DA bring regstappe ná beweerde aanranding deur ANC-lede

Mmusi Maimane

Mmusi Maimane

Die DA sal regstappe neem nadat sommige van sy lede glo Vrydag deur ANC-ondersteuners aangerand en besteel is terwyl hulle besig was om voor te berei vir die veldtog van die Tshwane-burgemeesterskandidaat, Solly Msimanga.

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Saterdag op die Solomon Mahlangu-plein in Pretoria gesê ANC-ondersteuners het alles in hul vermoë gedoen om die DA se voorbereiding Vrydag te ontwrig. Volgens Maimane het die DA die gebruik van die plein bespreek en is hulle deur die Tshwane-metro toestemming gegee om daar gereed te maak vir hul veldtog.

“Ten spyte daarvan het die burgemeester van Tshwane opgedaag, vir sy eie geleentheid begin regmaak en ons probeer keer om voor te berei,” het Maimane gesê.

“Toe die skare omstreeks 17:00 verdaag, het hulle bottels na DA-ondersteuners en personeel gegooi, wat nog besig was om reg te maak. Hulle het ons oudio-visuele toerusting vernietig en persoonlike besittings gesteel. Die skare het daarna ons lede met klippe en bakstene bestook. In die proses is 12 van ons mense ernstig beseer, onder andere ʼn swanger vrou,” het hy gesê.

Volgens Maimane het ʼn groep van die DA-ondersteuners in ʼn klein kiosk geskuil om weg te kom van die aggressiewe ANC-groep. “Toe die aanvallers uitvind hulle is in die kiosk, het hulle ʼn brandblusser binne-in gespuit. Die groep insluitend ʼn ma met ʼn klein babatjie by haar, het erge asemhalingsprobleme gehad.”

Maimane het gesê nog ʼn groep ANC-ondersteuners het skielik stokke en swepe uitgepluk en DA-lede begin aanrand. Hulle het na bewering ook hul selfone gesteel. Die DA-lede het desperaat die polisie ontbied om hulle te kom help, maar die Tshwane-polisie “het dit nie nodig geag om ons te kom help nie”, het Maimane gesê.

Hy het bygevoeg die ANC se gewelddadige optrede is bloot ʼn bewys van hoe bang die ANC vir die DA en hul burgemeesterskandidaat is. “Ons sal nie afgeskrik word nie. Ons het ʼn plan vir Tshwane wat verandering teweeg sal bring en ons kan hier wen tydens volgende jaar se plaaslike verkiesing,” het Maimane gesê.

Hy het gesê die DA sal die oorblywende foto’s en beeldmateriaal wat hulle nog in hul besit het, gebruik om strafregtelike klagte teen die aanvallers te bring. “Ons sal ook siviele verrigtinge voor die Verkiesingskommissiehof vir oortredings van die verkiesingswet bring, insluitend die onwettige voorkoming van die hou van ‘n politieke vergadering,” het hy gesê. ʼn Verdere siviele eis sal ook teen die Tshwane-metroraad en polisiediens ingestel word vir die miljoene rande se skade wat gely is.

Die DA het Saterdag sy veldtog by die Solomon Mahlangu-plein voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter V ·

Wat daar gebeur het is presies wat gaan gebeur as di anc mag moet afstaan as hulle eendag die meerderheids stem verloor,dis barbaars wat daar gebeur het, kom ons kyk of Zuma kommentaar gaan lewer,

Fanie ·

Die ANC is besig om hulle self goed uit te skop met hulle barbaarse optredes. Hulle arrogansie is by verre onbeheersd.

Jz ·

Van Zuma sal jy net n dawerende stilte hoor , want hy like dit en sal nie sy eie mense tereg wys nie,

pop ·

Zuma en al sy trawante gaan mos nou nie iets ter verdediging van die DA se nie. Hulle hits dit aan. Maar een of ander tyd gaan selfs sy ondersteuners moeg raak van die ANC se korupte maniere

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.