DA dalk hof toe oor administrateur vir Tshwane

Randall Williams is die DA se nuwe burgemeesterskandidaat vir Tshwane. (Foto: DA)

Die DA het Vrydag aangedui hy gaan na alle waarskynlikheid hofstappe doen om die ANC in Gauteng te keer om die sukkelende Tshwane-metroraad onder administrasie te plaas.

Randall Williams, DA-raadslid wat dié party intussen as sy burgemeesterskandidaat voorgestel het, het Vrydag gesê die metroraad het nie die voorgeskrewe kennisgewing van die minister van samewerkende regering oor dié stap gekry nie.

Williams sê die Gautengse LUR vir samewerkende regering, Lebogang Maile, se planne om Saterdag met die personeel te vergader en ʼn administrateur vir die stad aan te stel, is dus voortydig.

“Die DA wil dit duidelik maak dat die DA-geleide Tshwane-metro nié onder administrasie geplaas is soos wat Maile gister aangekondig het nie,” het Williams gesê.

“Tensy en totdat die gepaste bepalings nagekom is om die stad onder administrasie te plaas, word die raad se gewone werk voortgesit deur diegene wat demokraties verkies is.”

Williams sê die party gaan alles moontlik doen om te keer dat die stad wél onder administrasie geplaas word.

“Ons gaan die ontbinding van die raad ten alle koste probeer vermy. Dit gaan ʼn uiters slegte presedent vir alle minderheid-munisipaliteite ná volgende jaar skep.

“Ons het regsadvies ingewin en gaan waarskynlik vra vir ʼn hofbevel om die ontbinding van die munisipaliteit te stuit. Die proses wat Maile gevolg het, was foutief en onbehoorlik.”

John Steenhuisen, die DA-leier, het die aankondiging deur Maile en die Gautengse premier, David Makhura, ʼn “magsgryp” genoem en het gesê die ANC span met die EFF saam om Tshwane oor te neem as proeflopie vir ʼn samewerkingsooreenkoms op nasionale vlak.

“Dit was uit die staanspoor hulle bedoeling om die stad onder administrasie te plaas sodat die opposisie hulle hande – deur ʼn agterdeur – op die stad se hulpbronne kan kry,” het Williams gesê.

Die DA is sedert 2016 aan die stuur van die Tshwane-metroraad in ʼn toenemend pieperige alliansie met ander partye, nadat hy die ANC ontsetel het. Steenhuisen sê die ANC en EFF het herhaaldelik en doelbewus opgetree om die metroraad te verhoed om ʼn kworum te bereik en Makhura só in staat te stel om die raad te ontbind.

Die DA voer nou al maande lank ʼn opdraande stryd in Pretoria, maar het die afgelope paar weke volgehou hy is ten volle verbind tot die totstandkoming van ʼn nuwe koalisie- of minderheidsregering – met Williams aan die stuur.

Die raad kon nie verlede maand, ná Stevens Mokgalapa se bedanking as burgemeester, ʼn nuwe leier kies nie en het ook die spertyd gemis om sekere begrotings goed te keur.

Uit die 214 setels in die Tshwane-metro het die DA 93, die ANC 89 en die EFF 25. Verskeie kleiner partye beklee die res van die setels.

ʼn Raadsvergadering benodig ʼn kworum van minstens 108 lede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

henndrik ·

Die slagate en buite werking verkeersligte kry nie nou aandag nie so miskien sal dit beter wees as die mislikepaliteit onder administrasie geplaas word.

Luister ·

Dit is soos ‘n motor met jou regterhand bestuur. Baie moeilik as jy nie die samewerking van jou linkerhand het nie. Blameer jy die DA dat hulle nie behoorlik kan bestuur nie? Ek is nie ‘n ondersteuner van hulle nie, maar ek verstaan hulle frustrasie.

J ·

As belastingbetaler in Tshwane eis ek dat geen belasting geld VERMORS sal word op salarisse vir ‘stakende’ raadslede nie …( van enige en ALLE partye).

Ons ken almal die wet van “NO WORK NO PAY” ….. en PAY BACK THE MONEY! …. wat hulle reeds ontvang het vir GEEN WERK gedoen sedert die vorige verkiesing. …. elke uitstap, …. elke doelbewuste ontwrigting, elke DOM VOORSTEL en besluit.

Wie wil betaal vir sulke POLITIEKE BOGTERY!

Ons soek apolitiese (professionele) Burgemeester, Speaker en Tesourier!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.