DA dien hofdokumente in oor 783 Zuma-aanklagte

Pres. Jacob Zuma (31 Mei 2017) Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die DA het Maandag dokumente by die appèlhof ingedien in verband met pres. Jacob Zuma en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se aansoeke om verlof tot appèl teen ʼn hooggeregshofbevel om korrupsieaanklagte teen Zuma weer aanhangig te maak.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het gesê die party het hul betooghoofde ingedien waarin hulle aanvoer Zuma en die NVG se aansoeke “het geen meriete nie” en moet met koste van die hand gewys word.

“Ons voer aan dat albei aansoeke nie voldoen aan die vereiste dat daar ʼn redelike kans op sukses is en of dat daar dwingende redes bestaan hoekom dit aangehoor moet word nie. Dit is in belang van geregtigheid, die korrekte prosesse en die Grondwet dat daar voortgegaan word met die vervolging soos deur die hooggeregshof in Pretoria beveel,” het Selfe gesê.

“Dit is van uiterste openbare belang dat mnr. Zuma teregstaan op die 783 aanklagte van bedrog, korrupsie, rampokkery en geldwassery waarvan hy beskuldig word. Ons is positief dat die appèlhof gereed is om die saak spoedig aan te hoor en ons sal op 15 September aanvoer dat albei appèlaansoeke geweier moet word.”

Zuma en die NVG appelleer teen die hooggeregshof se bevinding van April 2016 dat 783 strafregtelike aanklagte weer teen die president ingestel moet word. Die appèlhof het in April gesê Zuma en NVG se aansoeke sal op dieselfde dag aangehoor word. Die hof het Zuma en die NVG tot 5 Junie gegee om hul betooghoofde in te dien.

Die DA voer al ʼn byna agt jaar lange stryd om weer die 783 aanklagte oor die sogenaamde spioenasiebande teen Zuma in te stel. Volgens die DA was Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, se besluit in 2009 om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg nie irrasioneel, onredelik en geneem met ʼn versteekte politieke motief.

Mpshe het die saak laat vaar nadat hy na die bandopnames, gesprekke tussen Bulelani Ngcuka, Mpshe se voorganger, en Leonard McCarthy, hoof van die Skerpioene, geluister het. Mpshe was glo van mening dat McCarthy die proses vir versteekte doeleindes gebruik het, naamlik ʼn politieke komplot om glo te verhoed dat Zuma staatspresident word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

zoom zoom ·

Niks van die aanklag gaan ondersoek word en dit gaan jare vat as daar ‘n ondersoek sou wees. Sapd is bang vir zuma

Magda ·

KOM DA – hoop die keer kom daar iets van alle julle klagtes teen ANC – al wat ons lees is – daar is klagtes ingedien maar dan hoor ons ook nooit weer iets daarvan af nie.

Vryheid ·

Vreemd dat zuma so min aanklagte teen hom het. Wat se verskil maak dit inelkegeval die DA sukkel al jare om dit deur te voer met bitter min sukses. Die hele regering is vrot tot op die been, hulle sal mekaar beskerm tot einde van dae

Andre ·

Magda. Dis nie nuwe klagtes nie… lees weer die artikel. Hulle hou al juis aan vir 8 jaar…

Bekommerd ·

Is dit nie moontlik om die saak na die “ICC” toe te neem nie. ? (Voordat SA bedank daarvan)

Rynhardt ·

DA, julle speel die publiek vir jare met jul aanhoudende, misleidende hofaansoeke teen Zuma! Julle weet dat Zuma nie vir 783klagtes in die tjoekie gaan beland nie! Daar is magte agter die skerm wat Zuma vrywar van vervolging! Daardie ouens wat so lekker vir Gerrie Nel skreeu, ek het vir jou nuus.Daar sal ook niks van kom as hy dit sou hanteer nie, want hul sal hom met die dood dreig! Gister het dit reeds aan die lig gekom dat n persoon wat n geheime stemming teen Zuma wil he, met die dood gedreig is.Kom ek spel dit uit.Gerrie Nel sal nooit ooit n faktor wees wanneer dit kom by Zuma nie.

RB ·

En wat is jou punt?
Hul (DA en AfriForum) doen alles wat hul kan, waarookal hul kan.
Ek sien geen voorstel van jou nie? Gal braak sal nooit ‘n faktor wees wanneer dit be enige iets kom nie.

Sw ·

Presies! Doen partye en burgerorganisasies niks, word daar gekla. Doen hul iets, word hul met soveel negatiwiteit begroet!
Daar is deesdae min positiwiteit waarmee die land regeer word, maar genade, God het nog die laaste sê, nie arrogante leiers en magtige mense nie! Vandag is die magtige mens hier, maar soek jy hom môre, is hy klaar verslaan en verdelg!

Andre van der bank. ·

Please, get real. He is not a bad guy. He is your President, like it or not. Try do do his job, no i don’t think so.

Michael mailovich ·

He might be your pres def not mine just remember in africa the strongest rules one man one vote one time

Arie ·

Ok Carol wat stel jy voor? Gee oor en hardloop weg? Blykbaar het jy reeds oorgegee hardloop nou!

Willem Frost ·

Hierdie aanklagte is al horingoud. Wonder hoeveel nuwe klagte bygevoeg sou kon word? Seker duisende.

Swartkat ·

Ag komaan DA, Zuma lag vir julle , daar gaan niks met hom gebeur met julle mosie van wantroue of enige kriminele klagtes nie. Zuma is nie deur die Guptas gekaap nie , dit is Zuma wat hulle misbruik en gekaap het net soos hy die ANC gekaap het en elke dag gebruik vir sy eie spelletjie Ha, Ha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.