‘DA-burgemeester het ʼn hart vir gemeenskap, familie gehad’

Marlene van Staden (Foto: Facebook / Marlene Vermaak van Staden)

Marlene van Staden, die DA-burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in Limpopo wat Donderdag haar stryd teen kanker verloor het, het absoluut ʼn hart vir haar gemeenskap en familie gehad, het haar jarelange vriendin en DA-koukusleier in die Limpopo-wetgewer, Desiree van der Walt, gesê.

“Sy was ʼn gemeenskapsmens en so lief vir haar gesin en haar familie. Selfs wanneer dit in haar beroep moeilik was om antwoorde te gee of wanneer ons [die DA] nie iets aan die mense kon lewer wat hulle gevra het nie, het sy altyd die moeilike vrae probeer beantwoord en altyd gekyk waar en hoe sy wel kan help,” het Van der Walt aan Maroela Media gesê.

“As vriendin is dit vir my ʼn groot slag. Marlene het ongelooflike positiwiteit en energie uitgestraal. Sy was altyd, altyd bereid om te help – nooit negatief nie – altyd gewillig. Sy was vol energie, van die môre tot die aand, sewe dae ʼn week. Sy was altyd betrokke by haar familie en in die gemeenskap.”

Vir harde werk het Van Staden (42) glo ook nooit teruggestaan nie – en sy sou ʼn taak nie onafgehandel laat nie.

Van der Walt sê voorts dit was altyd lekker om in Van Staden se teenwoordigheid te wees – en selfs wanneer daar oor moeilike of ernstige kwessies vergader is, kon Van Staden iemand altyd laat lag.

Marlene van Staden. (Foto: Facebook / Marlene Vermaak van Staden

“Ons gaan haar positiwiteit, ongelooflike eerlikheid en energie mis.”

Van der Walt sê Van Staden was ook ʼn besonderse mens vir haar gesin en familie, vir wie haar afsterwe ook swaar sal wees om te verwerk.

Tog glo sy dat haar geliefdes ook berusting het, aangesien “niemand ʼn lang lyding vir Marlene wou hê nie”.

“Sy was ons sprankelsterretjie.”

Maroela Media het vroeër berig dat fase 4 drievoudige negatiewe borskanker in September verlede jaar by Van Staden gediagnoseer is nadat sy ’n knop in haar linkerbors ontdek het. Sy het in Mei vanjaar op haar Facebook-blad geskryf dat sy altesame 16 chemoterapiesessies tussen September verlede jaar en Februarie ondergaan het.

Sy is verlede maand met virale breinvliesontsteking, ʼn moontlike newe-effek van kanker, in die hospitaal opgeneem.

Marcelle Maritz, leier van die Vryheidsfront Plus in Limpopo, het ook haar medelye met Van Staden se afsterwe betuig.

“Sy was ʼn energieke, hoogs bekwame jong vrou wat haar merk in die politieke arena gemaak het. Die VF Plus betuig hiermee sy innige meegevoel met haar eggenoot, familie en vriende,” het Maritz gesê.

“Die party se hart gaan uit na haar twee seuntjies van onderskeidelik drie en sewe jaar oud. Mag die Here haar gesin in hierdie hartseer tyd vertroos en vrede gee.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

Enorme verlies vir ons. Watse gemors gaan nou in haar plek aangestel word. Sterkte aan die familie. Sy was n diamant.

Toergids ·

Die dame se afsterwe, is ‘n geweldige verlies vir haar familie, vriende, dorp asook vir die land.

Dit is mou op rollers soos sy wat mens hoop gee vir die toekoms in die land, kom ons onthou haar deur om self moue op te rol!!!

honeybee ·

So jammer, sy was n yster vrou. Simpatie aan haar familiie en vriende, asook die mense van Nylstrrom. Dis n groot verlies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.