van Zuma ontslae te raak se poging baie vertraag, hulle kan hom mos nie vandag ‘n stem van volle vertroue gee en hom more in die pad steek nie – dit sal hul geloofwaardigheid skend. Opposisiepartye moet eerder aanhoudend druk op die regering plaas deur Zuma se tekortkominge uit te wys en daardeur die ander faksie se saak te sterk. Ou Moesie se mosie moes maar liewers ‘n bietjie gewag het.

John ·

Alweer Mmusi se geskreeu en Zuma se laggie. Spaar ons dit. Miskien moet De Klerk en kie verplig word om elke sitting van die parlement by te woon waarna hulle dan ‘n volledige verslag moet skryf wat op alle Afrikaanse koerante se voorblaaie moet verskyn…. en ‘n groot foto van hulle saam met hul laggende president…

Henry ·

Foeitog.
DA se aandagsoekende pogings het slegs een gevolg – om die ANC saam te snoer en Zuma teen aanslae van buite te verdedig.
Geen mosie deur Moesie of enige ander groepering buite die ANC, sal Zuma en sy makkers ooit bedreig nie.
Die ANC is die enigste organisasie wat uiteindelik van die ou ontslae kan raak.

E.K. - ek sê net!(alweer!) ·

Waarom val mense mnr Maimane altyd persoonlik aan as hul eintlikontevrede is met ZUma en sy regering. Wat doen die VF+ sover? Lees tog wyer en gaan KYK en sien wat die DA al verrig het. Jinne tog as jy nie vir hul wil/wou stem is dit jou saak maar om hul gedurig af te kraak is regtig belaglik! Die tipe kommentaar darem….Die DA soek aandag, die DA dit en die DA dat…kom by!

DMC de Koker ·

Feit is die DA moet ook ontbloot word. Hulle is nie verhewe bo kritiek nie.

Henry ·

Is eintlik heel eenvoudig.
Moesie is leier van die DA, daarom sal hy logieserwys moet pa staan vir die DA se doen en late. Is mossie persoonlik nie.
Moesie moetie so baie mosies indien wat geen kans op sukses hettie.
Wat die VF+ doen of nie doen nie, is mossie ter sprake nie.

E.K. - ek sê net! ·

DMC – ontbloot – met betrekking to wat? Asb tog “put your money where your mouth is” kry jou feite en bewyse agter mekaar en kla hul dan aan. Moenie lukrake kommentaar wat absoluut niks bydra tot die gesprek hier lewer nie.

lettie ·

Ek bid dat die ANC die skille van hul oe afhaal en besef dis die mense van SA wat finansieel ten gronde gaan, werksverliese ondervind en werkskepping wat daal.

Wouter ·

E.K. Ek stem saam jou. Die klomp grootbekke hier wat Mmusi so aanval sit net op hul gatte en lewer negatiewe kommentaar. Waar is hulle party-tjie op die map. En hoekom hoor ons niks van hille nie. Wees bly iemand staan tenminste op teen Zuma en sy gespuis.

E.K. ·

Wouter, ja ek glo die wat nou weer nonsens skryf het GLAD nie eers daardie skakel van my gelees nie. Mense moet net wakker word en as jy nie iets kan bydra tot ‘n gesprek wat actually SIN maak moet jy liefs stilbly.

Francie ·

Ek dink dis meer die beginsel wat hier geld, ‘n simboliese gebaar om die ANC en Zuma te laat besef dat die verslag wel deeglik van kennis geneem word.

John ·

Die mosie van wantroue het wel die BBC-hoofnuus gehaal en Karolus se repliek was veelseggend. Pres Zuma se vliegtuig draai sy neus nou al vanself oos, want die Weste is nie so opgesit met hom soos sy ANC-finansieelafhanklikes nie. Dit sal interessant wees om te sien hoe Trump reageer as Zuma sy ‘poor African’- rol voor hom probeer vertolk. Ons wag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.