DA-burgemeester verloor kankerstryd

Marlene van Staden (Foto: Marlene Vermaak van Staden/Facebook)

Marlene van Staden (42), die DA-burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in Limpopo, is Donderdag ná ’n lang stryd met kanker oorlede.

Sy is verlede maand met virale breinvliesontsteking, ʼn moontlike newe-effek van kanker, in die hospitaal opgeneem.

Fase 4 drievoudige negatiewe borskanker is in September verlede jaar by Van Staden gediagnoseer nadat sy ’n knop in haar linkerbors ontdek het.

Sy het in Mei vanjaar op haar Facebook-blad geskryf dat sy altesame 16 chemoterapiesessies tussen September verlede jaar en Februarie ondergaan het.

DA-leier John Steenhuisen sê Van Staden was ʼn “baanbrekerpolitikus” en “staatsamptenaar van formaat wat geweldige struikelblokke in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit probeer oorkom het”.

“Van Staden was diep geliefd deur haar party, haar provinsie en haar koukus waar sy ʼn ongelooflike dinamiese burgemeester was wat die DA se waardes en beginsels uitgeleef het,” sê Steenhuisen.

“Van Staden was bekend daarvoor dat sy instrumenteel was in die smee van verhoudings met burgerlike organisasies om bestuur beter te bemagtig en te verbeter.”

Marlene van Staden saam met Risham Maharaj (Foto: Risham Maharaj/Facebook)

Steenhuisen beskryf Van Staden as toegewyd en veerkragtig en sê “haar sterk oortuiging en pure vasberadenheid is versag deur ʼn wonderlike sin vir humor en vriendelikheid”.

Risham Maharaj, die DA se politieke hoof vir Thulamela, sê Van Staden het baie ure op grondvlak deurgebring om kwessies te bestuur en die gemeenskap te help.

“Sy het hard baklei vir die mense van Modimolle-Mookgophong en altyd vir hulpbronne en haar munisipaliteit geveg. Sy was ʼn uitgesproke vrou en sou senior mense binne die regering uitdaag indien hulle die munisipaliteit te na kom,” sê Maharaj.

Van Staden word onthou as ’n “raakvatter” en iemand “wat elke kamer verhelder met haar positiwiteit”.

“Marlene was geliefd by baie mense en haar energie, entoesiasme en lewenslus sal baie gemis word deur mense landwyd op wie se lewe sy ʼn uitwerking gehad het,” sê Maharaj.

Van Staden word oorleef deur haar man en twee jong seuns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Skappie ·

Sterkte aan haar man en seuns en die res van die familie en almal wat haar geken het. Mag onse liewe Heer julle deur hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.